“Sunshine on my shoulders makes me happy,” het John Denver jare gelede gesing, so roerend dat die wiskundeformules in my matriekhandboek nie ’n kans gestaan het nie. Dit was baie aanlokliker om die patrone van lig en skadu buite die venster te volg, en te droom dat my toekoms iemand met die lewenslus van dié digtersanger sou insluit.
Sonlig fassineer my steeds: ’n ligstreep op ’n spinnende kat se rug, ’n blinkblou flits op swembadwater, of ’n waaier van strale wat deur reënwolke breek.
En dan die saligheid van sonsit … ’n Kwartier per dag moet jy jou in dié warmte baai, sê die überslim Amerikaanse inspirasiespreker dr. John Demartini. Ek kan glad nie die ingewikkelde feite waarmee hy sy aanbeveling staaf onthou nie, maar ek reken dis die goedkoopste manier om ’n stewige seksie van die wêreldbevolking se lewenskwaliteit in die kort én lang termyn te lig. Afgesien van die fisieke voordele, is dit bykans onmoontlik om skoor te soek wanneer jy deurtrek is van weldadige warmte.
Die son is gevaarlik, glo baie van ons. Ander reken dis slegs ’n persepsie, en volg selfs die pad van “sun gazing” (volgens spesifieke voorskrifte) om hul energiebronne en spirituele bewustheidsvlakke te verhoog.
Die son sit die soetheid in die druif, gee glans aan die wit haartjies van ’n kind, en maak bikinilyfies bruin. Die son skyn oor almal. Dis ’n ope uitnodiging vir dié wat die tyd en lus het om te kyk en te voel, en saggies saam te sing: “Sunshine almost always makes me high.”