Sjef Snoekie Hoofstuk 14: Muskus deur Martie Swanepoel
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }
Haal in met die vorige hoofstukke van Snoekie!
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }
Lank na middernag bulder Alphonse se rockmusiek voort. Dit pla Snoekie nie, want sy kan in elk geval nie slaap nie. Die gebeure voor en na Carlotte se besoek, begin nou sy tol eis. Haar senuwees is op ‘n drafstap en haar brein werk oortyd.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Wie op aarde sou sy mes inhê vir haar? Of háár mes? Sy het dan gedink almal by die restaurant hou soortvan van haar? Behalwe natuurlik Andrea. Maar Andrea hou van niemand nie. En, Andrea sal mos weet sy sal haar verdink?
Sy het belowe sy sal die hele drama met niemand bespreek nie, maar sy brand om met Juan te praat. Hy is haar enigste vriend in Frankryk!
Skielik voel sy erg eensaam. ‘n Aanval van pity party tref haar kort voor eenuur die nag. Alphonse se musiek doef voort. Sy grawe desperaat in haar trommel. Al haar reserwes sjokolade is op! Al waaraan sy nou kwylend kan dink, is Alphonse se torte onder in die kombuis! Teen twee-uur gaan klop sy met ‘n lus wat skrik vir niks aan Alphonse se deur. Hy lyk ‘n paar wyne sterk.
“Ek het nou dadelik van jou sjokolade-torte nodig! Ek sal nie tot ruste kan kom voor ek nie sjokolade inkry nie!”
Hy bied vir haar ‘n glas rooiwyn aan en trek ‘n hemp aan om sy mooie olyfbruin lyf te bedek.
Die wyn streel haar gemoed tot in haar maag, maar die lus vir die torte klou vas.
En daai lyf! Sy berispe haarself.
Sy kyk rond in sy woonstel. Dis erg deurmekaar. Stapels kookboeke leun in torings van Pisa tot byna teen die plafon.
“Het jy geen sjokolade in jou woonstel nie?”
Hy skud sy kop.
“Ek is ernstig, sal jy die kombuis vir my gaan oopsluit? Ek is regtig desperaat.”
Sy sexy oë lyk ekstra verleidelik deur die rooiwyn-waas.
“Jy het vir my nog net moeilikheid gebring vandat jy hier aangekom het!”
Sy weet nie wat om te antwoord nie. Sy weet sy was ‘n moeilikheid-makertjie sedert sy in Parys aangeland het.
Hy staan op en stap deur toe.
“Kom, ek het nou self ‘n sny torte nodig.”
Nog voor Alphonse die kombuis se ligte kan aanskakel, hoor hulle dit. Iemand wat weghardloop en ‘n rak potte kletterend omstamp. Hulle hoor die voordeur van die restaurant toeklap.
“Dis iemand met ‘n sleutel!”
Alphonse stap dadelik na sy lessenaar. Dit is gewoonlik deurmekaar, maar dokumente lê nou ook oral op die vloer!
“Waddehel soek hy? Die ouditeurs het mos al die belangrike dokumente?”
Snoekie help hom die potte en dokumente opruim. Dan gaan haal Alphonse die torte en nog ‘n bottel rooiwyn.
Hulle sit die soete troos in stilte en eet.
Dan ruik Snoekie dit. Sagte muskus en speserye. Dis ‘n bekende reuk. So tussen parfuum en naskeermiddel.
“Ruik jy dit?”
Alphonse snuif en sy merk op hoe ongelooflik onweerstaanbaar sy lang neus kreukel.
“Ek ruik niks.”
“Ek ken daai reuk. Ek sal dit netnou onthou.”
Die rooiwyn sak vinnig en die stilte wat hul samesyn omhul, raak al hoe geselliger.
“Wie dink jy is dit?”
Alphonse sluk sy laaste glas wyn af voor hy antwoord.
“Iemand wat die restaurant baie goed ken. Te goed! Iemand wat te lank met bedrog weggekom het en nou desperaat is.”
Snoekie vertel hom van die briefie.
“Dis iemand wat weet van die probleem met die weeg van die vleis. Dis hoekom jy ‘n teiken is. Maar wie? Dis net ek en jy en Andrea wat weet. En Luke, wat my gehelp het om die vleis weer te weeg.”
“En Juan,” voeg sy by. “Ek het hom vertel.”
Dan onthou sy waar sy die reuk vandaan ken.
Maar kan dit wees? Dalk hang die reuk al ‘n ruk in die kombuis. Almal het vanaand oortyd gewerk. Sy sal nie nou vir Alphonse vertel nie. Dalk is haar neus net buitengewoon sensitief vanaand?
“Ons moet gaan slaap,” kondig sy aan.
“Is dit ‘n uitnodiging, Sjnoekie van Suid-Afrika?”
Sy kyk blosend weg. Sy donker oë spot met haar.
“More gaan ‘n besige dag wees.”
“Jy bedoel vandag? Dis al vieruur die oggend!”
By haar woonsteldeur gee hy haar ‘n boederlike drukkie. Hy buig af en soen haar op haar kroontjie.
“Nag, Sjnoekie.”
Sy raak rusteloos aan die slaap. Nie eens die sjokolade en rooiwyn het haar senuwees laat bedaar nie. As sy uiteindelik in ‘n diep slaap verval, droom sy die restaurant brand en sy is vasgekeer in die kombuis. Sy voel hoe die rook haar oorval. Sy word stikkend wakker. Sy ruik inderdaad rook!
Sy ruk haar deur oop. Dit kom uit die restaurant!
“Alphonse!” Sy hamer aan sy deur. Hy slaap skynbaar soos ‘n klip. Sy hamer nog harder.
“Waddehel? Kry jy nie ent nie? Hemel vroumens!”
“Die restaurant brand!”
Hy skrik homself wawyd wakker. Die rookalarm gaan af.
“Die brand moes pas begin het!”
Hy hardloop die trappe drie-drie op ‘n keer af.
Snoekie agterna. Nog mens borrel uit woonstelle.
Alphonse sluit die kombuisdeur oop en gryp ‘n brandblusser. Die bron van die vuur is in sy kantoor. ‘n Hoop dokumente op die vloer smeul. Iemand moes ingekom het nadat Alphonse en Snoekie die kombuis verlaat het. Dieselfde persoon wat hulle onderbreek het toe hulle kom torte eet het!
Die brandweer daag op, maar die brand is reeds geblus.
“Gelukkig het jy die rook betyds geruik! Bly vir eers stil oor ons nagtelike torte-etery hier in die kombuis. Ek wil eers probeer vasstel wat aangaan”
Dis reeds sewe-uur en van die personeel daag geskok op. Die brandweer en polisie sper die kombuis af.
Tante Inge daag op en mettertyd ook van die bebrildes. Hulle staan eenkant in ‘n kring van erns en praat.
Juan is skoon wit geskrik as hy uiteindelik opdaag.
“Ek is een oggend laat vir werk en julle brand byna die plek af!”
Snoekie val in sy arms en begin terstond snik. Als is nou te veel vir haar. Sy is vrek moeg en die chaos is oorweldigend.
By ‘n nabygeleë koffiewinkel kom sy uiteindelik tot bedaring. Juan bestel sterk koffie en rondom hulle sit ander geskokte personeel ook grootoog die gebeure en bespreek.
“Jy is ‘n heldin! As jy nie wakker geword het, sou die plek afgebrand het!”
Snoekie kyk na die aantreklike Fransman voor haar. Sy het hom as ‘n sagte, liewe mens leer ken sedert sy in Parys aangekom het.
‘n Regte goeie pel, maar daar is net een ding wat nou aan haar siel krap.
Daardie reuk wat sy in die kombuis geruik het in die nag.
Sy snuif-snuif ongemerk as Juan nog koffie gaan haal. Dis onmiskenbaar.
Die sagte reuk van muskus en speserye …
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.