Emma klop saggies aan Ansa se deur. Sy maak die deur oop.
“En nou? Almal is al klaar met hul middagslapie, toe wonder ek, Tannie Ansa? Wat is verkeerd?”
Ansa ruk soos sy bewe. Sy rammel deurmekaar. Sy kyk vreesbevange na Emma.
“Ek wil hom nie sien nie. Hoor julle my! Pappa het netnou gebel. Hy sê Oom Stan is sterwend en die ou donner wil my sien.”
Emma probeer haar kalmeer.
“Dit was net ’n droom, Tannie hoef nêrens te gaan nie.”
***
Die vrou stap by ’n siekekamer in. ’n Ou man lê op die bed. Hy draai sy kop na die vrou.
“Ansa? Grootnooi? Ek is so bly jy het gekom. Ek het net vir jou gewag. Ek sterf, my Ansatjie. Ek wou jou so graag sien om …”
Die vrou slaan met haar hande teen die bed se voetenent.
“Jy het my kinderjare gesteel! Hoekom? Hoekom ek? Hoekom nie ’n ander dogtertjie nie?”
Die ou man beur regop.
“God het my vergewe. Sal jy?”
Die vrou draai haar rug op hom.
“Ek het jou soveel jare gehaat. Myself gehaat.”
Die ou man val moeg terug op die kussings. Hy huil.
“Sal jy die gordyne nou kan ooptrek? Ansa? Dan kan ons die son sien.”
Die vrou trek die gordyne oop.
“Ek sien die son oom Stan. Ek sien hom. Ek sien.”
***
Sagte klaviermusiek speel op ’n CD-speler. Emma sit langs die bejaarde Ansa se bed. Ansa word wakker.
“Hoe lank sit jy al hier voor my bed?”
Emma streel oor Ansa se kop.
“Tannie was weer bietjie deurmekaar.”
Ansa se hand voel na die foto-album op haar bedkassie.
“Moenie nou foto’s kyk nie. Dit sal Tannie net weer ontstel.”
Ansa vat die album raak, maar dit val uit haar hande.
“Ek het ’n foto van hom. Ek het soms gewonder hoekom, maar toe besef ek sy foto is vir my soos die lemmetjie. As ek my sny, bloei ek. Ek weet dit gaan pyn, maar ek sny my. Ek weet nie. Ek dink ek moes partykeer na hom kyk sodat ek kan onthou. Anders. Anders het ek begin glo ek het my alles net verbeel. Dat ek regtig mal is.”
Emma tel die album op en sit dit in ’n kas.
“Tannie moet ophou oor die goed praat.”
“Ek weet. Maar dis al stukkies onthou wat nog oor is. Tot die vergeet oorneem.”
***
Emma staan langs die klavier. Ansa se hande beweeg bewerig oor die klawers.
“Ek hoor Tannie Ansa het weer laat klavier gespeel? Tannie se gehoor in gang vyf het dit blykbaar nie waardeer nie!”
Ansa speel voort. Dan hou sy op.
“Ek moet oefen, Emma, vir die groot konsert in die Nico Malan. Ek kry nie tyd vir oefen nie. Het my ma al die rok vir vanaand gebring? Tog net nie die witte nie. Wat dink jy, Emma, sal ons ’n volsaal trek? Jy sal mos daar wees, Emma?”
Emma gaan staan agter Ansa. Sy vou haar arms om die tenger lyfie voor die klavier.
“Nuurlik my tannie, heel voor. Ek gaan heel voor sit.”
***
Emma klop saggies aan Ansa se deur.
“Tannie Ansa? Hoe was die nag?”
Ansa sit regop.
“Nee, kind, ek onthou niks. Seker goed. As ek wakker word en ek leef nog, was die nag seker nie so sleg nie. Ek is bly jy is hier. Ek het iets vir jou. Kyk daar op die middelste rak van my kas, daar is ’n kissie, gee vir my aan.”
“Hierdie glasfeetjie, ’n glasblaser in Venesië, het haar vir my gemaak. ’n Bollens. Dis vir jou. Want jy’s my Bollens, Emma. Hou haar, as jy iemand nodig het, sal sy luister.”
***
Ansa sit voor die klavier. Sy speel Beethoven se maanligsonate. Emma kom staan by haar.
“Wat maak Tannie Ansa hier by die klavier? Tannie is nog te siek om op te staan!”
Ansa hou op speel.
“Dis my groot aand, Emma. My laaste. Die saal is vol vanaand.”
Emma vou haar arm om Ansa se skouers.
“O, ek sien, Tannie. Ja almal het gekom!”
Ansa draai om in die stoeltjie en kyk na die leë sitkamer asof dit ’n gehoor is.
“Kyk, hulle gooi rose op die verhoog!”
Emma maak of sy ook die gehoor sien.
“Hoor die applous. ’n Staande ovasie, tannie Ansa!”
“Foutloos, Emma. Het jy gehoor?”
Emma neem Ansa se hand. Sy help haar op. Ansa buig voor die leë sitkamer asof sy voor ’n gehoor buig.
“Tannie het vanaand pragtig gespeel. Die gehoor het dit geniet. Kom, neem my hand, dan maak ons vir die mense nog ’n buiging. Daarsy my Tannie, nou kan jy gaan rus.”
Emma buig saam met Ansa. Dan neem sy Ansa se hand en lei haar na haar kamer.