Die bejaarde vrou sit op haar bed. Sy hou haar kop in haar hande vas. Sy wieg vorentoe en agtertoe en prewel deurmekaar. Haar versorger kom in.
“En nou? Tannie? Hoe is ons weer so deurmekaar vanoggend?”
Die ouer vrou wieg steeds.
“Die mense het my uitgejou, Emma! By my konsert. Hulle het gejou!”
Emma gaan sit langs Ansa.
“Dis nou verby, Tannie. Lankal.”
“Maar ek hoor hulle nog, Emma. Hoor jy hulle nie?”
Emma streel oor Ansa se hare.
“Tannie sal weer ok wees. Tannie raak mos altyd weer beter?”
“Nee, my kind. Ek raak al hoe minder beter.”
Emma gooi water in ’n glas en hou ’n tablet na Ansa uit.
“Tannie moet ophou om oor die goed te praat.”
“Ek moet. Voor ek vergeet.”
“Hoekom wil Tannie dit onthou? Al die goed?”
Ansatjie, dan onthou ek wie ek is.”
***
Die ma en haar volwasse dogter staan voor die kerk. Die laaste klanke van die kerkorrel is nog hoorbaar.
“Wag hier vir my, Mamma kom nou, ek moet net gou reël vir die teeskink in die kerksaal.”
Die dogter stap weg van die mense wat voor die kerk saamdrom. Haar ma stap saam.
“Ek sien nie kans vir die teedrinkery nie, ek wag buite vir Mamma.”
Die ma stap na die kerksaal. Die dogter wag alleen. ’n Ouer man stap nader.
“O hier is jy Ansa, ek is so bly jy was in die kerk. Almal van ons was so bekommerd oor jou.”
Die vrou beweeg weg van die ouer man.
“En hier is die gawe oom Stan ook! Steunpilaar van die gemeente. Ek dog jy het lankal afgetree.”
Die man tree weer nader aan die vrou.
“Kom nou. Ons was geskok … bekommerd oor jou.”
Die vrou lag half histeries.
“Ag asseblief, los tog die pretensie ou man, hier is niemand voor wie jy ’n show hoef te gooi nie. Dis net ek en jy. Jy weet? Soos van ouds. Ons tweetjies alleen?”
“Ansatjie … Jou ma het gesê jy raak soms nog deurmekaar.”
Die vrou lag weer.
“O nee, my liewe Oom Stan. My kop was nog nooit so helder soos nou nie.”
Sy begin wegstap. Die man stap saam.
“Kindjie, ek sal nie ophou bid dat jy beter word nie.”
“Ek glo jy bid, Oom Stan, ek glo dit. Jy bid.”
Die man stap weg. Die vrou staan ’n rukkie vir haar ma en wag.
“Ek het jou netnou met oom Stan sien praat?”
“Ja, Ma, Oom Stanley. ‘Laat die kindertjies na my toe kom, verhinder hulle nie.’”
Die ma neem haar dogter aan die arm en begin in die rigting van die pastorie stap.
“Wanneer gaan jy ophou, my kind?”
“Die dag as jy my glo.”
“My kind, ek weet nie meer wat om te glo nie.”
Die dogter gaan staan stil. Sy kyk uitdagend na haar ma.
“Nee, jy weet wat om nie te glo nie.”
Die ma neem albei haar dogter se hande.
“Van kleins af. Jou verbeelding. Pappa was bekommerd, maar ek het altyd gesê, los die kind. Sy leef in haar fantasiewêreld.”
“Ag Ma, almal weet mos ek is mal … van kleins af.”
“Ek moes na Pappa geluister het, jou toe jy nog klein was al sielkundige toe gevat het.”
Die vrou lag weer half histeries.
“Presies Mamma, dis presies want jy moes gedoen het!”
***
Die bejaarde en haar versorger sit op ’n bankie in die tuin.
“Weet jy wat, Emma? Die oplossing was eintlik maklik. Al wat ek wou gehad het, is dat my ma-hulle my moes glo. Hulle moes erken hulle weet. Hulle moes geweet het. Maar miskien was dit makliker om te glo ek ly aan psigoses. Dominee en Mevrou het ook soms die gordyne toegetrek. Dan sien mens mos nie wat jy nie wil sien nie.”
Emma vou haar arms om die ouer vrou se skouers.
“Ai Tannie, dis so hartseer.”
“Jy weet, Emma, ek het later selfs gewonder of ek my nie dalk al die goed verbeel het nie. As genoeg mense vir jou sê jy is mal, kan jy dit begin glo.”
Emma gee Ansa ’n drukkie.
“Was daar niemand wat Tannie geglo het nie? In die klinieke?”
“Daar was seker, ek weet nie. Ek het later net als gedoen wat hulle van my verwag. Jy weet. Die regte vrae beantwoord … Arme Ma. Het my selfs na ’n geloofsgeneser gesleep. Pappa mag nie daarvan geweet het nie, teen die kerk se oortuiginge. Iemand uit die Happy Clappy-kerk, jy weet. Die sektes.”
Ansa lag.
“My arme ma, Emma. Sy het blykbaar gedink die man gaan net vinnig vir my bid en dan is ek wonderbaarlik genees van my bose gedagtes.”
“En, het dit Tannie gehelp?”
“Vir die eerste keer het ek gevoel iemand luister. Hy het begin bid en toe praat God met hom. Ek kon Sy teenwoordigheid aanvoel. Ek het gebewe, gehuil. God het vir die man gesê ek moenie bevrees wees nie. Hy sien die onreg. Maar, Mamma het gesê dit was ’n fout om na die man te gaan en dat hy my kop net verder deurmekaar gekrap het.”
***
Die ma en haar dogter sit in ’n motor. Hulle stry.
“Dit was dan Mamma se idee!”
“Ansa, die man praat twak, dis nie ons kerk se mense nie.”
“O, Mamma wou vooraf die antwoorde bepaal? Mamma wou hê die man moet my met gebed verander soos julle my wil hê! Julle wou altyd die volmaakte dogter gehad het. Toe trek God julle ’n streep!”
“Moet dit nie sê nie! Jy is ons kind. Ons het jou lief!”
Die dogter maak die kar se deur oop en klim uit. Sy gil op haar ma.
“Mamma, jy het my nooit lief genoeg gehad om my te glo nie!”
***
Die versorger klop saggies aan die bejaarde vrou se deur. Sy gaan in.
“Matrone sê Tannie het ’n slegte nag gehad?”
Die bejaarde vrou staan op van die bed.
“Help my, Emma, ek moet by die klavier kom. Ek moet nog baie oefen.”
“Waarvoor Tannie?”
Ansa beduie heftig met haar hande.
“Dis julle wat my program so volgemaak het! Dit gaan mos vir julle net oor geld! My hele lewe is deurmekaar. Konserte, toere, konserte. Nee, ek moet hier uit! Ek bly nie langer in hierdie hotelkamer nie! Dit versmoor my!”
Emma probeer die ouer vrou kalmeer.
“Kalm nou my tannie, ek is hier.”
“Het jy my uitrustings gebring? Sal ek die rooi rok vanaand aantrek. Ek het dit laas in Wenen gedra.”
Emma lei haar na haar bed en maak haar gemaklik.
“Die rooie sal mooi lyk, Tannie, rus nou eers voor die konsert.”