Deur: Margaret Gardiner. Foto: Dominique Charriau/WireImage/Getty images
Pierce Brosnan is een van daardie sterre wat selfs beter in die regte lewe lyk as op die skerm. Daardie “tall, dark and handsome”-uitdrukking is vir iemand soos hy geskep!
Hoewel hy in moeilike tye in Ierland grootgeword het, lyk hy soos die tipiese Engelse heer, en dis grootliks hoekom hy van 1995 tot 2002 die perfekte verpersoon-liking van James Bond was. Baie mense het gemeen dat die karakter wat hy in die TV-reeks Remington Steele gespeel het, die ideale oudisie vir Bond was. Daarna het hy ook verskyn in treffers soos The Thomas Crown Affair, Mrs. Doubtfire, Mama Mia en The Matador waarvoor hy ’n Golden Globe-benoeming gekry het.
Hy het steeds ’n effense Ierse aksent en sy blou oë pen jou vas wanneer hy met jou praat. ’n Mens kry die idee hy hou nie daarvan om oor homself te praat nie, maar hy is te goed gemanierd om dit nie te doen nie. Hy is van nature sjarmant maar wanneer die onderwerp te persoonlik raak, kan jy die pyn in sy oë sien, al probeer hy om dit weg te steek. Sy eerste vrou – sy was ouer as hy – is in 1991 aan kanker oorlede. Hy het haar twee kinders aangeneem en hulle het saam ook ’n seun, Sean. In 2013 is sy aangenome dogter dood aan dieselfde kanker wat haar ma se lewe geëis het. Hy het sy huidige vrou, Keely, in 1994 ontmoet en hulle het saam twee seuns.
Hy het onlangs op DSTV in die TV-reeks The Son gespeel, asook in ’n hele paar flieks, soos The Ghost Writer en Love Is All You Need. Ons sal hom ook binnekort te siene kry in The Only Living Boy In New York en The Foreigner.
Wat met ons in ons kinderjare gebeur, beïnvloed en vorm ons as grootmense. Hoe het jou kinderjare jou menswees beïnvloed?
Ek het my hele persoonlike lewe weggegee toe ek hier aangekom het (lag). Ek was te Iers, te oop, en ek het te veel gepraat. Maar ja, ek kom uit ’n gebroke gesin. My pa het gewaai toe ek jonk was en ek het arm grootgeword tussen die ooms en tannies. Ek weet hoe dit voel om alleen en ontwortel te wees. Ek weet hoe dit voel om ’n geliefde te verloor … Verloor jy ’n gesinslid, bly daardie verlies vir ewig deel van jou hart en jou psige. Ek is 64 jaar oud en doen al lank die toneelspelding en ek was gelukkig genoeg om suksesvol te wees. Ek kon ’n goeie lewe lei en ’n gesin onderhou. Maar dis ’n onvoorspelbare besigheid. Die een oomblik is jy nog in aanvraag en die volgende oomblik
is dit verby.
Watter rolprentkarakters het jou geïnspireer toe jy jonk was?
Batman was ’n groot invloed. As ’n jong, arm kind in Ierland het ek nie baie flieks gesien nie. Ek is op 16 uit die skool en het toe by ’n teatergroep, The Oval House, aangesluit. Dit was my eerste blootstelling aan toneelspeel en die teater, en van daar af het ek boeke ontdek … My lewe was net nooit weer dieselfde nie.
Hoe het dit gevoel toe jou jare as James Bond tot ’n einde gekom het? Dit lyk tog of jy nou in meer prente as vroeër verskyn.
Ja, die einde van James Bond was ’n groot slag en ’n teleurstelling. Die een oomblik dink jy nog jou loopbaan volg ’n sekere pad en skielik word jy in die pad gesteek … Dis nie maklik nie. Die sukses van The Matador wat daarop gevolg het, was ’n groot verrassing. En baie bevrydend. Dit was ’n bewys dat alles nie verlore is nie. My opleiding as akteur en my geloof in myself as ’n man en akteur was steeds daar. Dit was ’n groot geskenk. ’n Loopbaan bestaan uit pouses en trappe. Soms val ’n rol deur die mat, of jy kry baie kritiek, maar dit maak jou beter. Jy hoop maar jy kry ’n ander rol waarvan mense hou sodat die werk weer instroom.
Lees ook: Margaret Gardiner se onderhoud met Daniel Craig.
Hoe het jy die moeilike dinge in jou lewe oorbrug?
Ek was elf toe ek Ierland verlaat het, en het nie veel van ’n skoolopleiding gehad nie. Ek het in Suid-Londen beland. Danksy ’n sterk oorlewingsdrang en hope energie het ek aan myself gewerk en vertrou dat ek iewers sou uitkom. Toneelspel was my redding. Ek het werkswinkels begin bywoon en het ander jong mans en vroue, digters en skrywers ontmoet wat ook maar deur die lewe verrinneweer was en ek was nie meer alleen nie. Ek het ’n veilige hawe daar gekry. Glo in jouself – dis my leuse.
Die wêreld ken jou as ’n sjarmante, gesofistikeerde man. Maar wie is jy regtig?
(Lag) Jy wil hê ek moet jou net so oor die tafel vertel wie ek is? Ek weet nie, ek dink nie ek sal dit reg doen nie. Ek dink my werk verteenwoordig in ’n groot mate wie ek is; hoe ek optree. Wat jy sien, is wat jy kry. Ek dink ek is ’n baie eenvoudige mens.
Hoe het pa-wees jou lewe beïnvloed?
Pa-wees is vir seker die beste ding wat ek tot nog toe ervaar het. Om ’n pa te wees vir my seuns en my oorlede dogter, en om nou my kleinkinders te sien grootword, is die vreugde van my lewe. Ek het probeer om die beste pa te wees, maar ek het hulle bederf en nie genoeg gedissiplineer nie. So nou en dan sit ons vas, maar my vrou, Keely, is ’n wonderlike en briljante ma, en sy sorg dat ons op die regte pad bly. Danksy haar is ons seuns, Dylan en Paris, suksesvol en gelukkig. Dylan is nou in ’n rolprentskool en sy werk heeltyd saam met hom. Ek voel daar is net soveel wat ek my kinders kan leer, maar sy is ’n wonderlike onderwyser. Ek hoop ek het as ’n pa en man iets met my lewe gedoen wat vir hulle ’n goeie voorbeeld gestel het. Maar ek dink dis baie belangrik om te weet hoe om met mense om te gaan. Jy is dalk goed in jou werk, maar as jy nie weet hoe om met mense te werk nie, hoe om te kommunikeer en om jou in ’n ander mens se skoene in te dink nie, skiet jy tekort.
Jy lyk gelukkig. Dink jy dis iets wat natuurlik gebeur wanneer jy ouer word?
Ek probeer om altyd optimisties en ’n vrygewige gees te wees. Ek is so dankbaar vir die werk wat ek doen, en dat ek dit steeds kan doen. Ek is dankbaar vir elke rol, ongeag hoe moeilik dit was, of wat jy deurgegaan het om dit te maak.
Was daar gesinstradisies wat jy na jou eie gesin oorgedra het?
Nee, omdat ek eintlik alleen grootgeword het, was daar nie juis tradisies nie. Ek was ’n onafhanklike kind, ’n dromer en waarnemer, ek het nie regtig ’n tradisionele gesinslewe gehad nie.
Voel jy dis belangrik om eko-vriendelik te leef?
Ja, ons herwin, maak kompos en probeer om organiese kos te eet. Uiteindelik gaan dit oor ons kinders se toekoms en gesondheid. Probeer om in jou eie gemeenskap iets te doen om die grond rondom jou te bewaar.
Hoe hanteer jou vrou dit om ’n stiefma te wees?
Wel, ironies genoeg was ek eers ’n stiefpa. Ek het destyds my oorlede vrou, Cassie, se twee seuns aangeneem. Toe het ons saam ’n seun gehad. Daar was moeilike tye omdat ons so ’n groot gesin was, maar ons was ’n gelukkige gesin. Ek en Keely is ook deur al die tipiese moeilike dinge wat ’n nuwe gesin verg, maar die vorige Kersfees was ons almal saam om die tafel, en almal is gesond en gelukkig. Dit kom nie van nêrens af nie, dit verg harde werk. My kinders het gesien hoe hard ek gewerk het, my suksesse en teleurstellings, hoe dit is om te werk, en nie te werk nie. So ek glo iewers het iets vasgesteek en ’n verskil gemaak.
Voel jy vryer noudat jou kinders ouer is?
Ek en Keely was onlangs ’n paar weke lank saam op ons plaas in Kawaii, en dit was net die twee van ons om die tafel. Toe het ons vir die eerste keer besef dis hoe dit van nou af gaan wees “just you and me, kid” (lag). Niemand wil meer by ons wees nie. Darem nie regtig nie, hulle wou, maar almal was besig. Gelukkig kom ons almal goed oor die weg en het deur al die moeilike dinge gewerk.
Watter rol speel musiek in jou lewe?
Musiek is vir my baie belangrik. Wanneer ek ’n nuwe karakter moet ontwikkel, speel musiek ’n groot rol. Dit kan die vreemdste stuk musiek wees, maar dis die eerste ding wat ek doen wanneer ek ’n nuwe rol kry – ek soek ’n stuk musiek wat my inspireer en help om ’n konneksie met die karakter te maak.
Hoe hanteer jy moeilike tye?
Sit net een voet voor die ander. Jy gaan in elk geval swaar kry, maak nie saak hoe jy dit hanteer nie. Jy kan opkrul en in ’n hoekie gaan lê en toelaat dat die lewe jou in die tande skop, of jy kan opstaan, terugslaan en dit aanvaar. Die belangrikste is dat dit jou nie bitter maak nie.