Skep ’n fokusmuur deur Elandrè Swart met Cornel Dunn. Hooffoto: Pexels
Onthou hierdie wenke wanneer jy ’n fokusmuur beplan
- ’n Fokusmuur is die punt in ’n vertrek waarheen die oog eerste getrek word. Kies ’n muur wat reeds die fokuspunt van ’n kamer is, soos die muur waarteen jy jou TV plaas, of die muur agter jou bed.
- Alhoewel ’n bont kleur baie aantreklik lyk, moet jy seker maak dit pas by die res van jou vertrek. As jy ’n nuwe kleur wil voeg tot ’n vertrek, moet jy liefs nie die fokusmuur gebruik om dit te doen nie: Dit kan te oorweldigend wees.
- Hou ook in gedagte hoe besig jou vertrek klaar is: As daar reeds te veel goed gebeur kan ’n fokusmuur dit net deurmekaar laat lyk.
- Moet ook nie in ’n klein vertrek ’n fokusmuur skep nie, want dit sal die kamer kleiner laat voorkom.
- Alhoewel daar byna oneindige opsies is om van te kies, is dit die beste om staat te maak op ’n soliede kleur verf teen jou muur – veral as jy effe bang is vir ’n groot verandering. Om die muur te verf is goedkoper as enige ander opsies, en dis maklik om dit weer toe te verf of te verander as jy nie heeltemal gelukkig is nie.
Lees ook: 5 maniere om kamers groter te laat lyk
So het ons ’n fokusmuur geskep
Ons het ’n redelike vervelige muur bo ’n stel trappe gekies as ons fokusmuur om die vertrek meer lewe te gee. Die vertrek kry baie lig, die ander mure in die vertrek is beige en die huis is modern met ’n oop plan. Ons het Sabre se akriel-dakverf gebruik in hulle donkerste kleur, Charcoal. Charcoal is lekker modern en dit sal ’n dramatiese effek skep in die vertrek.
Lees ook: 5 dekorflaters om te vermy
Stap 1: Ons het begin deur gate in die muur te boor vir die skildery sodat ons nie die nuwe verf vuilmaak wanneer ons boor nie. Ons het maskeerband geplak om seker te maak ons afmetings is korrek en dat ons op die regte hoogte boor.
Stap 2: Plaas koerantpapier op die vloer om seker te maak dat jy nie mors nie. Plak ook maskeerband oor die vloerlys en deurrame.
Stap 3: Begin die muur van binne af buitetoe met ’n roller verf. Om netjies in die hoeke te verf het ons ’n kleiner kwas gebruik. Ons het 2 lae verf aangewend.
Stap 4: Wanneer die verf droog is kan jy die maskeerband aftrek. Ons het besluit om die vloerlys wit te verf sodat dit ’n mooi kontras met die muur vorm. Plaas weer maskeerband op die muur en op die vloer om nie te mors nie. Verf die vloerlys met ’n kleiner kwas. Maak seker jy plak die maskeerband styf teen die oppervlak om geen borrels te veroorsaak nie.
Stap 5: As alles droog is kan jy jou muur voltooi.
Lees nog: Verwyder slegte reuke in jou huis vinnig