1 Spuit ’n vierkantige pannetjie (20 cm) met kleefwerende kossproei en voer die boom en kante met bakpapier uit. 2 Smelt die botter en room oor lae hitte in ’n kastrolletjie en hou eenkant. 3 Laat die strooisuiker, heuning en water stadig in ’n kastrol oor lae hitte smelt terwyl jy deurgaans roer. Was met ’n nat kwassie die suiker af wat aan die kante van die kastrol vassit om kristalvorming te voorkom. 4 Maak seker dat al die suikerkorrels gesmelt is voor jy die temperatuur effens verhoog en die suiker saggies laat borrel. Jy mag nie die suiker roer sodra dit begin borrel nie - dit sal ook kristalle veroorsaak. 5 Smelt intussen die sjokolade vir 1 min. op die ontvriesstelling van die mikrogolf. Roer en sit weer vir 30 sek. terug indien dit nog nie gesmelt is nie. Hou eenkant 6 Kook die suiker tot ’n ligte karamelkleur. Haal die kastrol af en gooi die botter en room by. Roer deeglik. 7 Sit die kastrol terug en kook oor matige hitte tot 120 °C op ’n suikertermometer (sagtebalstadium). *Toets sonder termometer: skep ’n bietjie van die mengsel in ’n piering vol water. As dit bymekaarkom en ’n balletjie vorm, is dit gereed. 8 Haal van die hitte af en roer die sjokolade deeglik by. 9 Gooi die mengsel in die voorbereide bakplaat en laat set by kamertemperatuur. Sny in stafies en draai in waspapier toe.