“Om ’n draaiende staf in die lug te gooi en te vang, of met Chinese stokkies te eet, is nes ’n huwelik: dit lyk maklik totdat jy dit probeer,” was Helen Rowland se wyse woorde. Wat is die geheim van ’n huwelik wat hou?
Hans du Plessis, Koos Kombuis en Andries Bezuidenhout lig die sluier oor wat vir hulle werk.
Oor trou en perdekoop: Die moeilikste jare van enige huwelik is dié wat op die troue volg. Gary Smaley.
Sy sê net ‘sjoe’
“Ek sou sonder twyfel weer met haar trou, want wie sal my ooit weer só verstaan?” So gesels prof. Hans du Plessis, Potchefstroomse skrywer en direkteur van die ATKV-skryfskool van die Noordwes-Universiteit, oor sy vrou, Magdaleen. “Ek het in die oerjare sestig saam met Magdaleen se broer in Roodepoort skoolgehou. Hy moes iets by haar gaan haal. Seker geld, toe ry ek maar saam, want wat sal ek nou sonder geld alleen in die woonstel maak?”
“Ek onthou sy het in die AJO-kamertjie – die gebou van die Afrikaanse Jeugorganisasie in Minnaarstraat in Pretoria – gestaan en stryk. Sy het haar gebrand en niks meer as ‘sjoe’ gesê nie. Toe weet ek dis my vrou dié. Pretoria en Roodepoort was ver van mekaar af, ver vir die nuwe liefde. Gelukkig was ’n rand genoeg vir petrol in die Volksie Pretoria toe en terug.”
“Toe trou ons, nogal met ’n lewendige band en ’n bastrom, al kan ek tot op heden toe nog nie een step dans nie. My skoonmense is met musiek gebore, my mense sukkel met ‘Siembamba’.”
Hans en Magdaleen se huwelik van oor die 43 jaar is met vier seuns en ses kleinkinders verryk. “Eintlik ses en ’n half: daar is nog een op pad.”
As hy terugkyk, sê Hans, sien hy “die Genade het die groot goed van ons af weggehou en die wonderlike klein dingetjies het ons bymekaargehou. Die huwelik is ’n hele lewe: liefde, eerlikheid, en wedersydse respek – ek bly ek en jy bly jy.”
En wat maak dit alles die moeite werd? “Die liefde.”
Hans se jongste boek verskyn in September. “Die pad na skuilhoek is ’n historiese roman oor ‘n vreemde tyd in ons geskiedenis, die eerste stuk van die Groot Trek in die driehoek tussen Potchefstroom, Parys en Reitzburg. Dis ’n geskiedenis wat die skrywer maar kan romantiseer omdat ons so min daarvan weet. Selfs nou, presies 175 jaar later, weet ons nog nie sonder twyfel waar die Liebenbergs van die moorde buite die huidige Parys se grafte lê nie, of wanneer in Oktober 1836 die slag van Vegkop regtig was nie. Maar oor die liefde van toe kan ’n skrywer maklik droom.”
Oor trou en perdekoop: ’n Vrou is iemand wat haar man sal bystaan in elke krisis wat hy nie sou beleef het as hy nie met haar getrou het nie. Marie Corelli.
Sulke meisies is sexy
“Ek sal beslis weer met Kannetjie trou! Selfs al kry ek ’n aanbod van Kelly Osbourne – ek hou mos van dik meisies,” spot Koos Kombuis, skrywer, sanger en liedjieskrywer van Somerset-Wes. Al glo Koos nie regtig aan trou nie – “eerder in commitment” – is hy en sy vrou reeds 12 jaar getroud.
“Ons was destyds albei in Stellenbosch rond. Kannetjie was besig met nagraadse studie in die regte. Ek het haar ’n geruime tyd in die oog gehad, maar ons het eers op ’n trein op pad na die Oudtshoornfees behoorlik begin gesels. Ek het haar genooi om die hele fees by my te bly. Daar was ’n klein komplikasie: dit het dikwels gebeur dat ek en my female vocalist ’n kamer of ’n bed moes deel, hoewel ons nie ’n verhouding gehad het nie. Ek het vergeet van die vocalist in my bed. Uiteindelik moes Kannetjie saam met ons twee in die bed slaap, met die res van die band langs ons op die vloer. Dit was nie baie romanties nie.”
Koos was nuuskierig oor Kannetjie. “Sy het ’n ander gevoel in my wakker gemaak as enige vorige meisie. Ek was soveel keer smoorverlief, maar hierdie keer was dit minder obsessief. Ek het ’n hunch gehad dat ek vir haar kon lief word.
“Ek dink ons het albei geleidelik verlief geraak. Ek glo jy leer iemand ken as julle saam toer, en ek het haar op ’n backpackers trip na Londen, die Lake District en Skotland saamgenooi. As julle op ’n lae budget reis, eet julle saam ’n sak sout op.”
Koos en Kannetjie het eers saamgewoon en huis gekoop voordat hulle op 19 Desember 1998 by die Muisbosskerm naby Lambertsbaai getroud is. “Dit was ’n fantastiese paartie op die beach. Nie vreeslik grênd nie, ons het die trourok enkele dae voor die tyd by Stuttafords gekoop omdat Kannetjie niks gehou het van die groot, goue gedoente wat sy laat maak het nie. My pa het nog geleef en dit was ’n lekker kans om ons te versoen. My skoonpa het my eenkant geneem en vertel watter soort moeilikheid Kannetjie my sou gee. Jy kan sy beskrywing nie in ’n vrouetydskrif sit nie. Daarna was ek ’n bietjie nervous, want ek het geweet hy ken haar beter as ek.”
Koos verwonder hom nou nog daaroor dat hy ’n vrou gekry het wat in kopiereg spesialiseer. “Dis vir ’n skrywer en musikant van onskatbare waarde. My sake was altyd chaoties. Kannetjie jaag tjeks, reël afsprake, doen my belasting en sulke goed. Ek konsentreer op kreatiewe skryfwerk en liedjies. Ons het ’n vreemde werksverdeling; mense sê sy sit op my kop, maar dis maar net hoe dit werk. Sy is ’n handyman en ek kan nie ’n plug regmaak nie. Ek laat dit aan haar oor en voel nie in my manlikheid bedreig nie.”
Koos en Kannetjie het twee kinders. “Simon word in Augustus elf en Marleen is in Julie nege, wat beteken ons het vanjaar ’n 9/11 situasie. Marleen is vernoem na ’n liedjie van Stef Bos, haar peetpa. Sy’s ’n rabbedoe. Sy klim boom en donder van perde af. Ek dink sy gaan ’n huursoldaat word. Simon speel op die computer. Hy hack in programme in en doen goed wat ek nie verstaan nie.”
“Dis vir my die lekkerste om te kyk hoe die kinders trampolien spring of in die swembad plas, of om saam met Kannetjie ’n boek te lees en in die bed te kruip en daaroor te gesels. Dis die klein goedjies wat ’n verhouding maak of breek.”
Koos was al in die veertig toe hy getroud is. “Baie vroue word kwaad vir mans wat nie wil commit nie, maar ek was vroeër beslis nie verantwoordelik genoeg nie. Vroeg trou is vir my gevaarlik. Moenie in die eerste glans van infatuation trou nie. Gaan oorsee met die girl – vat haar na Namibië, Italië, ervaar situasies waar julle vinnig uit die vuis moet dink. ’n Verhouding is nie net liefdesliedjies nie; dis bloed, gore en guts – jy gaan 24 uur per dag in haar geselskap wees.”
“Ek is bly Kannetjie het eers op my pad gekom toe ek al moed opgegee het dat ek ooit iemand sou kry. Jy het ’n prentjie van die regte persoon in jou kop en dit kan in jou pad staan. As sy nie ooreenstem met die prentjie nie, kyk jy haar dalk mis. Ek het jare lank gedink ek sou met ’n lang, slanke vrou trou. Toe droom ek op ’n dag ek is in ’n verhouding met Isabelle Adjani maar dat ek haar met kort, vet meisies verneuk. Dis hoe dit vir my werk! Ek dink hulle is sexy. Met Kannetjie het ek in die botter geval. My verhouding is nie perfek nie, maar dis die naaste aan perfek wat dit kan wees.”
Koos se nuwe boek, Die reuk van koffie, is nou te koop en hy tree saam met Jak de Priester in Brooklyn Babalaas op.
Armbande se klingel
“Of ek weer met Irma sal trou? ’n Ja! Maar ek dink ons sal dit nou as ’n civil union doen, in solidariteit met ons gay en lesbiese vriende. Die vraag is seker of Irma ook weer sou wou!” Dis hoe Andries Bezuidenhout, sanger, liedjieskrywer, digter en dosent in sosiologie aan die Universiteit van Pretoria, die groot vraag antwoord.
Andries en Irma het mekaar as studente ontmoet. “Ek het haar op die kampus sien stap en was mal oor hoe sy gelyk het, haar attitude. Ek het toe oor haar uitgevra en seker gemaak ek leer haar ken. Ons het saam begin kuier, saam na die kunstefees in Grahamstad gegaan – glühwein en Turkse koffie gedrink. Grahamstad is steeds vir my ’n romantiese plek, veral in die winter.”
Dit was Irma se lag wat Andries aangetrek het, “haar boheemse kleresmaak, die silwer armbande se klingel. Ons het nooit games met mekaar gespeel nie en amper onmiddellik saam ingetrek. Raad van my ma: As die gesels opraak, moet jy weet dis nie ’n lewensmaat nie. Ons kon ure lank kuier. Nou nog. Ek dink ek sou haar as my geesgenoot beskryf.”
Irma en Andries is in April 1994 getroud. “Die troue was in die kapel op die universiteitskampus. Irma se sussie en ’n vriendin, Liela Groenewald, het “As jy my kon volg” van Koos du Plessis gesing. Op dié manier was Irma se pa ook daar, al is dit dan nou net in sy woorde en die mooi wysie. By die onthaal in die Kloostersaal langsaan het Valiant Swart en sy orkes die gaste vermaak. My oupa het effe verdwaas gelyk. Die musiek het vir hom ‘duiwels’ geklink, maar dit was in Afrikaans. Onthou, Afrikaanse rock was in daardie dae nie so algemeen soos vandag nie. Ons was arm en het brood, konfyt en koffie aangebied. En sangria vir die dorstiges. ’n Vriend wat foto’s moes neem, het so lekker gedans dat hy skoon van die kamera vergeet het. Ons het gevolglik nie eintlik troufoto’s nie, maar dit maak nie regtig saak nie. Ek onthou dit soos gister.”
Lekkertes wat Andries bybly, is “reise deur die Karoo, die Namib, die Kalahari, Lamu, Zanzibar en Nairobi. Ons is baie goeie reisgenote. Om saam boeke te kan lees, is ’n voorreg, veral as jou vrou soveel meer letterkundige insig as jy het.”
Uitdagings in hul huwelik? “Ek weet ek is nie ’n maklike mens om mee saam te lewe nie. Ek het al verskriklike dinge aangevang waaroor ek moes bieg. Ek is bly sy het my darem vergewe.”
“Ons was dalk net baie gelukkig om mekaar te ontmoet. Ek dink albei van ons sal dit oorleef as ons besluit om uitmekaar te gaan. ‘Ek weet nie, ons kyk maar, ek was eintlik net op soek na die naaste Wimpy Bar,’ het Koos Kombuis jare gelede gesing. Ons kyk maar … nou nog, maar darem al ’n paar jaar lank. Ons is al deur moeilike tye, maar om saam te wees bly ’n keuse, nie ’n ball and chain nie. Is dit ’n paradoks? Ek dink nie so nie.
“Om die lewe saam met ’n geesgenoot aan te pak, maak alles draaglik – Suid-Afrika se geweld, ongelykheid en armoede, die aggressie op die snelweg. Die gesels, die kuiers – ek dink nie dit sal opraak nie, selfs al word ons baie oud. Maar dan sal ek gesonder moet eet en meer moet oefen!”
Hierdie artikel het in die Junie 2011-uitgawe van rooi rose verskyn.