Haar kinders verskil soos dag en nag, vertel ’n ma met ’n lang, diep sug. “‘Dag’ is nou derde jaar op universiteit en ’Nag’ ploeter rond en sukkel om graad 11 deur te kom. En ons het hulle nie verskillend grootgemaak nie.” Maar, wonder ’n mens: Het dieselfde opvoeding en behandeling hulle werklik dieselfde geleenthede gegee?
Verskillende kinders het verskillende brandstof nodig om te kan gedy. Nes jy nie ’n wingerdstok en ’n appelboom op dieselfde manier snoei nie, kan jy nie ’n uiters sensitiewe kind op dieselfde manier as ’n weerbarstige, eiewillige kind dissiplineer nie. Die lewe deel vir mense verskillende kaarte uit. En jy speel elke hand anders, al is daar universele beginsels van liefde, omgee en dissipline.
Ouers én kinders verskil, want hul persoonlikhede, vaardighede, talente, voorkoms, geslag, ouderdom en posisie in die gesin verskil, en hulle is deur verskillende ervarings of omstandighede gevorm. Ouers besef dikwels al met kleuters dat die hantering en dissipline wat met een kind wondere verrig, glad nie met ’n volgende kind werk nie. Inteendeel, dit het dikwels presies die teenoorgestelde uitwerking. Ouers wil graag regverdig wees en hul kinders dieselfde behandel. En dan werk dit nie. Dit maak ouerskap dikwels baie moeilik, onseker en frustrerend.
Onvoorwaardelike aanvaarding
Daar is dinge wat ’n mens met alle kinders dieselfde kan en móét doen: Alle kinders het behoefte aan tyd, aandag, liefde en onvoorwaardelike aanvaarding. Maar vir ’n sagte, sensitiewe en emosionele kind is dit meer as genoeg om jou afkeuring rustig en gematig te laat blyk. Sulke kinders voel gou sleg en sal dadelik aanpassings probeer maak. Op ’n ander kind het dieselfde optrede, of selfs ’n paar harde woorde en ’n raps op die boud, nie eens naastenby dieselfde gewenste uitwerking nie.
Ekstroverte kinders kry hul energie uit mense en dinge, hulle wil heeltyd iets doen, aan baie aktiwiteite deelneem, aan die gang wees, praat, redeneer en sosiaal verkeer. Hulle deel makliker hul emosies. Hulle word gou verveeld en wil dinge doen, want dit stimuleer hulle en laat hulle blom. Kry hulle nie die stimulasie nie, kan hulle hul energie in eiewilligheid in kanaliseer. Vir rustige, introverte ouers kan dit te veel wees, en hulle probeer hulle dikwels beperk en net rustig kry. Introverte, rustige kinders ervaar te veel mense en aktiwiteite as dreinerend en oorweldigend. Hulle het behoefte aan meer alleentye, aan minder dinge, ’n rustiger tempo en hulle praat nie so maklik oor hul emosies nie.
Ekstroverte ouers ervaar dikwels dat hulle dinge te stadig doen en nie wil praat of deel nie, en probeer dan om die kind met druk en dreigemente dinge te laat doen. Al die aktiwiteite, soos swemklasse, ballet, drama en ekstra wiskunde put die kinders uit en maak hulle moedeloos en lusteloos. So ’n kind voel dat sy nie goed genoeg is nie. Vir haar sou veel minder eintlik meer wees. Sy sou veel beter kon vaar as sy haar energie op minder dinge kon gebruik. Party kinders hou van voorspelbaarheid en is georden, gestruktureerd, betyds en beplan hul dinge.
Vir ander kinders verg dit ’n bewustelike en moeilik aangeleerde poging om betyds en georden te wees. As hulle hulself is, het hulle nie ’n benul van tyd nie, kom laat en stel take uit, maar hulle hou van opwinding, verandering, gemaklikheid en buigbaarheid. Hulle vergeet maklik en is geneig om op die laaste nippertjie dinge met ’n hoop energie te doen, wat dikwels daartoe lei dat hulle werk afgeskeep en nie deeglik en georden is nie. Hulle moet leer om aanpassings te maak, maar om van hulle te verwag wat geordende kinders kan doen en hulle presies dieselfde terugvoering en leiding te gee, is problematies. Dit kan hulle moedeloos en weerbarstig maak. Kinders moet ook besef en geleer word dat verskillende mense in verskillende situasies verskillende optrede verg en verskillende dinge nodig het. Daarom kan boetie wat ’n landloper is nuwe hardloopskoene kry. Sy nie. En dis nie onregverdig nie. ’n Ander keer het sy iets nodig, en kry hy weer niks. Die posisie in die gesin kan ook ’n groot rol speel.
Ouers is dikwels geneig om meer te identifiseer met die kind wat dieselfde posisie in die gesin het as wat hy/sy het.
Oudste kinders
- Is meestal gehoorsaam, verantwoordelik en hardwerkend; ambisieuse, suksesgedrewe presteerders; of hulle is op omgee, sorg en versorging van ander ingestel.
- Voel dikwels of ander net van hulle vra en vra en baie verantwoordelikheid en werk op hulle stort, en hulle voel stilweg wrokkig hieroor.
- Verwag respek van ander, maar kan soms selfsugtig en te doelgerig oorkom.
- Is dikwels perfeksionisties en georganiseerd.
- Gee om wat die mense dink; terugvoer van ander is belangrik.
- Stres maklik en sit baie druk op hulself en ander.
- Bly gewoonlik naby die ouerhuis.
Die middelkind of tweedekind
- Gaan dikwels in presies die teenoorgestelde rigting as die oudste kind.
- Is gemkaliker om en tussen mense; ’n naruurlike onderhandelaar en vredemaker; realisties en mie bederf nie; sal kompromieë aangaan.
- Hou nie van konfrontasie en konflik nie; gee nie sommer hulle werklike mening nie; wys minder gevoelens en vra nie sommer hulp nie.
- Vriendskappe is vir hulle belangrik, hulle maak maklik vriende en hou hulle.
- Gee minder om wat mense dink.
- Is onafhanklik, wil dinge anders en op hulle manier doen.
- Verlaat dikwles die huis voor die oudste kind, en sal makliker verder van die ouers af woon.
- Sal maklik ’n rebel word en kanse waag.
Die jongste kind
- Hulle het gewoonlik goeie mensvaardighede, is liefdevol, gaaf en oulik – waarmee hulle jou kan manipuleer as jy nie ligloop nie
- Hulle is dikwels redelik ongekompliseerd, maar soms ’n bietjie selfgesentreerd.
- Hul behoefte aan aandag laat hulle dikwels dinge doen wat ander laat terugdeins. Hulle dóén dit net.
- Hulle het uithouvermoë, maar kan ongeduldig en bederf wees en sukkel om “nee” te aanvaar.
- Hulle is dikwels vermaaklik, vol humor en weet hoe om die aandag te kry.
Marike sê haar twee seuns verskil hééltemal. “Dis so moeilik. Janco is ’n bietjie meer as twee jaar ouer as Pieter. Pieter verstaan nie dat Janco ouer is en dinge daarom beter as hy kan doen nie. As Janco ’n fiets kry, wil Pieter ook een hê, anders is daar oorlog in die huis en is ons onregverdig. Ons probeer so hard om regverdig te wees, maar Pieter bly net in Janco se skaduwee.
“Alles kom so maklik vir Janco. Van kleins af is almal mal oor hom, hy het selfvertroue en praat met almal. Waaraan hy ook al raak, verander vir hom in goud. Hy is slim en presteer akademies, en word dikwels as leier of kaptein gekies. Hy tree met gemak voor mense op en is boonop goed in sport. “Vir Pieter is dit glad nie so nie. Hy is skugter en stil, het reeds in graad R ’n bril gekry en moes arbeidsterapie kry. Hy sukkel. Sukkel met maats, met leer, met sport en veral met sy boetie en homself. Dit breek ’n ma se hart. Ek vra ook hoekom? Vir my voel dit ook onregverdig. Weet jy hoe verskriklik is dit as die kinders rapporte kry? Janco mag nie syne oopmaak as Pieter by is nie. Ek kan nie onbevange saam met my oudste kind opgewonde wees oor sy prestasies nie. Ek sien nie kans om dit aan Pieter te doen nie. Ek weet ons doen eintlik ’n onreg aan Janco ook, maar die Vader weet, ons weet nie hoe anders nie.”
Nadi* vertel: “Ons het ons kinders geleer hulle hou ’n kristalballetjie vertroue in hul hande vas. En as hy val, is hy stukkend. Ons pligsgetroue presteerder het hom gemaklik en veilig vasgehou. Maar ons moes leer dat die ander een ’n ander, meer kreatiewe maar riskante pad loop. By haar moes ons dikwels die balletjie vat, keer dat hy nie val nie en in haar hande terugsit. En in aanvaarding selfs ’n nuwe balletjie gee; aanhou wys dat ons in haar glo, dat sy in haarself kon glo.
Ons kind glo en vertrou, want mense tree meestal op in ooreenstemming met die vertroue wat hulle beleef.” As ouers kinders nie werklik ken, aanvaar en verstaan nie, stel hulle maklik eise waaraan ’n kind nie kan voldoen nie. En dan kry die kind nie wat sy nodig het om intellektueel, emosioneel, spiritueel en selfs fisiek en sosiaal toereikend te ontwikkel nie. Dan kan ouers se goed bedoelde pogings om die kind te skaaf en in die regte rigting te buig, die kind skaad en selfs knak. En dit maak ’n goeie, oop verhouding met ’n kind gewoonlik baie moeilik.
Kinders moet ook leer dat verskillende optrede teenoor verskillende kinders nie onregverdigheid is nie, maar die antwoord is op verskillende behoeftes. As daar in die gesin oop kommunikasie hieroor is en elkeen tog sy plekkie in die son het en kry wat hy fisiek en emosioneel nodig het, vertrou kinders hul ouers se ouerskap en besluite.
Hoe hanteer jy kinders wat verskil?
Jy hanteer hulle verskillend. Dis ’n ongegronde, naïewe benadering om te dink dat een plan of resep ewe goed vir alle kinders werk.
Ouers moet gemaklik met hul kinders se verskille wees, en nie verwag die een moet soos die ander wees nie. Gee die kind ’n lisensie om met oorgawe homself te wees en waardeer en geniet sy uniekheid en individualiteit.
Maak seker dat jy jou kind werklik ken en verstaan, en dat sy haarself ken en verstaan: Hoe sy is; wat sy dink en voel; wat haar vaardighede, beperkinge en behoeftes is. ’n Mens gee mos dikwels dít waaraan jy behoefte het, of wat jy self graag wil hê. Wat gee jou kind? Gee sy baie drukkies, briefies of liefdeswoorde? Dan is dit dalk wat sy ook graag wil hê.
Laat jou kind toe om sy unieke self te wees en deur jou aanvaarding te leef. Elke kind is liefde werd en hoef dit nie te verdien nie. Geen kind mag of hoef te probeer om iemand anders te wees om sy ouers se goedkeuring, aanvaarding en liefde te kry nie.
Moedig elkeen se unieke rol en bydrae in die gesin aan.
Help jou kinders om goeie verhoudings met mekaar te hê en hul verskille in openheid te aanvaar, te waardeer en te geniet – dit ontlont moeilike situasies.
Help hulle om hulle nie met mekaar of ander te vergelyk nie deur dit nooit self te doen nie. “Hoekom kan jy nie soos jou ouboet wees nie?” is taboe.
Moedig kinders se individualiteit aan deur elkeen aan sy eie aktiwiteite, stokperdjies en belangstellings te laat deelneem sodat elkeen op sy manier ’n plekkie in die son kry.
Probeer kompetisie tussen die kinders beperk. Hulle moet eerder teen hulself en hul vorige pogings meeding, as met ander.
Maak alleentyd met elke kind. Doen iets lekkers wat vir hom spesiaal sal wees. En gesels alleen met jou kind. Die meeste mense deel net in ’n een tot een situasie werklik hul hart met iemand anders.
Gee vir elke kind positiewe terugvoer oor wie hy is, wat hy doen, of hoe hy optree. Soek positiewe dinge om te sê.
Lees ook: Maak kinders met goeie waardes groot