Iedere mens dra ‘n bos sleutels met hom mee. Wat daarmee oopgesluit kan word, is wat tevore toegesluit is. Want van die vroegste tye af sluit die mens al dinge agter hom toe. Sodat net hy en hy alleen as draer van die sleutels weer toegang daartoe mag hê. So doen die koopman wat op verre reise gaan. Die huisvrou wat inkope gaan doen. Die kerkvader wat na die bank gaan. Die bankier wat na die kerk gaan.
So beskerm die mens nie alleen dinge wat aan hom behoort nie, maar ook homself. Omdat hy in sy denke altyd iemand wat ook ‘n mens is sien wat met minder goeie bedoelings op sy goed of persoon mag afkom.
Nog kosbaarder sleutels is egter die onsigbare sleutels. Sleutels tot die hart. Sleutels tot die poorte van die Hemel. Sleutels tot geluk. Sleutels tot ‘n nuwe toekoms. Sleutels tot welvaart. Sleutels tot welgeluksaligheid.
In Zagreb ontsluit die koms van die lente met ‘n goue sleutel ‘n miljoen harte wat, wanneer die son warmer word, met uitbundige vrolikheid die straatterrasse en promenades se kafees en restaurante in gesellige bymekaarkomplekke uit die winterslaap laat ontwaak. Die geur van vars koffie hang dan oral in die lug op die gewilde restaurantpleine van Ban Josip Jelacic, Tkalciceva en Preradovic.
Straatmusikante het dan weer hulle instrumente oopgesluit en nooi ons met pragtige bekende ou melodië om op van die talle parkrusbankies onder die nuwe groen botsels van die stokou plataanbome te verpoos en nuwe kennisse te ontmoet.
Ons voel hoe ons vinnig deel word van ‘n kosmopolitiese ou stad waarvan die hoekstene tot duisende jare VC terugdateer. Ons drink stadig aan ons koffie en peusel aan kremšnita – Kroasië se beroemde roomkoek wat in die nabye dorpie van Samobor gemaak word. Kroasiërs lees rustig hulle koerante voordat hulle naderhands koers kry na die Dolac mark om vars groente en vrugte te koop.
In elke omgewing in Zagreb is daar sulke gewilde bymekaarkomplekke waar mense hulle harte vir mekaar ontsluit en waar almal mekaar by die naam ken. In Zagreb bly jy nie lank ‘n vreemdeling nie.
Teen sononder in Gorni Grad en Kaptol, in die Middeleeuse ou stadsdeel teen die rand bokant Novi Zagreb, loop ons twee musketiers raak. Hulle dra die sleutel waarmee die ou romantiek van ridders te perd en feëtjies weer vir die nag opgetower gaan word. Met romantiese ligkaatsings oor die spieëlgladde kobbelsteenstegies word nie minder nie as 217 gaslampe wat vir die eerste keer in 1863 aangesteek is nog pligsgetrou iedere aand wanneer skemerte val met flikkerende vlamme brandend gemaak.
Ons is oortuig daar is geen ander plek waar mens so snel in ‘n oogwink met die draai van ‘n geluksleutel na ‘n Middeleeuse fantasiewêreld van duisende jare teruggevoer kan word nie – waar jy nog kan luister na die klokkespel van eeue-oue klokke wat uur na uur oor die stad beier en ‘n menigte meevoerende stories oor kelkies wyn tevoorskyn gehaal gaan word. Verhale oor tye toe die stadspoorte se deure nog snags deur die bewaarder van die poortsleutel gesluit is sodat die inwoners in vrede en veiligheid wonderlike drome van goue strande met wuiwende palmbome kon droom.