Die eerste naweek van elke maand kom tant Gesie vir ons kuier. Tant Gesie is my ma se jongste suster en haar volle name is Gesina Jakoba Lodewika Cornelia de Beer.
Tant Gesie was een keer lank, lank gelede met ’n wewenaar met ’n swetterjoel groterige kinders getroud. Ook net vir ’n paar jaar. Die wewenaar is deur ’n weerligstraal doodgeslaan toe hy besig was om die dak van hul huis reg te maak. Teen daardie tyd was al sy kinders al uit die huis uit. Maar nogtans, desnieteenstaande glo my tante sy is ’n ekspert op byna elke gebied van die lewe – van die huwelik en kind grootmaak tot die toestand van die wêreld.
En niks kan sy vir haarself hou nie. Oor alles wat gebeur, lewer sy kliphard kommentaar tot my kinders, wat hulle nou al vir jare lank skaars hou as tant Gesie kom kuier, se groot verleentheid.
Die sjampanje-ontbyt was nie vir Tant Gesie se naweek beplan nie, maar elke ander naweek wat ek voorgestel het, kon iemand dit nie maak nie. En so het tant Gesie dié Saterdagmôre toe ook haar plek aan die tafel ingeneem.
Vir eers sê sy niks nie. Haar kraalogies flits net van die een na die ander en sy drink tog te lekker aan die lemoensap met ’n goeie skootjie sjampanje daarin. Ek weet in daardie kop van haar maak sy optel- en aftreksomme dat dit ’n narigheid is. En ek wonder wat sy van my vriendinne dink.
Daar is goedversorgde, selfversekerde Lucille, ’n suksesvolle sakevrou, wat gereeld na Europa reis. Wilna, pas vir die derde keer geskei, met drie kinders, een by elk van die drie mans, sit oorkant tant Gesie. Mariëtte, kunstige kunssinnige Mariëtte skilder en skryf, maar het nog nooit juis sukses behaal nie. Langs tant Gesie sit Lettie wat alles perfek probeer doen, van haar werk tot haar huishouding tot haar kinders. Soos ons vroue soms maar maak, praat ons na die eerste glasie reeds oor ’n ander gesamentlike vriendin, Annekie, wie se man haar vir ’n jonger weergawe ingeruil het. Annekie maak die lewe glo vir haar gewese man en sy nuwe vrou bitter moeilik.
“Ek sou dit ook doen,” sê Lucille laggend. “As ek getroud was en hy los my, sou ek hom ook hel gegee het.”
Wilna is omgekrap. Dis die rede waarom haar tweede en derde huwelikke misluk het, sê sy. “Trou jy met ’n man wat alreeds voorheen getroud was, het jou huwelik hoegenaamd geen kans nie. Sy vorige vrou, of vrouens, sorg daarvoor. As ek ooit weer trou, sal dit wees met ’n man wat nog nooit getroud was nie.”
“Ja,” sê Mariëtte, “die Engelsman wat gesê het ‘women beware women’ het ’n punt beetgehad.”
Ek sê my femministiese sê. Ek lê sterk klem op die band tussen vroue en word heelhartig deur Lettie ondersteun, maar die ander lag net en vertel staaltjies om te bewys dis vroue, nie mans nie, wat alewig dinge vir hulle moeilik maak.
Maar toe onthou Lucille dat dit ’n man was, een van haar ondergeskiktes, wat haar ’n vorige saketransaksie gekos het.
En sy was so kwaad dat sy ’n glas wyn oor hom uitgegooi het.
Almal van ons ken soortgelyke staaltjies en gou praat ons oor hoe dom mans soms is.
“Dis hoekom hy geloop het,” sê Wilna. “Toe ek vir hom in sy gesig gesê het, dit was ’n dom ding om te doen.”
Ons maak almal simpatieke geluide en dis toe dat tant Gesie, van wie ek teen hierdie tyd vergeet het, lostrek. Sy sny skerp deur ons opgewonde stemme totdat ons tjoepstil vir haar sit en luister.
“Die moeilikheid met julle,” sê tant Gesie en haar ogies flits van die een na die ander, “is dat julle dit almal te maklik het. Huiswerk is vir julle niks nie, julle masjiene en bediendes doen dit. Kind grootmaak is niks nie, want julle het omtrent nie kinders nie, en klere maak hoef julle ook nie te doen nie, want julle koop op jul klerekaarte vir ingeval julle dit nodig gaan kry. En wat julle werk vir geld noem, laat ’n mens lag, want dis opdress en uiteet of so ’n bietjie speel op daai woordmasjien,” en hier kyk sy nou direk na my.
Net toe kom my man daar verby en sê: “Ek is op pad. Wil tant Gesie saamgaan of nie?”
En gelukkig spring tant Gesie dadelik op en gaan haal haar groot ou swart handsak waarsonder sy nie by die voordeur uitgaan nie.
Toe tant Gesie weg is, gesels en lag my vriendinne almal tog te lekker oor my “snaakse, dwars, outydse, eksentrieke” tante.
Almal was skaars weg of my man en tant Gesie kom terug van die winkels af. Albei dra swaar aan die pakkies.
In die kombuis help ek uitpak. Dis meel en suiker en karringmelk en piesangs en dadels.
“En nou tant Gesie, gaan Tante basaar hou, of wat?” vra ek verbaas.
Maar sy antwoord my eers na sy byna die hele inhoud van die kombuiskaste op die werkoppervlak uitgepak het.
“Nóú Alida-kind,” sê tant Gesie triomfantelik, “gaan daar ’n slag gebak word in hierdie huis. Jy het mos ’n vriesmasjien. Jy kan dit net sowel goed gebruik ook.”
“Kan ek help?”
“Nee, was jy maar jou sjampanjeglasies en pak maar die res van die skottelgoed in jou masjien in.”
Women beware women, sê ek in my binneste want teen hierdie tyd kan ek haar woordpyltjies oor my hele lyf voel steek.
Terwyl ek besig is, kom ’n kind met ’n boek in haar hand ingedrentel en eet die res van die klein vleispasteitjies en die flentertjies pizzas op en brom omdat daar nie sjampanje oor is nie.
Tante Gesie is vir ure besig in die kombuis en een keer toe ek so half skuldig weer gaan vra of ek kan help, sê tant Gesie “Nee Alida-Kind, gaan werk jy maar die knoop aan Johan se hemp vas. Dit sit nog net aan ’n rafeltjie. Dit gaan enige oomblik afval en wegraak.”
“Tante Gesie, sê ek trots, “in dié huis werk elke man en kind hul eie knope aan.”
“Ag, siestog,” is al wat tant Gesie sê. En later toe ’n kind by die kombuis indrentel om vir hom koeldrank te skink, hoor ek tant Gesie sê: “Jy moet maar jou klere wat werk nodig het vanaand vir tant Gesie bring, hoor.”
“Werk nodig het? Hoe bedoel tante nou?”
“Nee, ek sien jou klere hang so windskeef asof dit vir ’n groter mens gekoop is en jou langbroek is sleg stukkend by die knieg langs.”
“Dit moet so wees, tante,” sê die kind.
Laatmiddag toe ons koffie drink en tante Gesie se karringmelkbeskuit eet, en die twee piesangbrode en die dadelbrood in die kombuis op die droograkke staan en koud word, vra ek: “Is daar enige van my vriendinne van wie tante hou?”
Tant Gesie se mond skroef eers toe in ’n denkplooi en gaan toe oop: “My kind, nouja, ek weet nie, hulle is sulke aweregse vroue.”
“Aweregs, nee hoe bedoel Tante nou?”
“Hulle weet niks nie, maar hulle dink hulle weet alles. Hoe sal hulle ’n man hou as hulle die hele tyd vir hom vertel hoe dom hy is.”
“Die reëls het verander, tant Gesie, want vroue het verander. Vroue kan vandag vir hulleself sorg. Hulle het mans nie meer nodig soos vroeër nie. En hulle verwag ander dinge van verhoudings.”
“Maar het mans verander?” vra tant Gesie.
Ek verwag dat Johan haar gaan reghelp, maar hy steek met ’n groot glimlag op sy gesig sy hand uit na nog ’n karringmelkbeskuit.