Sjef Snoekie Hoofstuk 4: Fyntrap deur Martie Swanepoel. Hooffoto:iStock/scyther5
Lees eers die vorige hoofstukke van Sjef Snoekie:
Sjef Snoekie Hoofstuk 4: Fyntrap
Lucille het Snoekie nie oor Alphonse se humeur en geite gewaarsku nie.
Vliegvoos sit sy dus haar vriendelikste glimlag op toe sy by die internasionale aankomssaal van Charles De Gaulle-lughawe in Parys uitstap. Sy kyk uit vir die hoofsjef, wat haar moet kom ontmoet.
Onwetende lam ter slagting.
‘n Gesellige dik, gryskop man glimlag innemend vir haar en sy stoot haar trollies in sy koers.
“Alphonse?”
Die man glimlag met geel nikotien-tande.
“Non, Philippe!” Hy hou ‘n bordjie vas wat sy taxi adverteer.
Snoekie kyk rond.
Nie een van die ander wagtendes lyk naastenby soos ‘n sjef nie. En, nie een van hulle lyk of hulle in haar belangstel nie.
Alphonse is nie hier nie. Blikskottel!
Na ‘n halfuur staan Philippe weer geeltand-glimlaggend nader. Uit al die taxi-bestuurders wat haar ‘n rit aangebied het, voel sy, hy lyk die onskadelikste. Sy gee hom ‘n kaartjie met die restaurant se naam op.
Hy stoot galant haar swaar trollie.
Hulle is nog besig om vas te stel hoe hulle haar tas en die allemintige trommel met haar kookgerei in sy taxi se klein bagasiebak gelaai gaan kry, toe ‘n lang, maer man nader draf.
“Suzanne Roux?” Hy kyk nors na die bagasie. “Waddehel is in die trommel?’
Sy vererg haar.
“Dis my kookgoed, en jy is laat!”
Die lang man is nie oorvriendelik nie. Geen bly-te-kenne of iets Frans-galant nie. Hy gee Philippe ‘n fooitjie en laai die trommel knorrig terug op die trollie.
“Ons werk net met professionele kookgerei. Jy bring nie hierdie goed by my kombuis in nie!”
Beslis nie Meneer Persoonlikheid nie, besef Snoekie.
Tante Inge kon darem gekom het. Sy som nie maklik mense verkeerd op nie, en hierdie Alphonse is ‘n nare vent.
Dit voorspel niks goed vir haar nuwe loopbaan nie.
Maar sy gaan haar nie laat boelie nie.
“Gaaf om jou te leer ken, Alphonse, is jy altyd so ongeskik?”
Hy gaan staan effe uit die veld geslaan stil en kyk na haar. ‘n Diep frons tussen sy broeiende swart oë. Hy vee sy swart kuif geirriteerd van sy voorkop af. Sy wit katoenhemp se moue is slordig opgerol en die agterkant hang gekreukel oor sy jean. Hy is besonder lank en maer en lyk nie naastenby soos sy gedink het ‘n Franse sjef moet lyk nie. As hy nie so nors was nie, sou mens kon sê hy lyk soos Johnny Depp se aantrekliker broer, maar sy sagtheid op die oog word deur sy mislike geaardheid oorskadu, besluit sy, en wip haar neusie in die lug.
Hy kyk uit sy hoogte na haar kort postuurtjie en sy voel hoe hy elke sentimeter van haar nou molliger lyfie bestudeer.
“Ek sien, jy het die humeurigheid van die Du Monds geërf. Hou dit maar vir jouself. In my kombuis is ek die enigste een wat ‘n humeur mag hê. Jy is hier vir ‘n internskap en onthou dit. Jy is ‘n intern. Ek is nie ‘n Du Mond nie, maar in die kombuis is ek die baas. Verstaan?”
Hy gooi haar bagasie effe hardhandig in sy paneelwa en spring by die bestuurskant in. Sy neem aan sy moet liefs inklim. Hy gaan nie die deur vir haar oopmaak nie. Daai tipe Franse galantheid kry mens net in Barbara Cartland-boeke.
Sy rek haar kort beentjies om by die hoë trap op te klim. Sy sien hy hou haar geïrriteerd dop, want hy is kapabel en ry vir haar weg! Sy skeur byna haar boudspier in ‘n poging om so vinnig moontlik in die paneelwa te kom.
Hy skakel die radio aan en buig oor haar om ‘n CD uit die paneelkissie te haal. Black Sabbath. Dit ook nog! Sy haat heavy rock. Hy stel dit kliphard en haal ‘n verfrommelde pakkie sigarette uit sy bo-sak en steek ‘n filterlose Gauloise aan. Hard core, onbeskofte vent.
Sy kug moedswillig om vir hom te wys sy keur nie sy rook goed nie, maar hy steur hom glad nie aan haar nie. Hy vleg deur die stadsverkeer en dit verbaas haar nie dat hy aan erge padwoede ly nie.
Dis ‘n lafenis as hy die radio sagter stel. Hy maak die een oproep na die ander en wend nie eens ‘n poging aan om met haar te praat nie.
Haar karige Frans is genoeg om duidelik die boodskap uit een van sy gesprekke te kry. Hy praat met ‘n vrou en sy stem klink skielik vriendeliker. Sy tel ‘n paar flirtasie-woordjies op! Sy sal hom nie inlig dat sy Frans verstaan nie. Dit sal vir eers haar geheime wapen wees, besluit sy instinktief. Sy weet sy gaan dit nodig kry.
“Ja, ek het die nuutste protégé van Inge Du Monde gaan oplaai. Ek weet nie hoe lank hierdie enetjie gaan uithou nie. Sy lyk nog soos ‘n kind.” Hy lag. “Sy lyk eerder of sy al die wins gaan opeet. Lekker mollig!”
Sy vererg haar. Ongepoetste vent!
Drie werkers wag hulle agter die restaurant in. Hulle begin haar bagasie by ‘n trap opdra.
“Jou woonstel is die eerste een links. Jy kan na werk gaan uitpak. Ons het ‘n groot funksie vir middagete en nou moet jy eers gaan werk. Ek wil sien of jy dit hier gaan maak.”
Sy voel hoe haar hare krul van woede.
Die kombuis slaan haar asem weg. Sy het nog nooit so ‘n groot kombuis gesien nie. Spierwit en chroom en modern kruip agter die gebou se 200-jaar oue mure weg.
“Dis Annabelle. Sy sal jou wys wat om te doen.”
Annabelle is klein en petite. Haar lippe is bloedrooi, haar hare in ‘n kort Pixie-styl geknip en haar oë grasgroen. Beeldskoon.
Annabelle kyk Alphonse glimlaggend agterna.
“En hoe was die rit saam met Alphonse van die lughawe af?” Sy giggel. “Is jou oordromme gebars? Maar, moet jou nie aan sy humeur steur nie. Jy sal baie by hom leer.”
Sy gee vir Snoekie ‘n uniform en beduie haar na haar werkstasie. Van die ander sjefs loer tussen die stoom deur na haar. Haar werkstasie is tussen Andrea en Juan. Eersgenoemde knik nie eens haar kop in erkentenis van die nuweling se aankoms nie. Haar hare is in ‘n rooibruin poniestert onder die haarnet vasgebind. Sy is middeljarig en haar bril sit op die punt van haar spitsneus. Juan het bruin krulhare en neutbruin oë. Mooi, vriendelike knaap.
Daar is nie veel tyd om rond te staan nie. Alphonse kom plak twee beespote voor haar neer.
“Wys my wat jy hiermee kan maak. Ons sal sien of jy jou eerste dag sal oorleef.”
Sy wit sjefsbaadjie kontrasteer met sy olyf vel. Hy troon intimiderend oor haar uit.
Wat ‘n otter! Sy vergeet Annabelle se raad en gluur kwaai na hom op. Hy probeer haar toets met beespote! Daar wag ‘n verrassing op hom!
Juan kyk na die pote. “Sterkte! Hoop jy weet wat om daarmee te doen!”
Uit haar hoek bulder Andrea. “Juan, ek wag vir die ekstrak! Daar is nie tyd om te mors nie!”
Sy kyk regdeur Snoekie na Juan. Haar ligblou-ogies op venynige skrefies.
“Welkom by Morceaux,” fluister Juan en gaan aan met sy werk.
Die beespote is nie behoorlik skoongemaak nie, maar dit is nie die eerste keer wat Snoekie beespote voorberei nie. Sy volg die geluid van die slagtersaag en wag haar beurt af. Dan saag sy die pote self in netjiese skywe.
Niemand doen moeite om haar te wys wat in die kombuis aangaan nie. ‘n Paar keer sien sy hoe Alphonse uitdagend vir haar loer. Hy is vrek moedswillig. Hy moet weet sy is moeg na die vlug, maar as hy haar wil toets, is sy reg daarvoor!
Sy vind gou haar pad na die stoorkamer en met ‘n geoefende hand soek sy haar bestanddele uit. Hy maak ‘n fout as hy dink twee beespote gaan ‘n Vrystaatse plaasmeisie onderkry!
Alphonse brul en gil op sy personeel. Die kombuis gons en kletter en die geregte word blitsvinnig en geurig uitgestuur.
Snoekie se beespote prut gesellig. Sy is vol selfvertroue. Vandag gaan ‘n ongepoetste Fransman sy woorde sluk. Sy kort net ‘n knypie behoorlike kerrie. Sy het aan al die speserye in die stoorkamer geruik en geproe, maar nie een het die presiese smaak wat sy soek nie. Sy kort egte Robertsons Rajah-kerrie. Soos die oranje pakkie in haar trommel …
Sy wag haar kans af en glip by die agterdeur uit, op met die trappe, tot by haar klein eenman-woonstel. Daar is ‘n balkonnetjie na die hoofstraat bokant die restaurant. Haar trommel en tas staan in die middel van die vloer. Sy steek die Rajah soos ‘n kosbare kleinood in haar voorskootsak. Net ‘n klein knypie, dis al wat haar beespote nodig het.
Terwyl die rustigheid op die kombuis neerdaal na die middagete-spitstyd, is Snoekie nie eens bewus van die talle nuuskierige oë wat haar beloer nie. Almal wil sien of sy Alphonse se toets gaan oorleef. Daar is selfs ‘n paar weddenskappe op die kulinêre toekoms van die nuweling van Suid-Afrika.
Snoekie sorg dat haar werkstasie silwerskoon is terwyl sy kook. Sy weet darem so ‘n bietjie van sjefs se vereistes.
Teen opdientyd staan Alphonse nader. Hy ignoreer die lepel wat sy langs die bord neergesit het en haal ‘n lepel uit sy bosak. Hy proe, maar wys eers geen emosie. Dan proe hy weer.
Dan ontplof hy bulderend.
“Wat proe ek? Het jy iets vreemd in my kombuis ingebring?”
Dit voel vir Snoekie of sy weer op skool is en voor mnr. Hermans se lessenaar staan oor sy skool geslip het.
Alphonse proe weer.
Daar daal ‘n stilte op die kombuis neer. Almal wil weet of die Suid-Afrikanertjie dit gaan maak.
Met ‘n groot gebaar strooi Alphonse ekstra sout en peper oor haar gereg. Sy weet dit is ‘n belediging want haar geure is in perfekte balans. Maar sy laat hom begaan.
Hy vee sy lepel met sy voorkoot af en kyk met blitsende swart oë na haar.
“Ek het jou vanoggend gesê jy bring geen vreemde goed in my kombuis in nie!”
Hy hou sy hand kwaai na haar uit.
“Haal daardie pakkie uit jou sak!”
Almal staar nou openlik, want hier speel nou ‘n opwindende scenario af!
Snoekie sy viooltjie-oë blits terug.
“Ek dog jy sê ek moet jou wys wat ek kan doen? Hoe moet ek dit doen as julle nie die regte speserye in julle stoor het nie?”
Alphonse trek nie sy hand terug nie.
“Gee daardie pakkie hier!”
Sy haal die oranje pakkie Suid-Afrikaanse Rajah-kerrie stadig uit haar sak. Dit pynig haar om die unieke mengsel koljander, knoffel, komyn en gemmer aan die vent te oorhandig.
“Jy weet seker dat jy my hele kombuis kan besmet as hierdie goed miet bevat? Jy is nou in ‘n eerstewêreldland! Ek stel voor jy verbrand al die speserye en kruie wat jy saamgebring het! Ek praat nie weer daaroor nie!”
Hy raap die bakkie beespoot-vleis op, en marsjeer weg.
Die kombuis raak weer kletterend besig. Niemand waag dit om in Snoekie se rigting te kyk nie. Hulle het al ‘n paar interns op die eerste dag druipstert sien wegstap.
Snoekie weet haar beesstert was perfek. Sy loer vies na Alphonse. Haar gereg staan nog op sy lessenaar! Dan sien sy iets wat haar toekoms in die kombuis meer rooskleurig laat lyk. Alphonse haal die lepel uit sy sak en neem ‘n eerste, tweede en derde hap van haar beespoot-vleis!
A-ha!
Andrea laat Snoekie hope groente skil tot lank na die aandete-sessie verby is. Juan verwerk dit in groente-ekstrak vir die volgende dag. Teen elfuur die aand blaf Andrea dat Snoekie en Juan nou maar mag huis toe gaan.
“Sorg dat jy more stiptelik agtuur vir diens aanmeld,” knor Alphonse uit sy hoek in Snoekie se rigting.
Toe draai die lang, aantrekliker weergawe van Johnny Depp sy rug op haar, en Snoekie glimlag.
Sy het die eerste rondte gewen!
Kook saam
Het jy gesien?
Ons het ’n blogger, Sunita McDonald, wat saam met haar gesin ’n ou Franse kasteel opknap. Sy vertel ons elke tweede week hoe dit vorder en hoe hulle by hul nuwe lewe in Frankryk aanpas. Ons is seker jy gaan mal wees daaroor! Lees dit hier