Sjef Snoekie Hoofstuk 3: Breek die brood deur Martie Swanepoel. Foto: Martie Swanepoel
Sjef Snoekie Hoofstuk 3: Breek die brood
Snoekie was vir weke gebroke. Sy het gerou oor ‘n liefde wat toe eintlik nooit ‘n liefde was nie. Sy wou nie eet nie en het met haar gekweste hart onder haar duvet weggekruip vir die lewe.
Stefaans en Lucille het probeer troos, maar het effentjies skuldig gevoel oor hulle vreugde oor Werner se uittog uit hul lewens … wat Snoekie se smart veroorsaak het.
Snoekie was onkeerbaar, snikkend in rou gehul.
Tot op ‘n dag.
Een van Werner se kollegas het dit goed gedink om vir haar ‘n sappige sms te stuur en in te lig dat Werner eintlik lank voor die oshart al groener weiveld by die gym gekry het!
Groen … soos die kweekgras en spinasie wat Werner en sy brandmaer, vegetariese nuwe geliefde glo by die hope in hul smoothies gooi.
Dit was ‘n keerpunt.
Snoekie was nou bemoerd.
Haar swart hare het sommer ekstra gekrul.
Hoe durf Werner sy neus optrek vir haar ouma se coeur de boeuf farci, maar intussen eet hy gras soos ‘n koei saam met ‘n ander girl?
Sy het lekker stupid gevoel oor sy haarself so laat mislei het. Al die sweet en martelsessies in die melkkamer-gym was verniet!
Sy het haarself uit die ellende van haar bed opgetrek, haar voorskoot aangetrek, en in die kombuis ingevaar.
Honger vir trooskos.
Na maande sonder stysel, wou sy haar tande laat insink in fyngebak met suiker, vanielje en botter.
Sy wou ganache sag op haar tong voel smelt, die krakerige karamel van ’n crème brûlée breek, en met ’n klein teelepeltjie die romerige soetheid versugtend wegsluk.
Sy het al die verbode vrugte berei wat Werner haar verbied het en waaroor sy snags kwylend gedroom het.
Pattiseries met krakerige deeg, deurweek met suikerstroop, gâteaux van donkersjokolade …
Geen vrou kan smul soos een wat maande op ‘n dieet was en nou aan haarself die groen lig gegee het om uit te breek nie!
Dis buitendien net in die eerste fase van ‘n gebroke hart wat mens nie wil eet nie, weet Snoekie nou. Daarna bied sjokolade en roomys ‘n helende ontsnapping.
Lucille se verweerde Larousse Gastronomique, wat reeds in 1938 gepubliseer is (dit was die breinkind van sjef Prosper Montagné), is oopgeslaan by lekkernye wat verleidelike aromas uit die kombuis laat spoel het.
Stefaans en Lucille was later deurgeëet, maar Snoekie nie.
Sy het gesmul aan café liégeois met roomys en chantilly-room, charlotte-koekstruif met ‘n sjokoladesous en flaugnarde met appels en pere wat in ‘n botterdeeg wegkruip.
Na ‘n maand se vergrype het sy elke gram opgetel wat sy onder Werner se diktatorskap verloor het. Sy het die gym-toerusting op gumtree verkoop en die melkkamer omskep in ‘n kaas-kamer waar sy brie de meaux en camembert de Normandie kon maak. Sagte ryk kase van volroom plaasmelk.
Lucille het toegekyk hoe haar kleindogter haar hart en siel weer terugsit in haar kookkuns.
Dit was vir haar wreed dat die kind vir so lank nie aan haar eie lekkernye kon smul nie.
Maar sy het ook geweet haar kleindogter is diep ongelukkig en gefrustreerd.
Snoekie het toenemend soos ‘n kluisenaar in die kombuis weggekruip. Sy wou nie dorp toe, kerk toe of basaar toe gaan nie.
Sy wou net kook … en eet.
Dié ding sal ook moet ent kry, het Lucille en Stefaans agteraf geskinner.
Buiten dat Snoekie al hoe molliger geword het, het hulle geweet die kind moet van die gemaksone van die plaas as wegkom.
“Wat nou van jou droom om ‘n Franse sjef te word?” vra Lucille haar een middag voor die stoof waarop ‘n dik garbure met ham, kool en kaas staan en prut.
“Ag, Ouma, ek sal dit tog nie maak nie. Hier in die plaaskombuis kan ek kook, maar in ‘n regte sjef se kombuis sal ek vou.”
Snoekie se skielike selftwyfel is vir Lucille onstellend. Die kind het nog altyd met soveel oorgawe gekook en gedroom.
“Nonsens! Jy hou dadelik op met hierdie pity paartie en ruk jouself reg! Ons Roux’s gaan lê nie in ‘n hoek en kry onsself jammer nie. Daar is sterk gene in jou bloed en jy is ‘n uitstekende sjef. Jy gaan nie jou droom laat vaar omdat ‘n simpel grasvreter nie opgewasse was teen jou gastronomiese talente nie!”
Nee, wat, het Lucille besef. Sy sal planne moet beraam om die kind van die plaas af te kry. Sy wil nie toesien hoe Snoekie agter die plaas se kospotte wegkruip vir die lewe nie. As afstammeling van ‘n bloedlyn goeie Franse sjefs ken Lucille cordon bleu-talent, en haar kleindogter het dit.
Dis toe dat sy haar niggie in Frankryk bel.
Die ou familierestaurant in Parys is net die plek waar Snoekie die fyner kunsies van die Franse kookkuns sal kan gaan leer. Dit het al twee Michelin-sterre en menige meestersjef is al daar opgelei.
Die huidige hoofsjef, Alphonse Ferras, word as een van die topsjefs in Europa beskou.
Na ‘n oor-en-weer organisasie oor die foonlyne is Snoekie se toekoms uitgesorteer.
‘n Internskap van ‘n jaar sal haar loobaan goed laat afskop. Tante Inge waarsku dat Alphonse ‘n moeilike man is, maar Lucille weet haar kleindogter het genoeg kookvernuf om die Fransman gelukkig te hou.
Sy is tevrede dat hierdie inmenging in Snoekie se lewe die regte besluit was, want dit sal ‘n sonde wees om Snoekie se kostalent op ‘n plaas te laat verlore gaan.
Stefaans het saamgestem. Hy sal Snoekie se hulp met die varkboerdery mis, maar sy kind hoort in ‘n sjefs-kombuis.
Na ‘n heerlike feesmaal van ‘n hartlike cassoulet, ‘n kasserol soos net Snoekie dit kan kook, sit Stefaans en Lucille behaaglik terug.
Snoekie wil opruim, maar haar pa beduie sy moet sit.
“Suzanne,” begin hy, en toe weet Snoekie, hier kom nou ‘n ernstige saak.
Haar pa noem haar byna nooit Suzanne nie.
Sy wil vlug, maar die blik in haar ouma en pa se oë maan haar om liefs te sit.
“Die ding met Werner was sleg, dit weet ons. Maar dis tyd dat jy aangaan met jou lewe. Jy kan nie hier op die plaas bly nie. Jy moet wegkom.”
Lucille smeer heuning op die situasie.
“Dis nie dat ons jou nie hier wil hê nie, Snoek. Jy is ons kosbaarste besitting, maar dinge kan nie so aangaan nie. Jou talent en drome vergaan hier.”
Snoekie weet sy moet nou keer.
Haar selfvertroue het ‘n hengse knou gekry en sy sien nie nou kans vir wat sy vermoed haar pa en ouma beplan nie.
“Vandat jy groot genoeg was om jou kop bo die plate van die stoof uit te steek, wou jy net kook. En jy kook klaar soos ‘n kampioen, maar wat het geword van die passie waarmee jy gedroom het van ‘n loopbaan as Franse sjef?”
Snoekie weet haar pa is reg.
Dit was nog altyd haar groot droom, maar noudat dit tyd word om die besluit te neem, is sy bang.
“Ek wil nie weggaan van die plaas af nie,” keer sy.
“Hoekom nie? Jy was nog altyd ‘n go-getter.”
Sy wens haar pa kon weet hoe sy voel. Haar ambisie is teen die vloer.
“Ons het vir jou ‘n internskap van twee jaar by Morceaux Savoureux gereël onder een van die beste sjefs in Europa. Daar is ‘n eenman-woonstel naby die restaurant waar jy kan bly.”
Snoekie voel vasgevang in haar pa en ouma se besluit.
Sy vlug kamer toe.
Vroeg die volgende oggend, kry Lucille haar gevoorskoot in die kombuis. Die verweerde Larousse oopgeslaan by wit brood.
Pain blanc, soos Lucille en haar ouma by Morceaux Savoureux leer bak het.
Toe weet Lucille, Snoekie is op pad Parys toe!
Bak saam
As jy Sjef Snoekie Hoofstuk 3: Breek die brood geniet het, skakel weer volgende week Vrydag om 11h00 in om hoofstuk 4 van Sjef Snoekie te lees!
Intussen kan jy solank inhaal met ons ander vervolgverhale, en begin luister aan ons nuutste een!
Ons nuwe voorlesing:
Lam in Wolfsklere
Geskryf deur Bernette Bergenthuin, voorgelees deur Elma Postma. Begin sommer nou luister.
Vlam
Lees al die hoofstukke van die gewilde vervolgverhaal uit die pen van Martie Swanepoel.
Botox, Barbies & Bietse