Ons Suid-Afrikaners is glo maar treurige spaarders, wat boonop nie juis binne ons finansiële vermoëns leef nie. Volgens statistieke spaar ons sowat 15% tot 20% van ons inkomste, wat heeltemal
te min is om, byvoorbeeld, vir ons oudag voorsiening te maak. Hoe gemaak as jy nie genoeg gespaar het nie? Hoe spaar jy as jy klaar elke maand sukkel met ’n spul rekeninge en skuld wat handuit ruk?
Kort- en mediumtermyn-spaarplanne
Die eerste stap om beheer oor jou geldsake te neem is om ’n begroting op te stel. En veral om daarby te hou. In ’n begroting sit jy nie net uiteen wat elke maand betaal moet word nie (motor, skoolfonds, medies, ens.), maar jy moet ook bepaal wat jou kort-, medium- en langtermynprioriteite is.
Byvoorbeeld: Is dit vir jou belangriker om vir jou aftrede te spaar (lang termyn), of vir jou kinders se studie (medium termyn)? Neem in ag dat daar “weggesteekte” uitgawes is, soos ’n vinnige koffie op pad werk toe, snoepiegeld vir die kinders, Sondagkoerante … Beplan daarvoor sodat jy nie aan die einde van die maand vasbrand nie. As jy onseker van jou uitgawes is, hou vir ’n maand al jou betaalstrokies. Jy sal kan sien waar jy te veel bestee, veral aan goed wat nie noodsaaklik is nie.
Suzelle Jooste, senior regsadviseur by Ou Mutual, sê jy moet eerste die skuld takel waar regstappe dreig, en daarna dié wat die meeste rente hef. Sy sê al gaan dit broekskeur, móét jy jou skuld delg as jy weer op die been wil kom. As jy een rekening afbetaal het, voeg daardie geld by die bedrag wat jy aan ’n ander rekening afbetaal. Sodoende kom jy vinniger uit jou verknorsing.
Ou Mutual sê ’n goeie manier om jou geld te bestuur is om dit nie te “sien” nie. As jy debietorders vir die meeste uitgawes het, word jy nie in die versoeking gelei om “net die één keer” nie daardie paaiement te betaal nie. Doen dit ook vir spaargeld – as die geld outomaties uit jou rekening verdwyn, kan jy dit nie mors nie.
Vermy “spesiale” aanbiedinge en uitverkopings. Vra jouself af of jy regtig van plan was om daardie goedere te koop. Net as jy van plan was om iets spesifieks te koop is dit sinvol, anders bestee jy net geld aan goed wat jy nie regtig nodig het nie.
Wanneer jy wel geld spaar met iets wat jy gekoop het, moenie dan meer koop nie. Bêre daardie geld wat jy gespaar het. Dit kan help om ’n noodfonds op te bou, of om skuld vinniger af te betaal.
Spaar is die geheim tot finansiële standvastigheid. Ou Mutual beveel aan dat jy spaar ’n prioriteit maak en elke maand minstens 10% van jou bruto salaris (met ander woorde, voor aftrekkings) spaar. ABS Belasting-en-boekhoudienste sê dit is belangrik om so vroeg moontlik te begin spaar. Pravin Gordhan (Suid-Afrika se voormalige minister van finansies), sê Suid-Afrikaners moet hulself bemagtig deur hul finansiële kennis te verbeter.
“Gewone mense moet weet dat finansiële instellings tans regtig in gierige monsters verander het wat wins najaag. Hulle wil nie ryk word deur ’n balans te tref tussen eie gewin en die regte stel etiese en morele beginsels nie.”
Finansiële instellings moet mense eerlik oor hul produkte inlig. Hy sê ons moet onsself opvoed sodat ons kritiese vrae oor finansiële produkte kan vra en ons eie finansiële lot kan bepaal. Weet jy byvoorbeeld hoeveel bankkoste jy per maand betaal? Kan jy dalk spaar deur van bank of selfs net rekeningstrukture te verander? Het jy regtig ’n Platinum-rekening nodig as ’n Goue rekening eintlik dieselfde voordele teen verlaagde koste bied?
Versekering kan ’n duur, maar nodige uitgawe wees. Maar kan jy dalk ’n beter premie beding? Het jy byvoorbeeld lank nie ’n eis ingestel nie, of die veiligheidmaatreëls by jou huis verbeter? As jy ’n geen-eis-uitbetaling van ’n versekeringsmaatskappy ontvang, spaar dit eerder as om dit op onnodige goed uit te gee.
Dag-tot-dag besparings
Ou Mutual gee hope raad vir daaglikse besparings. Dit is inderdaad baie makliker om klaarbereide kos te koop en vinnig in die mikrogolfoond te druk, maar deur self kos te maak kan jy baie spaar – én gesonder eet.
• As jy self kook, kan jy sorg dat daar iets oor is vir die volgende dag se middagete. Jy sal skrik as jy optel hoeveel jy bestee as jy elke dag ’n toebroodjie vir werk koop.
• Moenie te veel varsprodukte op ’n slag koop nie. Te gereeld is daar groente/vrugte in die yskas wat oud geword het.
• Wanneer jy iets by die groot maat kan koop, doen dit. Dikwels kos ’n paar items dieselfde as ’n groot pak van ’n betrokke produk.
• Beplan jou inkopies en etes vir die week en maand – sodoende koop jy net wat jy nodig het en nie onnodige goed vir “as jy dit dalk nodig het nie”. Vat ’n inkopielysie saam winkels toe – dit help om jou op koers te hou.
• Jy hoef nie noodwendig die heel goedkoopste, generiese produkte te koop nie, maar kan minder luukse produkte kies. Het jy regtig die heel duurste koffie nodig, of is die een wat ’n paar rand minder kos ook lekker?
• Maar onthou, goedkoop koop, is partykeer duur koop. Koop gehalteprodukte wanneer dit saak maak. Byvoorbeeld: om elke maand ’n effens goedkoper sonneblomolie te koop is nie die einde van die wêreld nie, maar ’n goeie wasmasjien kan jou op die lang duur baie geld en ’n gesukkel spaar.
• Indien jy nie seker is oor ’n aankopie nie, wag en dink ’n dag of wat daaroor na. Jy kry dalk klarigheid oor of jy dit werklik nodig het, en of dit nie dalk êrens anders goedkoper beskikbaar is nie.
• Suid-Afrika se elektrisiteit word al duurder. Eskom het ’n reeks energiebesparingswenke op hul webtuiste, wat insluit: Skakel alle elektriese toestelle af wanneer jy hulle nie gebruik nie, ook selfoonlaaiers. Deur energiebesparende produkte te koop, kan jy ’n aansienlike verskil aan jou elektrisiteitsrekening maak – sekere gloeilampe gee vyf keer meer lig en hou tien keer langer as tradisionele gloeilampe. Was eerder jou klere in koue water, en vermy die tuimeldroër indien moontlik. As jy met vakansie gaan, maak jou yskas leeg en skakel dit af. Skakel ook die geiser(s) af.
Partykeer moet ’n mens besluite neem wat lyk asof hulle ’n groot impak op jou leefstyl gaan hê, maar nie noodwendig so ’n krisis is nie. Die Australiese webtuiste www.savingsguide.com.au stel die volgende leefstylveranderings voor om geld te spaar:
* Eet minder uit.
* Kies ’n kleiner satelliettelevisiepakket.
* Kanselleer jou gimnasiumlidmaatskap en begin stap of draf.
* Sluit by die biblioteek aan, eerder as om boeke te koop.
* Ou Mutual wys daarop dat jy geld kan spaar deur jou motor goed in stand te hou – deur seker te maak jou bande se druk is korrek, kan jy onnodige slytasie voorkom, asook jou petrolverbruik verbeter.
Help jou kinders spaar
Prem Govender sê Suid-Afrika het die derde swakste gevaar in ’n opname oor kinders en geldsake. Pravin Gordhan bevestig dit: “Dit is belangrik dat alle Suid-Afrikaners, van die ouderdom van tien af, verstaan wat dit beteken om te beplan en begroot, hoe om ’n bankrekening oop te maak, en hoe om dit te bestuur.”
Kenners raai aan dat ’n mens spaar pret maak vir die hele gesin, deur te kyk wie elke week die meeste kan spaar. Daardie spaargeld kan in ’n blik in die kombuis gegooi word sodat die gesin hulleself kan bederf wanneer hulle genoeg geld vir ’n luukse het.
Langtermyn-besparings
Volgens Ou Mutual se sesde Besparings- en Beleggingsmonitor (2012) het 37% van stedelike Suid-Afrikaners nog nooit ’n finansiële adviseur besoek nie. ABSA sê die voordele daarvan om ’n adviseur se dienste te benut sluit in:
• Die verkryging van gespesialiseerde, objektiewe raad wat sal voorkom dat jy die verkeerde besluite neem.
• Jy het iemand beskikbaar wat ingewikkelde, tegniese taalgebruik kan ontsyfer.
• ’n Adviseur neem jou individuele behoeftes in ag en kan namens jou beter tariewe onderhandel.
• Daar is ’n middelman wat omsien na jou belange as jy ’n eis moet instel.
• Ou Mutual wys daarop dat voorsiening vir jou aftrede nie eenmalig moet plaasvind nie, maar oor tyd bestuur moet word. Begin so vroeg moontlik voorsiening maak vir jou oudag, en beskou dit as ’n ernstige saak.
Wees slim
Suzelle Jooste sê dit is algemeen bekend dat baie min Suid-Afrikaners eendag gerieflik sal kan aftree. “Indien mense nie op hul oudag van ander afhanklik wil wees nie, sal hulle betyds moet begin spaar.” Sy sê aftreeannuïteite is ’n slim manier om vir jou oudag voorsiening te maak, asook om nou geld te spaar. Sy sê die primêre voordele van aftreeannuïteite is:
• ’n Groot voordeel van die annuïteite is dat dit inkomstebelastingverligting op bydraes bied van tot 15% van jou inkomste wat nie jou aftrede befonds nie.
• Dit bied insolvensiebeskerming. Krediteure kan nie op geld in jou annuïteit beslag lê nie.
• Vir die persoon wat nie gedissiplineerd genoeg is om te spaar nie, help dit om daardie dissipline te skep. Die persoon word ook teen homself beskerm, want hy kan eers op 55 toegang tot die annuïteit verkry, behalwe in ’n geval van ongeskiktheid.
• Aftree-annuïteite kan help om vir bydraes vir mediese skemas ná aftrede voorsiening te maak.
Kortom
Jy kan die kernpunte van die verskeie kenners se raad soos volg opsom:
* Spaar van vroeg af – selfs van kindsbeen af.
* Delg jou skuld so gou moontlik.
* Bepaal jou kort-, medium- en langtermyn-prioriteite.
* Spaar daagliks.
* Hou ’n oog op die toekoms.