Hartjiekolwyntjies
Koop sommer klaarbereide kolwyntjies of sjokolademuffins. Rol plastiekversiersel uit op ’n oppervlak wat met mielieblom bestrooi is. Druk ’n sirkel met ’n 7 cm-koekiedrukker uit en druk dan liggies met ’n hartjiekoekiedrukker op die versiersel om hartjiebuitelyne te vorm. Sit die sirkel op ’n klaarbereide sjokolademuffin. Meng ’n teelepel poeiervoedselkleursel met ’n teelepel vodka of jenewer. Verf die hartjie daarmee en laat droog word.
Soetkoekies met ’n suikerbolaag
Rol jou lekkerste soetkoekiedeeg op ’n meelbestrooide werkvlak uit. Druk verskillende groottes hartjies uit die deeg. Strooi gekleurde suikerkristalle of Nicoletta se Cake Crystals oor. Bak soos gewoonlik.
Soetkoekies met aarbeikonfytvulsel
Rol soetkoekiedeeg op ’n meelbestrooide werkvlak uit. Druk met ’n reghoekige koekiedrukker twee blokke uit die deeg. Druk ’n hartjie uit een van die reghoekige blokkies. Gaan so te werk tot die deeg op is. Bak volgens die resepaanwysings. Syg 125 ml aarbeikonfyt deur ’n sif. Sit in ’n kastrol, bring tot kookpunt en laat prut tot die konfyt dik raak. Smeer die konfyt op die koekie en sit ’n koekie met die uitgedrukte hartjie bo-op. Vul die hartjie met konfyt. Laat afkoel.