Kort ná my mondigwording is my pa in ‘n ongeluk dood. Twee maande tevore het hy vir my ‘n verjaardagbrief geskryf waarin hy gesê het ek moet onthou die lewe sal storms bring, maar ook winde wat die grys wolke weer sal wegwaai en die wêreld groen en vars sal laat.
Jare lank het ek gewonder hoe hy so seker kon wees. Om my was daar mense wie se lewens deur storms uitmekaargeruk is – die verlies van gesondheid, ‘n huis, ‘n huwelik, finansiële sekuriteit, of die dood van ‘n kind. Dikwels het ek getwyfel of hul oë ooit weer sou blink.
Sedertdien was ek bevoorreg om mense te leer ken wat hul pyn dapper ontmoet het, daardeur geworstel het, en hul vertroue in die lewe teruggekry het. Hulle het die lig in die diepste donkerte gaan haal. Hierdie lig skyn helderder as wat ek kan beskryf – ek hou my liewer in voor ek dalk in ‘n 2014-weergawe van Helen Steiner Rice ontaard!
Feit is: my pa was reg. Anderkant die grysheid kan ‘n ongelooflike landskap lê en wag. Om hierdie ryker wêreld te betree, lyk dit my, is die voorwaarde egter die bereidheid om jou te laat oopbreek. In haar boek Broken open skryf Elizabeth Lesser: “Will we be broken down and defeated, or broken open and transformed?”
Dalk is die geheim dat die stormwind déúr jou moet waai. Jou omwaai, óópwaai, sodat die helende reën en sonlig deur die krake in jou mondering kan stroom. Wanneer die tyd reg is – tot jou algehele verstomming – kan daar ‘n lieflike landskap, ‘n groen en vars een so reg uit ‘n Disney movie, in en om jou verskyn.