Sjef Snoekie Hoofstuk 9: Die toets deur Martie Swanepoel. Hooffoto: iStock/apomares
Haal in met Sjef Snoekie! Klik hier om die vorige hoofstukke te lees.
Sjef Snoekie Hoofstuk 9: Die toets
Die bebrildes is al ‘n week lank besig.
Hulle is voorwaar ‘n vreemde spesie van die mensdom, bespiegel Juan en Snoekie. Dis asof hulle regdeur die kombuispersoneel kyk. Geen oogkontak, geen glimlag. Soos robotte.
Hulle is nie die enigste glimlagloses nie. Trouens, daar is geen humor verlore in die kombuis nie. Veral nie by diegene hoër op in die voedselketting nie! Veral Tante Inge … Sy boer deesdae by die restaurant en nie eens haar juwele klingel meer vrolik nie, spot Juan.
Andrea lyk of sy stewig in haar bekkie geruk is, en die front wat sy opsit, vind Juan en Snoekie skreeusnaaks.
“Sy laat my dink aan ‘n dronkie wat probeer nugter lyk. Sy steier onder die spanning, maar sy hou haar pose,” fluister Juan tussen die ekstrakpot se walms deur.
“Sy lyk nooit normaal nie. Lyk altyd of daar ‘n vrot stuk salm onder haar snipneus hang.”
Snoekie geniet Juan se geselskap in die suur atmosfeer. Daarby is hy ook die bron van sappige brokkies. Die skinderstories sluip om elke kliniese hoekie rond.
“Luke vertel my hy het by Ano gehoor Eduard het verby Alphonse se kantoor geloop en gehoor die woorde ‘bedrog op groot skaal’ word genoem. Dit was gister toe jou tante die groot vloermoer gegooi het.”
Tante Inge se tantrum was nogal iets aanskoulik en buitengewoon. Sy is gewoonlik onberispelik formeel en korrek. “Sy het ‘n groot aanval van grêndgeit,” het Snoekie se pa haar gewaarsku.
Maar die erns van die situasie by die restaurant het haar waarskynlik oor die grense van haar ingebore statigheid gestoot. Die uur van die uitbarsting het haar skril stem die somber stilte in die kombuis onderbreek.
Vir ‘n paar sekondes het al die verskrikte personeel in die koers van Alphonse se kantoor gekyk. Tante Inge het uit haar stoel opgespring en gegil dat die glas-afskorstings van die kantoor tril. Toe spring Alphonse ook op en gil terug. Tussen hulle het die hoof-bebrilde mannetjie emosieloos gestaan.
Die kombuispersoneel het elkeen vinnig weer afgekyk na hul werkstasies. Soos ‘n bisarre toneel in ‘n fliek, het almal gemaak of absoluut niks pas gebeur het nie. Dis net die nuuskierige duo, Snoekie en Juan, wat ‘n paar vermaaklike blikke gewissel het.
“Luke sê hy het by Claudia, een van die skoonmakers, gehoor hier kom vandag nog groter drama. Tante Inge bring nog versterkings in. Hulle gaan krap tot hulle kan uitvind waar jou tante se geldjies heen verdwyn.”
Dit was ook nie lank nie, toe marsjeer nog twee manne die kombuis binne. Die een is lank en skraal met ‘n besonder skerp haakneus en ‘n fyn ronde brilletjie. Grys driestuk-pak … en gewapen met ‘n lywige dokumentetas. Sy mater is kort en rond met ‘n bypassende neus wat op ‘n welige snor balanseer. Sy dokumentetas is nog dikker as ou Haakneus s’n. Balie, soos die duo hom dadelik gedoop het, se groot neusvleuels het dadelik die aromas in die kombuis ingeadem. Hy het kwylbek tussen die afgevaardigdes in Alphonse se kantoor gaan sit. Agter geslote deure het dit eers stemming gemompel, maar later venstertrillend gebulder.
“Luke sê Misha, die kelnerin wat vir hulle tee aangedra het, het vasgestel dis jou tante se bankier en prokureur. The plot thickens.”
Die bebrildes het manne met grys oorpakke ingebring om elke gram van elke bestanddeel in die stoorkamers te weeg en tel. Hulle het aan die bebrildes verslag gedoen en die bebrildes het in Alphonse se kantoor verslag gaan doen. Elke verslag het nuwe trillings in die venster-afskortings veroorsaak.
Toe daag nog ‘n span manne, dié keer in bruin oorpakke geklee, op en dra elke liewe skaal by die kombuis uit. ‘n Stel plaasvervangende skale is ingedra.
“Luke sê die kelnerin wat die tee aandra, sê die vingers is gewys na die maatskappy wat die skale verskaf en kalibreer. Nou gaan als weer geweeg en gemeet word.”
Die duo wil ontplof van nuuskierigheid. Juan se hoof-informant, Luke, en sy trawante, se ore is gespits. Elke sappige brokkie versprei blitsvinnig deur die kombuis. Die kombuispersoneel gaan ongestoord aan met hul werk asof hulle van niks weet nie, maar eintlik weet hulle dat daar groot, groot moles by die restaurant is.
Intussen moet die besigheid normaal voortgaan. Die tafels is elke sitting vol bespreek en Alphonse probeer sy bes om sy kombuis tussen die bebrildes en bepaktes te beheer.
Na middagete kom doen Juan verslag met piering-oë.
“Nou is daar groter moeilikheid as groot! Luke het by Elma, die hoofklerk by ontvangs, gehoor hulle vermoed Carlotte Kramer kom vanaand hier eet! Carlotte Kramer!” Juan spreek die naam met vrees en gesag uit.
“Sjnoek, sy is die heks van alle hekse. Die hoof-kosresensent van Indulge, Europa se grootste kostydskrif. Sy sorg altyd dat dit uitlek as sy kom, en sy verwag dan om soos ‘n koninklike behandel te word. Haar swakte is nagereg en sy verwag om verras te word met unieke smake. Arme Alphonse, dit ook nog. Vanmiddag gaan ons bars in hierdie kombuis!”
Carlotte se besoek word later finaal bevestig. Die kommer op Alphonse se gesig is merkbaar.
“Daai vrou het konneksies tot in die binnekamers en die restaurant se strewe na nog ‘n Michelin-ster hang waarskynlik van vanaand af!”
Juan se woorde het skaars koers gekry, of Alphonse bulder oor die kombuis.
“Suzanne! Speserykamer!”
Snoekie kyk paniekbevange na Juan.
“Ek sweer ek het dié keer niks verkeerd gedoen nie!”
Haar bene stap jellierig na die speserykamer.
Alphonse lyk bekommerder.
“Ek het jou hulp nodig.”
“Myne?”
“Jy het seker gehoor Carlotte kom vanaand? Julle weet mos alles? Wel, ek het nie tyd om iets kreatief uit te dink om haar mee te verras nie. Maar ek weet van iemand wat haar smaakknoppies sal skok en verras.”
“O, wie?”
“Jy en daai blessidse trommel van jou.”
“Ek dog ek mag nie my eie bestanddeele in jou kombuis inbring nie?”
Alphonse wys na die bebrildes en die manne met die oorpakke.
“Lyk dit vir jou of dit my kombuis is op die oomblik?”
“Nie juis nie.”
Alphonse vryf sy kuif agteroor. Snoekie sien ‘n paar grys hare. Dit lyk nogal sexy.
“In hierdie stadium het ek niks om te verloor nie. Sien dit so, dis asof die orkeslede op die Titanic se dek speel … en ons probeer die reddingsbootjies vir oulaas vol maak.”
Snoekie verstaan die prentjie. Sy het die fliekweergawe van Titanic al meer as tien keer gekyk en elke keer haar oë uitgehuil as Jack in die yswater wegsink.
Die restaurant is nou in die yswater.
“Kry jy die prentjie? Ons … ek is desperaat. Ek soek na iets opwindends om Carlotte se ou suur mond stil te maak. Ek gee jou carte blanche, doen wat jy wil. Onthou, die restaurant se reputasie is in jou hande. Vanaand is dit maak of breek. Ons sink anyway. Dalk kan jou waaghalsigheid ‘n reddingsboei na ons gooi.”
Alphonse wag nie vir haar antwoord nie. Hy stap met daai sexy swaai in sy smal heupe weg.
Sy jean vou netjies om sy boudjies, merk sy op.
“Wat gaan aan?” fluister-vra Juan.
“Ek het jou hulp nodig. Ek moet vir Carlotte kook!”
“O, my donner!”
Sy kyk kwaai na haar beste vriend in die onvriendelike kombuis.
“Hoe bedoel jy? Vertrou jy my nie?”
Juan vee sy werkoppervlak skoon.
“Nee, ek bedoel net, o donner, daai vrou weet nie wat op haar wag nie!”
Snoekie se brein skakel oor na versnelrat. Wat het sy in haar trommel waarmee sy Europa se grootste smulpaap kan verras?
Sy kyk op haar horlosie. Dan haal sy haar selfoon uit en bel haar ouma. Hulle ruil oor en weer idees uit terwyl Juan na die brabbel in die vreemde taal luister.
“En toe? Wat sê jou ouma?”
“Eenvoud. Dis waarmee ons haar gaan vang. Mens moet nooit te veel vreemde smake saam gooi nie. Met die voorgereg maak ons haar smaakknoppies wakker, ons terg dit. Die sop moet haar tong streel. Die hoofgereg moet net genoeg wees om haar met afwagting na die nagereg te laat uitsien.”
“Luke se kontak sê sy sal vanaand nege-uur opdaag. Dit gee jou ses uur.”
“Dit gee ons ses uur. Jy gaan my help. Ek gaan gou wegglip na my woonstel. Ek gaan my plakboek haal. Ek het inspirasie nodig.”
Andrea kom nader gestap soos ‘n luiperd wat haar prooi bekruip.
“O, ek sien jy is die uitverkorene? Jy het ook nie gras onder jou voetjies laat groei nie? Jy en Alphonse bly mos langs mekaar?”
Snoekie bly maar versigtig vir die vrou. Sy wil haar nie ‘n groter vyand maak nie. Die vrou hou reeds net mooi niks van haar nie.
“Alphonse wil my net toets. Dis al.”
“Met Carlotte? Nee, my skat. Alphonse sal nooit ‘n kans met Carlotte waag nie. Ek glo jou tante het so ‘n bietjie nepotisme gebruik?”
Snoekie wil nie verder met die gesprek aangaan nie.
“As jy ‘n problem met die opdrag het, stel ek voor jy bespreek dit met tante Inge en Alphonse.”
“Slim meisie! Kanaliseer die aandag weg van die onderwerp af. Een ding moet jy mooi verstaan, Uitlandertjie, as jy vanaand droogmaak, sink ons almal saam. Sterkte, Skat, en o ja, Juan is my assistent. Ek het hom toevallig vanmiddag nodig. Jy is dus alleen. Kom ons kyk hoe ‘n ou meisietjie uit die boendoes die mees kritiese tong in Europa teverede gaan stel.”
Snoekie kyk die kort vroutjie agterna terwyl sy wegstap. ‘n Kompakte bondeltjie venyn.
Dan daal die oormag van die situasie op haar neer. Die restaurant is al byna honderd jaar in die Du Monde’s se besit. Sy hoop nie haar claim to fame gaan wees dat sy die Du Monde-nasaat is wat die restaurant op sy swakste oomblik gesink het nie!
Op soek na nog lekker vermaak? Loer hier
Voorlesing: Botox, Barbies en Bietse
Voorlesing: Dans met die rooi rok
Vervolgverhaal: Annemieke Mentz
Laai dit af: Raaisels en woordspeletjies
Laai dit af: Raaisels en nommerspeletjies