Skeur die voorskrif op deur Ina Genade. Hooffoto: iStock/voyata
Skeur die voorskrif op
Dalk is dit die hitte. Dalk ’n teken van die tye. Of, dalk is ek nou bloot uiteindelik aan daardie bevrydende kant van veertig-en-’n-bietjie, maar ek steur my ál minder aan wat mense dink.
Is ek vandag lus om my nuwe linnebroek vir die tweede dag in ’n ry te dra? Dan doen ek dit.
Is ek lus om tien minute later te lê soggens en ongegroom met my gunsteling Amsterdam T-hemp in die kar te spring om die kinders betyds by die skoolhek af te laai? Dan doen ek dit.
Is ek regtig nie lus om in te skakel by ’n nuwe inisiatief om fondse in te samel nie? Dan sê ek hoflik nee.
Uiteindelik begin ek verstaan dat wat mense van jou dink, regtig nie jou probleem is nie. Die regte mense aanvaar jou soos jy is. Solank wát jy doen nie ’n ander ou benadeel nie, behoort ons elkeen die vryheid te hê om onsself uit te leef.
Met dié nuutgevonde besef van vryheid, het ek my voorgeneem om nie betrokke te raak in ander se veldtogte wat aangevuur word deur vooropgestelde idees nie.
Die kuberruim wemel daarvan en die eiertjies wat sommige lê oor ander se manier van doen, word dikwels die vrot eiers waarmee hulle weer bestook word. Meermale lei dit tot eier op die gesig – en sommer net ’n algemene gevoel van ongedurigheid en onvergenoegdheid.
Onlangs het ’n kuberkennis haar mes in vir wat sy beskou as lamsakkige vroue wat hulle loopbaan opsy geskuif het om op hulle gades te teer. Redelike eensydige argumente volg en die ou-ou debat van “werkende versus nie-werkende vroue” vlam op.
Ek het summier belangstelling verloor, want in my dag des lewens het ek nog nooit ’n vrou teegekom wat nié werk nie. Al onderskeid wat ek in my eenvoud tref, is vroue wat werk vir ’n salaris en dan vroue wat hulle ook boeglam werk sonder finansiële vergoeding en byvoordele.
Maar, dit het my laat wonder: Hoekom is ons só vreeslik voorskriftelik?
Reeds voor ’n baba gebore word, is daar voorskrifte: Moenie so-en-so nie, want jy kan die swangerskap in gevaar stel deur só te eet of oefen of nie te eet of oefen nie.
Natuurlik kraam teenoor keiser.
Borsvoeding teenoor bottel.
Babakamer teenoor slaap tussen die ouers.
Fopspeen of geen.
Self kind grootmaak teenoor oppasser, dagma of crèche.
Moedertaalonderrig teenoor “in Engels skoolgaan want dan is die wêreld die kind se oester”.
Betrokke ouerskap teenoor helikopter-ouers.
Help nooit in die snoepie of by sportdae nie teenoor “sy meng ook orals in sodat haar kind moet hoofseun word”…
“Onsportiewe” kinders teenoor kinders met ’n oorvol program.
Kinders wat ten alle koste moet studeer teenoor kinders wat “sonder rigting” ’n oorbruggingsjaar na skool neem.
Jong verliefde studente wat na slegs ’n paar maande besluit om te trou teenoor “oujongnooiens” van amper dertig.
Jong getroudes wat dadelik met ’n gesin begin teenoor diegene wat “eers op amper veertig wakker skrik weens hulle biologiese klok”.
Mense wat voel een kind is genoeg teenoor die gesin wat “probeer vir ’n dogtertjie” na vier seuns.
En so hou dit aan. Niks is ooit net goed genoeg nie.
Ons vooropgestelde idees en voorskrifte plak links en regs etikette op ander.
Dit is ongelukkig die voorbeeld wat baie kinders kry: Kritiseer ’n ander ou om beter te voel oor jouself en jou keuses.
Hartseer, want eintlik veroorsaak dit soveel ongelukkigheid en spanning binne jouself.
As elkeen net doen wat hy doen, so goed hy dit kan doen en eerder daarop fokus op hoe sy eie optrede en uitsprake ander raak, sal dit die wêreld heelwat minder ongenaakbaar maak.
As diegene rondom jou voel dat jy hulle hulle regmatige plekkie in die son gun, sal hulle bes moontlik ook minder krities staan teenoor jou en jou keuses.
Lewe en laat lewe. Ons het ’n kort tydjie op die ronde blou planeet – ons kan dit netsowel lekker maak vir mekaar.
Lees Ina se ander blogs vir rooi rose – klik hier.