Die meeste van ons hanteer sosiale situasies sonder noemenswaardige skade of skande. Al geniet ons nie die werksdinee of familie-ete nie, kom ons ongedeerd anderkant uit.
Vir mense met sosiale angssindroom (social phobia) is dit nie so eenvoudig nie.
“Dit voel vir hulle asof hulle onder die vergrootglas geplaas word wanneer hulle ’n toespraak lewer, mense ontmoet, voor ander oor die foon praat, eet, of skryf – en dat die omstanders hulle krities bejeën. Dit kan oorweldigende angsgevoelens skep,” sê dr. Colinda Linde, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg wat in kognitiewe gedragsterapie spesialiseer en in Amerika opgelei is om sosiale angssindroom te behandel.
“Mense wat hiermee worstel, besef dikwels hul kommer is ongegrond, maar dit neem nie die angs weg nie. Inteendeel, die benoudheid laat hulle sekere mense of situasies vermy. So ’n kind sal nooit in die klas ’n vraag beantwoord nie en volwassenes kan verseg om hul standpunt by die werk te stel, aanbiedings te doen, of sosiaal te verkeer.
“Mense met dié sindroom onderpresteer dikwels op skool, in verhoudings en by die werk. Hulle wil dolgraag by ander betrokke wees, maar kry dit nie reg nie. Hulle kan ’n geïsoleerde lewe lei en afsydig voorkom.
“Sosiale angssindroom moenie met introversie verwar word nie. Introverte het baie alleentyd nodig en verkies intieme eerder as groepsgesprekke, maar hul funksionering word nie in dieselfde mate belemmer nie.”
Maklik misgekyk
“Mense met sosiale angssindroom soek selde hulp. Hulle wil nie die aandag op hulle vestig nie. Algemene onkunde veroorsaak dat ouers en onderwysers dit nie sommer raaksien nie, al steek die sindroom al op die gemiddelde ouderdom van ses kop uit.
“Sulke kinders sal tipies oogkontak vermy. Hulle ontwikkel nie die vaardigheid om ’n gesprek te begin of aan die gang te hou nie. Omdat hulle verwag dat kontak met ander gaan faal, vermy hulle dit eerder. So ervaar hulle nooit dat hulle wel suksesvol met ander kan verkeer nie.”
Wanneer sosiale angssindroom nie behandel word nie, kan ernstige sekondêre psigiatriese toestande ontwikkel.
“Kinders of tieners wat nie by hul tydgenote kan inskakel nie, kan depressief raak. Hul angs en isolasie neem toe; hulle kan hulle nóg meer onttrek of middels soos alkohol of voorskrifmedisyne misbruik om aan die werklikheid te ontkom.”
Baie van Colinda se pasiënte word deur psigiaters of die Suid-Afrikaanse Steungroep vir Depressie en Angs (SADAG) na haar verwys. “Ek gebruik Liebowitz se Social Anxiety Scale om die diagnose te bevestig.”
Behandeling
“Sosiale angssindroom kan met groot sukses deur ’n professionele geestesgesondheidskenner met opleiding in kognitiewe gedragsterapietegnieke behandel word.
Navorsingsresultate wys medikasie en korttermyn- kognitiewe gedragsterapie (KGT) kan doeltreAend saam ingespan word.
“KGT behels kognitiewe herstrukturering, opleiding in sosiale vaardighede, en blootstelling aan angswekkende scenarios.
“Kognitiewe herstrukturering fokus eerstens op ’n oormatige fokus op evaluering deur ander, en tweedens op die persoon se gedagtes voor, tydens en ná blootstelling aan stresvolle situasies.
“Mense met sosiale angsstoornis voel dikwels: ‘As ek ’n fout maak, gaan álmal dit sien en dit nooit vergeet nie! Hulle kan die situasie natuurlik perfek hanteer.’ Dis ‘n onrealistiese siening; hier kort ’n reality check.
“Dit help om te besef dat die mensdom eintlik selfgerig is. Merk mense jou foute op, is hulle óf dankbaar dis nie hulle nie, óf krities omdat hulle meerderwaardig voel. Dit gaan nie oor jou nie, maar oor hulle.
“Tweedens konsentreer ons op die gedagtes wat met angswekkende situasies saamgaan. Mense wat vooraf voorsien dat die ergste gaan gebeur, kan hulle so opwerk dat hulle nie hul beste kan lewer nie. Dit word dan die ‘bewys’ dat hulle ‘altyd misluk’. Hulle ignoreer dít wat reg loop, en hou agterna ’n ‘nadoodse ondersoek’ met die klem op die negatiewe. Dit knou hul waagmoed om weer te probeer.
Kognitiewe herstrukturering help mense om hierdie patroon raak te sien en te verander.”
Sosiale vaardigheidsopleiding en die geleidelike blootstelling aan gevreesde situasies werk die doeltreffendste in groepsituasies.
Colinda gebruik groepe van ses tot agt met groot vrug.
“In dié groepe is almal in dieselfde bootjie; die situasie is emosioneel veilig. Groepslede reageer gewoonlik met: ‘Maar die ander lyk dan so normaal!’ Hulle aanvaar ook makliker positiewe terugvoer van groepslede as van hul gesinslede.”
Groepsessies is baie prakties. Deelnemers word byvoorbeeld opgelei hoe om tussen “oop” en “toe” lyftaal te onderskei, en leer lyftaal aan wat hulle meer toeganklik maak.
“Hierdie mense sukkel gewoonlik om by ’n groep aan te sluit. Dikwels is die niebedreigendste opsie om aan die ‘dooie’ kant van die groep te gaan sit, maar dis wyser om langs die persoon wat die meeste praat in te skuif. Hy het ’n gehoor nodig! Of langs die gate keeper – iemand wat graag ander by die groep wil betrek.”
Colinda leer deelnemers hoe om ’n geselsie aan te knoop én ’n groep te verlaat. Hierdie vaardighede word in die groep geoefen.
“Wanneer openbare optrede iemand se kwelling is, huur ons ’n raadskamer en die spreker oefen haar toespraak voor die ‘gehoor’. Later neem ons die toesprake op video op en sy kan sien sy het toe nie gebloos of gestotter soos sy gedink het nie!”
Die benadering, of jy nou doodbang is vir mense of vir honde, is dieselfde. Jy word geleidelik aan die situasie blootgestel.
“In die geval van honde gaan kyk jy eers net na die honde by ’n hondeopleidingskool. Daarna kom jy nader aan ’n hond aan ’n leiband, later streel jy hom, en so bou ons op die ervaring. Die groep beplan dit saam. Dis pret.
“Ervaringsleer is so geslaagd omdat alle vrees in die primitiewe brein sit. Hierdie brein se reflekse is vyf keer vinniger as dié van die logiese brein. Jou logiese brein weet jy sal nie sterf van verleentheid nie, maar jou primitiewe brein moet dit deur ervaring leer. Woorde help nie. Jy moet dit beleef totdat jou primitiewe brein die aha! oomblik ervaar.”
Colinda doen ook individuele sessies, persoonlik of deur Skype.
“Navorsing wys waar vaardigheidsleer ter sprake is, werk aanlynterapie byna net so goed soos terapie van aangesig tot aangesig – mits dit die kliënt pas. Selfs die blootstelling aan uitdagende situasies kan oor ’n afstand gedoen word. Die kliënt kry ’n vriend of familielid om haar byvoorbeeld na ’n klub te neem, en ek hou telefoonkontak.”
Colinda lei ook sielkundiges in KGT op.
“Sosiale angssindroom kán met sukses behandel word. Die navorsing is gedoen, die kundigheid is daar – al wat kort, is die gewilligheid!”
* Dr. Colinda Linde: 011 285 0088 of www.thoughtsfirst.com waar daar onder meer gratis hulpmiddels beskikbaar is.
* Mariette Snyman is ’n wenner van die Pfizer Mental Health Journalism Award 2012/2013.
* Meer inligting oor geestesgesondheid, hulplyne en ander steunmiddels by die Suid-Afrikaanse Steungroep vir Depressie en Angs (SADAG): 011 262 6396 of www.sadag.org