Die bejaarde vrou sit op haar bed en blaai deur ’n plakboek. Daar is ’n stapel plakboeke langs haar op die bed. Emma kom by die kamer ingestap en gaan sit langs haar.
“Ons het lanklaas deur Tannie se plakboeke geblaai. Dis so lekker om te lees van al die konserte en reise.”
“Kyk net die een, Emmatjie. Dit was my laaste konsert in Londen by die Royal Albert Hall. Ek het daardie aand Schubert se Sonata No. 17 gespeel. Goeie resensies. Lees net hier: Duvenhage demonstrated breathtaking virtuosity …”
Emma lees hardop verder: “… her fingers running up and down scales with impressive dexterity … Dit laat Tannie seker lekker voel om dit weer te lees? Kyk net die gehoor op die foto! Volgepak!”
Ansa blaai stadig verder.
“Ma het die plakboeke op datum gehou. Alles getrou uitgeknip. Behalwe nou vir die skandes. Dié het sy nie uitgeknip nie. Sien, as Ma dit nie in die boek plak nie, het dit nooit gebeur nie.”
Ansa en Emma lag lekker oor die siniese stelling.
“Ag Tannie, ek glo sy was trots op haar dogter.”
Ansa hou op lag en lyk skielik hartseer.
“As ek op die verhoog was. Dis soms al waar ek gevoel het Ma erken my bestaan. Die Ansa op die verhoog was haar dogter, nie die een in die klinieke nie.”
***
’n Pianis sit voor ’n vleuelklavier. Sy begin telkens die stuk van voor af speel. Die gehoor jou haar uit as sy foute maak. Sy hou op speel. Sy sit vir ’n ruk stil na die jouende gehoor en kyk. Dan spring sy op en hardloop van die verhoog af. Sy hardloop na haar kleedkamer en klap die deur agter haar toe. Haar ma kom met ’n drafstap die gang af. Sy hamer teen die deur tot haar dogter oopmaak. Die pianis huil en skree gelyk.
“Ek wil dit nie hoor nie! Maak hulle stil! Ek is kaal … my klere … hoekom is ek kaal?”
Sy trek ’n japon oor haar konsertrok aan en vou haar arms asof sy baie koud kry.
Haar ma gooi die leë drankbottels wat in die aantrekkamer staan in die asblik.
“Ansa! Hoe kon jy? Dronk op die verhoog!”
Ansa huil steeds histeries.
“Het Mamma my klere gebring? My klere is weg. Kyk, ek is kaal. Almal kyk vir my omdat ek kaal is.”
“Nee, hulle staar omdat jy dronk is! Hierdie keer … Hierdie keer het jy te ver gegaan! Jy het so mooi reggekom! Jy het my en Pappa belowe!”
Ansa hoor skynbaar nie haar ma se tirade nie. Sy bewe van die koue.
“Dit was so koud op die verhoog, Mamma, ysig koud. Dink Mamma die mense het my gesien? Het hulle my roosknoppie gesien?”
Ansa reik uit na haar ma. Die ma klap haar hande woedend weg.
“Ansa, jy het te veel gedrink!”
Ansa koggel haar ma.
“Ek is al moeg om dit te hoor, Ma. Alewige preke: ‘Ansa, jy het te veel gedrink. Ansa, jy het te veel gedrink. Word julle nie moeg daarvan nie? Ansa, Ansa, Ansa!”
Haar ma probeer haar na die rusbank lei.
“Kom lê hier op die bank, ek sit by jou tot jy beter voel.”
Ansa begin kermend huil.
“Sal Mamma my toemaak? Die kombers styf om my vou?”
Die ma vou ’n kombers om haar dogter. Sy gaan sit op die stoel langs die rusbank.
“Maak nou toe jou oë en probeer slaap.”
Ansa beur regop.
“Mamma? Ek het nog nie gebid nie. Netnou kom Liewe Jesus in die nag. Liewe Jesus sag en teer …”
***
Die bejaarde vrou staan in die donker voor die ouetehuis se klavier. Sy huil histeries. Emma en die matrone kom aangehardloop.
“Tannie Ansa! Wat is fout! Wat maak Tannie die tyd van die nag by die klavier?”
Emma probeer Ansa kalmeer. Maar sy gil hard. ’n Groep bejaardes versamel in die gang.
“Kyk hoe brand die verdomde ding tot as! Sien jy, Emma? Die klavier brand!”
“Tannie! Dis net ’n droom! Daar is nie ’n brand nie. Kom, ek neem Tannie kamer toe dan kan ons almal rustig raak.”
“Nee! Hy moet brand! Sien jy die vlamme, Emma? Hy brand. Die verpestelike klavier!”
Emma probeer haar weglei.
“Kom, Tannie, dis koud. Ek moet Tannie kamer toe neem, stadig nou.”
Matrone en helpers lei die ander bejaardes weg. Ansa gil histeries.
“Laat hom brand! Laat die helse vuur hom verteer! Hoor jy dit, Emma? Hoor jy hoe speel Satan sy triomfmars op hom! Sien jy, Emma? Sien jy hoe trek hy die gordyne van die hel toe? Hy wil my daar vashou! Los my! Los my! My Mamma kom netnou. Ek weet, my Mamma gaan vandag vroeg kom!”
’n Helper bring ’n koppie tee.
“Kom, neem ’n slukkie tee en sluk die pilletjie, dan voel Tannie beter.”
Ansa sluk gehoorsaam.
“Gaan ek, Mamma? Gaan ek beter voel?Ek is bly Mamma het gekom, ek was bang. Kan ons nou huis toe gaan, Mamma?”