- Maak jou hare nat en wend opknapper aan voordat jy in ’n swembad spring. Die opknapper sal jou haarvliesies vul en sorg dat minder chloor geabsorbeer word.
- Beskerm jou hare teen UV-strale (wat dit uitdroog) deur ’n inbly-opknapper aan te wend.
- Hou ongetemde haartjies met serum in plek. As jy nie serum byderhand het nie, smeer sommer ’n bietjie handeroom of lipbalsem aan die haartjies.
- Fyn hare? Gebruik die souterige seewater tot jou voordeel – dit is wonderlik vir volume en tekstuur. Al is jy nie by die see nie, kan jy steeds die voorkoms kry met ’n stileerproduk wat tekstuur gee.
- Pak weg jou haardroër en laat jou hare natuurlik droog word. Son en sout droog reeds jou hare uit en die ekstra hitte van jou haardroër sal dit vererger.
- Gebruik bevogtigende sjampoe en opknapper om droë hare teen te werk. Wissel dit met jou gewone sjampoe en opknapper af.
- “Gooi een telepel koeksoda by jou eerste sjampoe. Dit help om die olierige sonroom en stileermiddels goed uit jou hare te was. Was, spoel af en was dan weer – die keer sonder die koeksoda),” sê Steven Phillips, haarstilis en eienaar van Absolut Hair, Clairmont, Kaapstad.
- Gebruik twee keer per week ’n haarmasker as jy krulhare het; die swem en strandbaljaar sal jou hare meer uitdroog.
- Versorg gekleurde hare met ’n sjampoe en opknapper wat kleur beskerm, want die swem en son kan jou kleur vining vaal laat lyk.
- As jou hare nat is en jy nie tyd het vir droogblaas of stileer nie, is ’n vlegsel die antwoord. Bonus: slaap met jou vlegsel en word wakker met golwende hare.
Lees ook: 5 haarstyle vir ’n moderne voorkoms