Die bejaarde vrou sit en luister na kerkorrelmusiek. Sy stel die radio op haar bedkassie sagter en begin die kinderliedjie Siembamba sag sing terwyl sy vorentoe en agtertoe wieg.
“Siembamba, Mamma se kindjie
… draai haar nek om, gooi haar in die sloot, trap op haar kop dan is sy dood.”
Haar versorger kom by die deur ingestap.
“Tannie Ansa? Lekker geslaap? Matrone het gesê ek moet kom kyk hoekom was Tannie nie in die eetkamer nie.”
Ansa hou op met sing en kyk verward na Emma. Dan herken sy haar en glimlag verlig.
“Ek kom nou, Emmatjie … ek trek net gou skoon aan. Ai, ek is so jammer …”
Ansa staan op en begin haar nat slaapbroek uittrek.
Emma haal ’n skoon broek uit die kas en gee dit vir haar aan.
“Dis nie so erg nie, Tannie, dit gebeur maar soms as die knypers moeg raak. Kom ek trek die nat laken af.”
Ansa Begin sag huil.
“Ek is jammer, Mamma, ek het in die nag opgestaan.”
Sy gaan sit weer op die bed en begin Siembamba saggies sing.
***
Die dogtertjie sit op haar bed. Haar ma staan voor haar en swaai haar arms soos sy raas.
“Hemel Ansa! Jy is al tien! Ek weet nie meer wat om te doen nie! Jy kan nie op jou ouderdom steeds die bed natmaak nie! Gaan stort. Netnou ruik jy sleg by die skool. Net vandag maak ek ’n afspraak by ’n dokter!”
Die kind huil.
“Regtig Mamma, dit sal nie weer gebeur nie.”
Die ma haal klere uit die kas.
“Ons sal moet dokter toe gaan, jy kla lankal dat jou pieps jou brand.”
Die kind huil.
“Nee Mamma, asseblief nie, die dokter … hy sal sien …”
Die ma druk die klere in die kind se hande.
“Ja, hy sal sien jy is nou te groot om in die bed te pieps. My kindjie, Mamma weet jy probeer, maar jy word groot.”
Die kind druk haar gesig in haar ma se rok.
“Belowe Mamma sal niemand vertel nie, belowe?”
Die ma hou haar vas.
“Dit sal moet ophou, Ansa.”
Die kind huil sag.
“Ek probeer, Mamma. Kan ek nie maar vandag by die huis bly nie? Net vandag, asseblief, Mamma?”
Die ma stoot die kind weg van haar.
“Ansa! Ruk jou reg. Jy is al ’n groot meisie. Nie meer ’n baba nie.”
“Net die een keertjie, asseblieftoggie.”
Die ma neem haar ferm aan die arm.
“Gaan was gou, ons is laat.”
Die kind ruk los en gaan lê op die bed.
“Ek wil nie! Ek sal nie!”
Die ma probeer die kind regop trek.
“Ansa! Jy sal! Wil jy hê ek moet Pappa roep?”
Die kind staan op.
“Nee! Ek kom nou Mamma, ek kom.”
***
Die versorger help die vrou aantrek.
“Daarsy my Tannie, skoon en vars aangetrek. Ons spuit bietjie parfuum op. Sal ons eetkamer toe gaan?”
Die tannie probeer lostrek uit Emma se greep.
“Ek wil nie, kan ek nie maar in my kamer bly nie?”
Emma help die vrou tot by die bed.
“Ek verstaan, Tannie, mens voel mos nie altyd lus vir mense nie.” Sy lag en gaan sit langs Ansa. “Daar is mos weer vandag moles in gang vyf, tannie Kruger sê tannie Avenant het haar lemoen gegaps. Sluip glo af in die gang rond en gaps vrugte. Tannie Kruger sê vir my: ‘Ek het so met skrefiesoë op die bed gelê dat dit lyk of ek slaap. Toe kom die ou bogger in en steel my lemoen!’” Die twee vroue lag saam. “Sy het tannie Avenant met haar pantoffel uit die kamer gejaag.”
Ansa vryf die lagtrane uit haar oë. Sy neem die lemoen van haar bedkassie af en hou dit na Emma uit.
“Nes kinders. Dê, vat my lemoen en gaan gee dit vir Avenant, die ou mens is ook maar eenkant. Moet tog nie vir haar sê ek stuur dit nie. Netnou kom kuier sy gedurig hier in my kamer en ek is tog nie lus vir mense nie. Maak my kasdeur oop, daar op die middelrak is ’n sjokoladetjie vir jou.”
***
Die ma staan voor die kas. Sy maak die kasdeur oop.
“Ansa? Wat maak jy hier in die kas? Nee! Nee! Hoekom doen jy dit! Trek dadelik aan jou broekie!”
Die kind begin huil.
“Mamma ek …”
Die ma trek die kind aan haar arm uit die kas.
“Weet jy wat jy besig was om te doen? Dis … dis sonde! Waar sien jy dit? Praat met my! Wie leer jou dit?”
Die kind huil histeries.
“Dis … moenie my pakgee as ek vertel nie, belowe?”
Die ma raps die kind op haar agterstewe.
“Vandag brand jou boude!”
Die kind huil tussen die houe deur.
“Dis Oom … Mamma, dis oom Stan wat my gewys het.”
Die ma staan skielik stil.
“O my God, help ons vandag! Nee! Ansatjie, moenie vir Mamma jok nie! Dis ’n vreeslike ding wat jy daar sê. Jy mag dit nooit weer sê nie! Hoor jy?”
Die kind probeer die ma se hande vashou, maar die ma vou dit om haar eie gesig. Sy huil.
“Is Mamma, vra vir Bollens, sy het dit ook gesien.”
“Asseblief, Ansa, nie weer een van jou Bollens-stories nie. Luister nou mooi vir my. Jy kniel hier saam met Mamma en jy vra God om vergifnis vir die vreeslike sonde wat jy gedoen het.”
Die kind kniel snikkend.
“Liewe Jesus in die Hemel. Hoor ’n kindjie as sy bid. O vergewe al my sonde, was my hartjie skoon en wit.”
Die ma trek die kind regop.
“Toe, gaan was jou handjies en trek ’n skoon broekie aan. Pappa kom netnou terug van die kerkkantoor af en dan moet alles reg wees. Hoor jy?”
“Ja, Mamma, alles eksieperfeksie. Vir as Pappa kom …”
Die ma druk die kind teen haar vas.
“Daarsy my kindjie. Ek gaan stofsuig gou weer die sitkamer, die wind het vanmiddag baie stof ingewaai. As jy klaar is, vryf jy vir Mamma die messe en vurke vir aandete blink, hoor?
Die kind vee haar trane af.
“Blink, ek sal hulle blink vryf. Soos ’n spieël. Pappa sal homself in die blink kan sien.”