Sjef Snoekie Hoofstuk 13: Waarskuwing deur Martie Swanepoel
Haal in met die vorige hoofstukke van Sjef Snoekie
Sjef Snoekie Hoofstuk 13: Waarskuwing
Alphonse ignoreer Snoekie die hele oggend. Juan loer ook net bang in haar koers. Maar Andrea lyk of sy van lekkerkry gloei.
Die bebrilde mannetjies is glo byna klaar met die oudit en tante Inge is skaarser.
Die atmosfeer is dus somber, en dit laat Snoekie nog slegter voel. Sy voel haar mislukking met Carlotte se besoek het dalk die finale spykers in die doodskis van die restaurant geslaan. Ag, dat dit haar nou moes tref! Hoekom moet dit sy wees, ‘n afstammeling van die Du Monde’s uit Suid-Afrika, wat die restaurant finaal moes kom sink? Die gevoel van mislukking wat sy gevoel het post Werner, spoel in ‘n vaas van selfbejammering oor haar. Sy hou haarself doenig by haar werkstasie. Teen drie-uur die middag brul Alphonse haar naam.
“Suzanne, my kantoor!”
Met jelliebene stap sy. Al die oë in die kombuis onderlangs op haar gerig.
Voor Alphonse staan ‘n bordjie sjokolade-torte. Hy skuif dit oor die tafel na haar.
“Sit! Eet!” beveel hy.
Sy neem groot slukke sjokolade. Dit smelt nie op haar tong nie. Dit sit vas in haar droë keel. Soos ‘n gehoorsame kind wat deur haar ma gedwing word om haar groente te eet, sit sy voor Alphonse en eet die tert. Sy kyk nie een keer op nie, maar sy voel sy oë broeiend op haar gerig. Hy gaan haar seker nou van ‘n kant af uitvreet. Dis dié dat hy die tert vir haar gee. Eers trooskos, dan ‘n uittrapsessie!
“Voel jy nou beter?” vra hy sag na die laaste happie torte in haar keel af sukkel.
Sy voel ‘n dam trane agter haar oë.
“Moet asseblief nie weer grens nie,” sê hy.
Maar dit moes hy liefs nie gesê het nie! Die dam trane breek deur die viooltjie-blou oë.
Alphonse skuif ongemaklik rond. Hy gee ‘n servet aan.
“Hou nou op huil. Dis nie so erg nie.”
“My snoek-koekie het na seep geproe! Iemand het seep op my snoek gegooi! Ek is so jammer dat ek nie eers geproe het nie. Ek het die restaurant ‘n verskriklike skade aangedoen. En Carlotte het so baie van die sop en voorgereg gehou.”
Alphonse wag tot haar snikke bedaar. Dan stoot hy sy rekenaar oor die tafel in haar koers.
“Lees, dis Carlotte se blog.”
Sy skrik haarself lam.
“Nee, ek wil dit liewer nie lees nie.”
“Lees,” beveel hy sag.
Sy lees.
“’n Belowende jong intern van Suid-Afrika is ‘n aanwins vir die Du Monde-familie se spog-restaurant.”
Sy lees die sin weer.
“Is dit ‘n grap?”
Alphonse glimlag. Sy kan sien hy lyk verlig.
“Carlotte het geen melding van die seperige snoek gemaak nie! Maar lees verder.”
Snoekie se oë vang woorde soos “avontuur van smaak”, “nuwe aanslag” en “dapper jong sjef”.
Alphonse skuif hom reg op sy stoel.
“Sy het my vanoggend gebel. Iemand in die kombuis het jou gesaboteer, en ons moet uitvind wie dit is. Dit is iemand wat die restaurant groot skade wou aanrig. Ons sal moet uitvind wie dit is. Jy kan hierdie saak met niemand anders bespreek voor ons nie uitgevind het wie ons skip wou sink nie. Nie eens met Juan nie, gehoor?”
Snoekie knik. Verligting bring die bewerigheid in haar bene tot stilstand.
“Jy weet seker hier is geldelike moeilikheid by die restaurant? Dis hoekom die ouditeurs hier is. Hier word grootskaals bedrog gepleeg en elkeen wat by hierdie restaurant werk, ek inkluis, is verdagtes tot hierdie saak opgelos word. Jy het die bal aan die rol gesit toe jy die foute met die gewig van die vleis aangemeld het. Ek het al die vleis geweeg en jy was reg. Maar dit het nie daar gestop nie, die ander store se voorraad was ook verkeerd. Oor maande, dalk jare, het iemand die voorraad en geld van die restaurant geskep en verduister. Na raming, meen die finansiële raadgewers, dat ons nog drie maande het om die restaurant te red. Anders is dit bankrot.”
Snoekie luister na die bevestiging van al die gerugte.
“Gelukkig vir jou, en vir my, en vir die restaurant, het jy ‘n goeie indruk op Carlotte gemaak. Dis ‘n genade. Sy kan besonder ongenaakbaar wees, maar jy het haar op een of ander manier betower met jou eerlike ongekunstelde geaardheid en jou ongewone, vars aanslag. Maar moet nou nie dat dit jou ‘n groot kop gee nie. Jy het nog baie om te leer. Vir eers, bespreek jy die bedrog en Carlotte se besoek met niemand nie. Hier is iemand met ‘n lang mes in hierdie kombuis. Dit kan enigeen wees.”
Snoekie vang haarself dat sy na die oulike plooitjies langs Alphonse se oë staar. Die diep kepe langs sy mond. Sy soenbare mond …
Sy vermaan haarself. “Suzanne, hierdie man bespreek baie ernstige sake met jou en jy staar soos ‘n verliefde tiener na hom!”
Sy maak haar rug regop en kyk met erns na hom.
“Ek is gereed om alles by jou te leer wat ek kan, Sjef, en ek sal my bes probeer sodat ons die restaurant kan red. Ek gee nie op nie. Daar waar ons in die Vrystraat boer, het ons al erge droogtes oorleef. Maar my pa het nog nooit opgehou om met hoop selfs na die kleinste wolkie te kyk nie.”
Alphonse verstom hom aan die geesdrif van hierdie meisiekind wat hom so fassineer … en soms frustreer.
“Jy is reg, ons kyk vir die vlieswolkies in die lug. Eendag sal hulle saampak en dan sal dit weer reën.”
“Jy sal sien. Dit sal weer beter gaan. Oor drie maande dans ons in die reën!”
Alphonse kan nie help om te glimlag nie.
“Goed so, gaan nou na jou werkstasie. Ek wil netnou die hele restaurant se personeel toespreek. Tante Inge is op pad.”
Snoekie het skaars by haar werkstasie aangeland, of tante Inge kom by die deur ingesweef.
Die personeel word saamgeroep. Die atmosfeer is swaar en gespanne.
Tante Inge praat oor die moeilike tye by die restaurant. Personeel sal gesny moet word as dinge nie gou verbeter nie, waarsku sy.
Alphonse neem by haar oor.
“Elkeen van ons moet ons beste doen om die situasie te verander. Ons het drie maande om ‘n vragskip om te draai, anders is dit verby. Dan sal ons moet begin afskaal en die personeel sny. Van nou af word elke bestanddeel noukeurig gemeet en geweeg. Ons boet geen kwaliteit in nie, maar niks mag vermors word nie. Ons moet spaar. En die beste diens lewer.”
Hy rammel ‘n rits besparings af.
“Ongelukkig sal daar geen verhogings vanjaar wees nie. Ook gee bonusse nie. Dit is moeilike tye oor die hele Europa en dit raak ons ongelukkig ook.”
Nie tante Inge of Alphonse maak melding van die bedrog nie. Niemand spreek ‘n woord oor Carlotte se rampspoedige besoek nie.
Die personeel verdaag somber. Voorbereidings vir die aand se besoekers word stil aangepak.
Snoekie voel of daar ‘n knop in haar keel sit wat maar net nie wil weggaan nie. Sy gaan badkamer toe en haal ‘n paar keer diep asem om haar senuwees te help bedaar.
Terug by haar werkstasie, wag ‘n briefie op haar.
“Beskou gisteraand as jou eerste waarskuwing!”
Net dit.