4 tekens van skisofrenie wat jy kan sien deur Salomé Delport. Hooffoto: Christopher Ott vir Unsplash
Waarskynlik is jy, net soos ek, ’n bietjie bang vir skisofrenie. In werklikheid is dit maar net nog ’n siekte, en nie eens ’n aansteeklike een nie. Dit word ook nie met geweld en misdaad vereenselwig nie. Dit is ’n taamlik onskadelike toestand. Die een wat swaar kry, is die een wat daaraan ly.
Gelukkig kan sowat 50% van mense met skisofrenie hul toestand nou so goed met medikasie beheer dat hulle heeltemal normaal met hul lewe aangaan – ’n werk behou, ’n huishouding aan die gang hou met van potplante tot kinders, en ja, dan ook suksesvol in ’n verhouding wees. Net ’n klein persentasie benodig permanente sorg.
Hoe word skisofrenie gediagnoseer?
So ’n positiewe verloop begin met ’n akkurate diagnose. Iewers moet iemand besef dat hier meer fout is as net ’n “moeilike” persoon. Ouers, kamermaats, huismaats en goeie vriende is gewoonlik die eerste wat agterkom dat iets verander het.
Waar begin ’n mens?
As jy vermoed iets skort, vra jou dokter vir ’n verwysing na ’n psigiater.
Vir behandeling in die staatsektor skakel jou munisipale kliniek om vas te stel op watter dag elke week of maandeliks vir psigiatriese pasiënte uitgesit is.
Diagnose móét deur ’n psigiater gedoen word. Moet nóóit toelaat dat ’n algemene praktisyn jou diagnoseer en behandel nie. Die verkeerde diagnose en behandeling kan die toestand vererger.
Tekens van skisofrenie wat jy as ma kan raaksien
Skisofrenie steek meestal kop uit in die middeltienerjare tot vroeë dertigs. Gewoonlik verloop sowat twee jaar voordat die toestand kommerwekkend genoeg is vir die mense rondom die persoon dat hy by ’n dokter uitkom.
Jy as ouer is naaste aan jou kind. Hier is van die tekens wat jou moet waarsku dat iets skort:
- Woordslaai
Die draad van jou kind se gesprek kan net in die wydste sin as samehangend beskryf word. Hy spring van een onderwerp na ‘n heel onverwante onderwerp. Hy volg nie gesprekke nie en maak onvanpaste afleidings. - Hallusinasies
Hy ervaar sensoriese wanpersepsies, soos dat hy stemme hoor, beelde sien en selfs reuke ervaar wat nie bestaan nie. Eintlik behoort enige iemand ná selfs net een voorval van hallusinering na ’n psigiater te gaan. Dit kan ’n teken van ander toestande ook wees. - Delusies
Jou kind het ’n irrasionele maar baie besliste oortuiging. Hy kan byvoorbeeld ’n vervolgingswaan hê, soos dat iemand hom afluister, agtervolg, beheer of wil vermoor. Party glo hulle beskik oor unieke vermoëns soos dat hulle onidentifiseerbare dinge kan sien. Ander glo dat ’n hulle ’n besonderse identiteit het en eintlik ’n ruimtewese, god, koninklike, rolprentster of kenner van een of ander onderwerp is. - Aantasting van kognisie-gebaseerde vermoëns
Mense wat vantevore goed kon werk en studeer, sukkel onverwags om te konsentreer. Dit lyk asof hulle nie nuwe inligting inneem en verwerk nie. Hulle geheue is aangetas of wisselvallig. Baie laat basiese take soos selfversorging na. Kortom, hulle verloor die vermoë om hul lewe onafhanklik te bestuur en verantwoordelikheid te neem.
Wat as skisofrenie by jou kind gediagnoseer word?
Dit is nie nodig om paniekerig te raak nie. Dit kan beter uitwerk as wat ‘n mens ná jou aanvanklike skrik verwag. Mense met skisofrenie is meer geneig tot dwelmmisbruik, en moet hieroor ingelig word. Die helfte van mense met skisofrenie ly ‘n normale lewe – en is selfs uiters suksesvol.
Kyk net by watter beroemde en suksesvolle mense is skisofrenie gediagnoseer:
- Die 1994 Nobelpryswenner, dr. John Nash, op wie se lewe die Oscarwennerfliek A Beautiful Mind gegrond is. Hy is op 31 gediagnoseer en het op 56 die Nobelprys vir sy werk oor ewekansigheid in ’n komplekse stelsel verower. Hy het letterlik 35 jaar lank uiters produktief en hoogs suksesvol gewerk. Sy teorie word steeds in talle stelsels gebruik.
- Syd Bartlett van Pink Floyd
- die skrywer Jack Kerouac
- en minstens een kliniese sielkundige, Rufus May van Brittanje.
Dit is vir baie mense moeilik om hul skisofrenie te aanvaar. Hy – en sy naastes ook – loop dikwels ’n lang pad voor hy vrede maak hiermee sodat hy getrou sy medikasie gebruik en kan aangaan met ’n lewe waarin sy talente en gawes kan blom.
Onthou
Kennis is mag. Lees na soveel as wat jy kan. Bly by betroubare webwerwe soos SADAG.
Vergeet van “wonderkure” soos Himalajasout of superdosisse van vitamiene.
As jy wel ’n ander soort terapie wil probeer, bespreek dit met jou psigiater. Moontlik kan dit nie skade doen nie – en ook nie help nie.
Lees ook: Die kwaai kalante: Raad vir ouers met aggressiewe kinders