Bestanddele
6 klein poedinkies of 1 groot poeding
- 125 ml (½ k) ongesoute botter
- 75 g (½ k) bruinsuiker
- 375 ml (1½ k) bruismeel
- 2 groot eiers
- 125 ml (½ k) kakaopoeier
- 125 ml (½ k) melk
- gerasperde skil van 1 lemoen
- knypie sout
Sjokoladesous
- 125 ml (½ k) ongesoute botter
- 125 ml (½ k) bruinsuiker
- 100 g (1 blok) sjokolade
- 30 ml (2 e) melk
Metode
- Smeer ’n oondvaste 1 liter-poedingbak of 6 x 150 ml-175 mloondvaste bakkies met botter.
- Sous: Meng al die bestanddele in ’n glasbak wat op ’n klein kastrol pas. Maak die kastrol halfvol water en verhit oor matige hitte. Roer tot die sous blink en glad is. Gooi 8 eetlepels van die sous in ’n poedingbak, of verdeel tussen die bakkies. Hou eenkant.
- Meng al die poedingbestanddele goed in ’n voedselverwerker. Skep die mengsel
versigtig uit op die sous in die bak of bakkies. - Bedek die poeding met bakpapier en ’n lagie aluminiumfoelie om die poeding in plek te hou.
- Sit ’n bord in ’n kastrol wat groot genoeg is om die bak of bakkies te hou sodat die poeding nie onder aanbrand nie. Maak die kastrol halfvol kokende water en laat sak die poeding/s versigtig daarin. Die helfte van die poedingbakkies moet met water bedek wees. Voeg nog water by indien nodig.
- Sit die deksel op en draai die hitte af tot matig. Stoom die poeding vir 1½ uur vir ’n groot poeding en 1 uur vir die kleintjies. Maak seker die watervlak bly dieselfde sodat die poeding nie droogkook nie.
- Lig die poeding/s versigtig uit die kastrol en keer op ’n groot opdienbord om of sit voor in die bakkies. Gooi die res van die sjokoladesous oor en sit met dubbeldikroom voor.