Hoofstuk een
Die oggendson maak skrefies op die herfsblare op die mat. In die strale dans klein stofdeeltjies op die maat van Beethoven se Maanligsonate. Die leunstoele in die ouetehuis se sitkamer is leeg. Voor die klavier sit ’n skraal vrou. Haar krom lyf beweeg met emosie saam met haar hande wat soos die van ’n jong vrou oor die klawers speel.
’n Versorger in ’n blou uniform staan skuins agter haar. Sy luister na die klavierspel. Sy hou ’n koppie tee in haar hande. As die laaste note weerklink, stap sy nader. Sy praat met die ouer vrou, maar sy hoor skynbaar nie.
“Tannie Ansa? Ons is weer vêr vandag. Kuier ons in ons eie kop? Ek sê, hier is Tannie se tee! Tannie speel weer so mooi vandag.”
Die ouer vrou draai om en glimlag ondeund.
“Ek hoor jou, Emma, dis my brein wat gaan, nie my ore nie!”
Ansa staan op en gaan sit op een van die rusbanke. Sy klop gebiedend met haar hand op die kussing langs haar. Emma gaan sit gehoorsaam en hou die tee na haar uit.
“Wat boer Tannie weer so vroeg voor die klavier?”
“Ek’t niks geslaap nie, Emmatjie. Bly jy is weer aan diens. Die nagspan is so treurig en kla heeltyd.”
Emma lag.
“Ja, ek hoor hulle kla dat Tannie die hele nag klavier wil speel! Matrone sê ook die Tannies van gang vyf het gekla oor Tannie se musiekuitvoerings deur die nag. Mevrou Kruger sê glo sy het jare gelede van Tannie se konserte bygewoon, maar toe het Tannie nie so dieselfde ding oor en oor gespeel nie.”
Ansa snork verontwaardig.
“Dis nie ’n ding nie, dis Beethoven se Maanligsonate! Gaan sê jy dit vir ou Kruger. En sê sommer vir haar ek oefen vir ’n groot konsert.”
Emma pof die kussings agter die ouer vrou se rug reg.
”Regtig, Tannie Ansa? Gaan ons weer konsert hou?”
Ansa sit die koppie langs haar neer. Sy staan op en stap weer klavier toe.
“Miskien die keer in die Nico Malan. Jy kan heel voor sit. In die middel.”
Emma staan op en gaan sit op die stoel die naaste aan die klavier. Sy vou haar hande op haar skoot asof sy na ’n uitvoering luister.
“In die voorste ry. Net so my Tannie.”
Ansa se hande streel oor die klawers.
“Ek sal die beste uit my repertoire speel. Foutloos, soos met my Europese toer van 84. Jy sal sien. Die resensente sal skryf: ‘Ansa Duvenhage se laaste kragtoer’. Hulle sal onthou … onthou hoe ek gespeel het voor ek …”
“Tannie sal daardie aand nie een noot vergeet nie. Dit sal so ’n pragtige konsert wees!”
Die ouer vrou staan op en buig voor Emma wat lustig hande klap.
“Ek sal ’n staande ovasie kry. Maar ek mag nie foute maak nie. Ek sien nie weer kans vir … ek moet hulle wys ek kan nog.”
Sy begin huil en Emma staan besorgd nader.
“Dit was vreeslik. Die gejou. Ek hoor dit nog in die nag. Ek sal speel tot ek dit nie meer kan hoor nie. Hoor jy?”
Emma druk die ou vrou teen haar vas.
“Moenie onsteld raak nie, niemand gaan Tannie uitjou nie. “
Ansa kyk bang na haar versorger.
“Sê nou ek raak daardie aand deurmekaar? Sal jy naby wees as ek vergeet? Sal jy gou die gordyne toetrek? Hulle mag my nie so sien nie. Nie weer nie. Sal jy?”
Emma paai en troos. Sy neem Ansa se hand en begin stadig die gang af stap.
“Tyd om kamer toe te gaan, Tannie. Ek sal daar wees, rustig nou. Ek is mos nou aan diens. Ek is hier in die gang. Lui net die klokkie. Maar gaan rus nou eers. Ons kan later weer vir die groot konsert oefen.”
Ansa sit op die kant van die bed terwyl Emma haar skoene uittrek. Die jonger vrou tel haar voete op die bed en trek die kussings reg. Sy trek die gordyne toe.
“Emma? My gedagtes, dit raak elke dag al meer weg. Ek vergeet. Dit voel of … of iemand die gordyne oor my onthou toetrek.”
***
’n Middeljarige man trek die gordyne in sy musiekkamer toe. Hy maak die klavier oop en gaan sit op die klavierstoeltjie. Hy klop met sy hand op die oop spasie langs hom. ’n Dogtertjie staan eenkant. Sy beweeg stadig nader as hy weer op die stoel klop.
“Kom, kom, Ansatjie. Tyd om te oefen. Wys my hoe mooi jy geoefen het.”
Die kind snik-huil saggies. Die man neem haar ferm aan die hand en trek haar tot langs hom.
“Nee, oom Stan, ek hou van die gordyne oop. Dan kan Mamma sien as …”
Sy wip van die stoeltjie af en gaan staan weer ’n entjie weg van die man.
“Weet Oom wat? My mamma gaan vandag vroeg kom, Oom sal sien!”
Die man staan op en neem die kind weer aan die hand. Sy trek weg van hom af en huil saggies.
“Kom nou Ansa, jou mamma het sustervergadering. Sy kom nie vroeg nie. Sy het juis gevra jy moet vandag langer bly. Maar jy is mos veilig hier by my, my grootnooi?”
Ansa huil harder.
“Kom sit hier langs my. Jy oefen mos spesiaal vir my? Ek luister net vanoggend weer so na Annine en ek dink by myself, daardie Ansa, sy speel baie mooier as Annine. My klein Ansa met die bokstertjies wat so wip-wip as sy speel.”
Die man sit sy arm om die snikkende kind. Sy beur weg.
“Nee, Oom Stan, ek kry so koud as die gordyne toe is.”
Die man trek haar stywer teen hom vas.
“Kom nou, Ansatjie. Skuif die beentjies styf teen my. Laat ek hulle warm vryf.”
Die kind skop teen die klavier en beur weg.
“Nee! Ek wil nie! My mamma kom nou!”
Die man tel die spartelende kind op sy skoot.
“Kom, kom. Op my skoot. Oepsiedaisie, maar jy word groot! Voel die boudjies is al so lekker rond en sag.”
Die kind huil klaend. Sy stoei om uit die man se greep los te kom.
“Mamma kom netnou, Oom sal sien.”
Die man skuif haar van sy skoot af op die klavierstoeltjie.
“En dan sal sy seker wil hoor of jy mooi gespeel het? Jy het mos geoefen?”
***
Die dogtertjie sit voor ’n klavier in ’n ruim sitkamer. Haar ma staan agter haar terwyl sy ’n eenvoudige kinderstuk hortend op die klavier tokkel. Die kind snik tussen die note deur.
“Jy kan maar huil dat die kranse antwoord gee, Ansa! Jy sal oefen tot jy dit glad speel!
Jy gaan nie Oom Stan se tyd mors nie! Jy is die een wat musiekles wou neem. Wil mos als doen wat Annine doen. Oom Stan het genoeg werk as orrelis. Hy hoef nie die dominee se stoute kind te leer nie. Hy doen ons ’n guns!”
Die kind buig vooroor en huil onbedaarlik.
“Mamma, my magie is seer!”
Die vrou dwing die kind regop.
“Ansa, moenie weer daarmee begin nie. Sit regop en speel!”
Die kind speel huilend voort.
***
Die kind speel dieselfde hortende stuk in Stan se musiekkamer.
“My magie pyn, oom Stan, ek kan nie speel nie.”
Die man tel die kind se rokkie op. Sy probeer opstaan, maar hy hou haar vas.”
“Kom, laat ek die magie vryf, dan voel my grootnooi beter.”
Die kind stoei huilend met die man.
“Nee, moenie. Asseblief, Oom maak my seer!”
Die man se asem jaag. Die kind kerm harder.
“Mamma, Mamma moet vandag vroeg kom. Mamma het belowe!”
Sy wriemel haar los en gaan staan vêr van die man.
“Kom nou, Ansatjie. Jy is so ’n spesiale dogtertjie, weet jy? Die mooiste. Ek sê altyd vir jou mamma, Mevrou, U en Dominee is so gelukkig. Julle Ansa, sy gaan dit nog vêr bring. So talentvol.”