Sjef Snoekie Hoofstuk 15: Pampoen deur Martie Swanepoel
Haal in met die vorige hoofstukke – klik hier
Sjef Snoekie Hoofstuk 15: Pampoen
Dit was ‘n vreeslike week.
Die paar dae wat die restaurant toe was, het die bankbalans verder in die rooi gestuur. Alphonse en tante Inge knor in die kantoor rond en die res van die personeel fluister agter hul hande. Almal is in hierdie stadium verdagtes. Almal loer wantrouig na mekaar.
Alphonse roep die sjefs en interns teen elfuur bymekaar.
“Ons sal die hele spyskaart moet verander vir die heropening Vrydagaand. Die pers word genooi en ons mag geen foute maak nie. Ons kan dit net nie bekostig nie. Ek weet dit is moeilike tye, maar ons is nou almal saam in hierdie ding. As ons Vrydagaand heropen, moet ons elkeen honderd present saam staan. Positief. Negatiwiteit sal na die klante deursyfer en dit mag nie gebeur nie.”
Tante Inge lyk al dae nie haarself nie. Haar duur kwaf staan effe punt in die wind. Haar ogies spring angstig rond. Mens kan sien sy is bewus van haar miljoene wat by ‘n drein af loop.
“Die ouditeure sal hul ondersoek die week afhandel, en teen Vrydag sal die brandweer en Polisie die versperrings verwyder. Dan keer alles weer na normaal terug. Dankie vir julle samewerking. Julle mag almal die middag af neem om te gaan besin oor nuwe idees vir die spyskaart. More om tienuur wil ek en Alphonse voorleggings van julle sien. Hou dit binne perke. Ek dink ons het genoeg van boheemse idees gehad.”
Snoekie weet sy verwys na haar. Sy voel die byt in haar tante se woorde. Juan pomp met sy elmboog in haar rug.
“Hoor jy? Jy beter jou gedra,” fluister hy.
Miskien is sy neuroties, maar hoekom klink sy stem so effens dreigend? Sy ruik dit weer. Muskus en speserye.
Sy berispe haarself. Juan is haar enigste vriend hier. Nou wantrou sy hom. Nes die ander personeel mekaar beloer!
Dit alles skep ‘n misrabele atmosfeer in die kombuis. Snoekie is maar te dankbaar om vir die middag weg te kom. Sy neem ‘n bus tot in die buitewyke van die stad. Rungis se mark beslaan 243 hektaar. Gelaai met inspirasie. Vrugte, groente, vis, suiwel. Frankryk is bekend vir sy kosmarkte, Die Franse is fynproewers agter die kospotte.
Sy verloor haarself in geure en aromas. Die beste van die beste. Reuse krappe loer uit ys na haar. Ingevoerde vrugte in sappige skakerings is netjies in rye in bokse verpak. Karkasse van die beste vleis in Europa hang aan hake. Mens kan jou moeg loop en kyk. Sy maak aantekeninge, vra vrae, proe, ruik. Soveel keuses!
Verwarring maak haar paniekerig en skielik verlang sy meer as ooit na haar pa en ouma. Sy kyk om haar rond. Iewers in die warboel smag sy na ‘n stukkie wat haar aan die plaas sal herinner. Sy begin verward deur die rye soek. Dit voel of die vreemdheid en eksotiese produkte haar op hierdie oomblik verswelg. Sy wil gekoester voel.
Dan is hy daar.
Alphonse.
Sy is nie nou lus vir hom nie. Sy is lus vir niemand nie. Sy is net lus vir plaas. Sy soek ietsie van hulle Vrystaatse plaas in hierdie mark wat nou vir haar te klinies lyk. Sy soek koestering en warmte. Kaneel, gemmer, borrie, kerrie … soetpapats, pampoen, skaapboud.
Sy kies koers in ‘n ander rigting. Hopelik het hy haar nie gesien nie.
Sy soek pampoen. Regte boerpamoen. Stapels potimarrons koggel haar in hul ryk oranje kleure.
Franse is lief vir pampoen, gestop, gestoof, gebak. Hulle bak graag tartiflette met lae pampoen, spek, kaas, room, uie. Hulle pampoensop het salotte, naeltjies, olyfolie, room en aartappel in.
Te veel kleure pampoen loer koketterig uit bokse na haar. Dan sien sy dit. ‘n Hubbard squash! ‘n Regte egte Hubbard met sy knopperige groen skil! Sy gryp die pampoen soos ‘n kleinood. Sy hou dit in beide hande en maak haar oë toe om die plaas te kan ruik. Sy wil die Vrystaatse grond ruik, die sonskyn, die vars reuk van haar pa se pampoenland vol Hubbards.
“Sjoe, ek wens ‘n vrou wil so behaaglik aan my ruik!”
Alphonse.
“Wat is so wonderlik aan daardie pampoen dat jy so ekstaties lyk?”
Sy kyk oor die pampoen na Johnny Depp se aantrekliker weergawe. Selfs hier tussen die rakke vol pampoen lyk hy verruklik. Maar sy wil nie nou aan sy onweerstaanbare aantreklikheid dink nie. Sy wil hierdie pampoen bevoel en beruik en hom koop. Sy wil hom soos ‘n skat in haar handsak druk en vanaand gaan kook.
“Wat gaan jy met daardie pampoen kook? Iets vir ons spyskaart?”
“Nee, iets vir myself. Ek verlang na ons plaas. My pa het ‘n land vol pampoene.”
Hy neem die pampoen by haar, bekyk dit van alle kante.
“Ek sien hom in ‘n sop.”
“Dis nie ‘n sop-pampoen nie. Ek sal hom in skywe sny en in die oond bak met botter en sout.”
“Skil en al?”
“Ja.”
Dan kry sy ‘n idee. Sy gaan twee pampoene koop! Sy het ‘n plan met skille. Haar ouma se plan. Haar mond water.
“Kan ek jou ‘n lift huis toe gee? Ek is hier met die motorfiets.”
Hy kyk na die twee groot pampoene in haar hande.
“Gaan jy beide koop?”
Dit klink soos ‘n bevel. Vermetel!
“Ja, en ek gaan hulle alleen opeet!”
“Wraggies?”
Hy volg haar tot sy vir die twee pampoene betaal.
“Gaan dit in jou sak pas?”
Sy vind hom effe lastig op die oomblik. Sy forseer die pampoene in die sak in en kyk uitdagend na hom.
“My fiets is daardie kant toe.”
“Ek het nie gesê ek wil saam jou ry nie.”
Hy lag.
“Ek vra nie. Ek sê jou. En by die huis gaan jy vir ons ‘n pampoen gaar maak. Ek wil ‘n Vrystaatse resep proe.”
Sy dink aan die resep wat sy vanaand wil maak. Hier voor haar staan ‘n Michelin-sjef. Sy is doodseker hy het nog nooit pampoenskille geëet nie!