Sophia Loren loop nie net ’n vertrek binne nie, sy besit die vertrek. In ’n swart Giorgio Armani-rok en bypassende baadjie is die 76-jarige aktrise steeds asemrowend, en ’n paar joernaliste moet vinnig hul monde toemaak. Haar hoë wangbene, massas donker krulle en vol mond maak Sophia steeds onmiddellik herkenbaar. Bewys jou ’n guns en gaan sien een van haar vroëer flieks. Sy was die verpersoonliking van sensualiteit. En sy is steeds. In 2007 het sy op 73 vir die gewilde Pirellikalender saam met jong aktrises soos Penélope Cruz en Hilary Swank geposeer. Op vandag se mediakonferensie gaan sit sy voor die joernaliste in die stampvol vertrek, draai haar nek, kyk met koninklike gesag op die groep mense voor haar neer … en wag.
Die vertrek word tjoepstil. As iemand ’n oorgretige kompliment na haar mik of ’n simpel vraag vra, sit sy hom op die mooiste manier denkbaar op sy plek. Net sodat jy weet sy weet wat jy sê is nie waar nie en dat sy nie gemanipuleer sal word nie. Toe iemand haar vra of die toneel in die rolprent, Nine (2009), waarin sy in ’n ou motor deur Rome ry, aangename herinnerings oor haar destydse verblyf in die stad opgehaal het, sê sy met ’n effens verveelde uitdrukking: “Nee, nie regtig nie. Dis iets wat ek elke dag gedoen het. Hierdie was net ’n toneel wat ons moes skiet.” Iemand anders sou dalk met ’n oulike, gepaste antwoord vorendag probeer kom het, maar nie Sophia nie. Sy sit terug, en die stilte sak om ons neer.
Die stilswyende implikasie dat die vraag nie goed deurdag was nie of selfs simpel was, is duidelik. Sophia het in die nasleep van die Tweede Wêreldoorlog in Italië grootgeword. So arm dat sy vir kos moes baklei, maar met soveel skoonheid dat een van die voorste regisseurs van daardie tyd Carlo Ponti, haar raakgesien het toe hy beoordelaar was van ’n skoonheidswedstryd waaraan die 15-jarige Sophia deelgeneem het. Sewe jaar later het hy met haar getrou, maar in 1962 moes hy vinnig die huwelik ongeldig laat verklaar omdat hy nog met sy eerste vrou getroud was – Italië het nie egskeidings erken nie en Ponti kon eers amptelik van sy vrou skei ná hy Franse burgerskap gekry het.
In 1966 is hy weer met Sophia getroud. Sy en Carlo het twee seuns, Carolo en Edoardo, en vir haar rolprentsukses is sy met twee Oscars, vyf Golden Globes, ’n Grammy en ’n BAFTA bekroon, wat haar – met die uitsondering van Meryl Streep – die mees bekroonde aktrise ter wêreld maak. Sy werk ook aan ’n televisieproduksie oor haar vroeë lewe, gegrond op die memoires van haar suster, Maria, met die tilel, La Mia Casa È Piena di Specchi (My House is Full of Mirrors).
Wie mis jy die meeste van al die akteurs saam met wie jy vroeër gewerk het?
Marcello Mastroianni, omdat ek in die meeste van my rolprente teenoor hom gespeel het. Ek het 14 flieks in 20 jaar saam met hom gemaak. Ek mis hom die meeste.
Baie mense wat saam met jou gewerk het, sê jy is ’n vrou, maar terselfdertyd ook ’n jong meisie. Hoe kan jy albei wees?
Deur jonk te dink. Deur die lewe, familie, goed wat daagliks met jou gebeur, te geniet. Ek kies die beste uit alles wat die lewe my bied. Ek het ’n goeie lewe gehad. Ek het nooit gedink ek sal so gelukkig wees nie – ek het soveel meer gekry as wat ek verwag het. Ek het in alle opsigte baie bereik. Ek is skoon jaloers op myself!
Die meeste aktrises wat saam met jou werk, sê jy tree baie moederlik teenoor hulle op omdat jy na hulle omgesien het, seker gemaak het hulle eet genoeg … Elke vrou is tog seker moederlik?
Ek dink dis ’n goeie ding! In elk geval, die vroue van vandag eet nie. Hulle sit by die tafel en sê “Oe, dis so lekker,” maar hulle eet een happie en vergaan verder van die honger. Met Nine het niemand geëet nie. Nooit nie. Ek was die enigste een wat ooit geëet het.
Hoekom het jy ’n aktrise geword?
Ek het ’n aktrise geword omdat ek iets van myself wou maak. Ek wou wegkom uit ons klein dorpie; ek wou nie langer naamloos wees nie.
Is dit deesdae makliker of moeiliker om suksesvol te wees?
Dis baie moeilik om ’n suksesvolle aktrise te wees. Dit is net moontlik as jy baie ernstig en baie passievol oor jou werk is. Sukseskom mettertyd. Dit hang af van die lewe wat jy lei, die keuses wat jy maak, die prentewaarin jy speel. Dis ’n leeftyd se werk.
As kind was jou lewe ná die Tweede Wêreldoorlog baie moeilik?
As jy tien jaar oud is en jy is honger, is dit nie iets wat jy ooit sal vergeet nie. Ek het probeer om my kinders te leer dat die lewe kosbaar is, en hoe belangrik dit is om te oorleef.
Hoe het dit jou verander?
Dit het my nie verander nie. As jy arm gebore word, sal jy altyd arm wees omdat jy groot waarde heg aan dinge soos genoeg kos of ’n lekker huis sodat jy nooit weer honger of koud hoef te wees nie. Jy vergeet dit nooit nie. Ook nie oorlog as jy daar was nie -veral nie as kind nie. ’n Mens sal nooit daardie mentaliteit verloor nie. Wanneer ek met my kinders oor die oorlog praat, verstaan hulle dit nie. Om nie te kan eet nie, om koud te kry – dis iets wat hulle nooit sal verstaan of beleef nie. Maar ek is bly dat ek soveel daaruit geleer het.
Het jy plastiese chirurgie ondergaan?
Nee.
Watter skoonheidsprodukte gebruik jy?
Dis in my gene. Jy moes my ma gesien het. Sy was 81 toe sy dood is, en sy het wonderlik gelyk. As sy straataf geloop het, het sy altyd gelyk of die wêreld aan haar behoort.
Jy het niks meer om te bewys nie. Waarom werk jy nog?
Hoekom dink jy ek het niks om meer te bewys nie? Niemand het alles nie. Daar is altyd iets waarna ’n mens nog kan uitsien. Ek wag steeds om te sien wat ek gaan doen as ek eendag groot is.
Wie was die indrukwekkendste sterre wat jy in Hollywood se goue era geken het?
Frank Sinatra vir sy stem. Marlon Brando, Cary Grant, Gary Cooper, Clark Gable en William Holden. Hulle was ’n leër van wonderlike, aantreklike helde, aantreklike akteurs. Húlle het gesigte gehad …
Wat het jy by die mans in jou lewe geleer?
My man het my baie energie gegee. Hy het my die vrou gemaak wat ek vandag is. Hy het my geleer hoe om ’n ma te wees, ’n aktrise én ’n goeie mens. Ek het so baie by hom geleer.
Jy bly in Switserland. Hoekom?
My kinders is daar gebore. In Italië is daar destyds vir my gesê ek sou nooit kinders kon hê nie. Maar toe ontmoet ek ’n wonderlike dokter in Switserland en met sy hulp het ek twee kinders hier gehad en hulle is die grootste vreugde van my lewe! Sou ek wou teruggaan? Nee, nooit nie. Ek hou daarvan om in die Switserse woude te stap, ek hou van die leefstyl. Die mense is kalm, rustig, bedaard. Ek bly nou al 34 jaar lank daar.
Hoe verloop ’n tipiese dag vir jou?
Ek hou daarvan om by die huis te bly. As ek tuis is, gaan ek byna nooit iewers heen nie omdat my werk my altyd van die huis af wegneem. My grootste vreugde is om tuis te wees en my huis te versorg. Ek het baie dinge wat my daar besig hou – vir ander sal dit dalk vervelig lyk. Ek moet ook gereeld reis, geleenthede en premières bywoon, rokke aanpas … My dae is glad nie leeg nie.
Hoe voel dit om na Rome terug te keer?
Ek is in Italië gebore en is heeltemal Italiaans. Ek het in Rome begin lewe – dis die plek waar ek begin werk en myself ontdek het. Dis die plek waar ek die lewe met my ma gedeel het. Ek dink dis die mooiste stad in die wêreld. Elke straatjie en hoekie hou soveel herinneringe vir my in. Ek huil elke keer as ek teruggaan.
Nine was jou eerste groot Hollywood-fliek in ’n lang tydperk en jy het saam met sommige van die beste hedendaagse aktrises gewerk. Was jy op jou senuwees?
’n Mens is maar altyd skrikkerig, broos en geïntimideer as jy nie die mense ken nie en jy word deur iets nuuts gekonfronteer. Ek dink hulle het net so oor my gevoel. Ek is eintlik baie skaam.
Vertel ons van jou verbintenis met Armani.
Armani is ’n goeie vriend van my en ’n wonderlike mens. Ek hou van hom. Hy is baie kreatief; ’n genie. Sy rokke is pure fantasie.
Jy is ouma van ’n kleinseun en -dogter?
My kleinseun praat Italiaans, Engels en Hongaars. Soms verstaan ek hom nie, maar hy verskaf my steeds baie vreugde. Ek het nie die woorde om hom te beskryf nie, hy is die mooiste baba in die wêreld. Hy is amper drie. My kleindogter is amper vier en is reeds beeldskoon.
Vertaal deur Hannelie Diedericks