Vyf maande gelede klim ek uit ’n kiwi-groen taxi. Nog effens jet-lagged na die lang vlug en iewers tussen slaap en wakker, soos wat mens voel na ’n skelm uiltjie-knip. Terwyl ek die deur oopmaak – en vir ’n oomblik twyfel of my voete dit heeldag in hierdie hakkies gaan hou – skiet my oë op na die futuristiese prentjie wat voor my afspeel.
Liewe hemel! Wolkekrabber op wolkekrabber, die een na die ander. Sommige netjies in rye gepak en ander soos sampioene wat oornag hul verskyning in ’n oop gaatjie loop maak het. Hierdie is duidelik ’n kompetisie: Die hoogste Lego-torinkie wen ’n prys! ’n Stadsjapie het ek wel grootgeword, maar so iets reg uit ’n sci-fi movie het ek nog nooit in my lewe aanskou nie. Tot my verbasing begin ek my eerste werksdag in die tweede hoogste gebou in die stad: die Jinmao-toring.
Hier is geen tekort aan hoë geboue in Shanghai nie
Sjanghai was aanvanklik ’n groot aanpassing. Soos een van my vriende sê: alles wat verkeerd is in die wêreld gebeur hier. Dis ’n geldgedrewe stad met ’n populasie van meer as 24-miljoen en besoedeling is tot die ergste graad (maar Beijing is erger – so troos die Sjanghaiers). Verblyf is onsettend duur en die gemiddelde Chinees kry swaar. Maar geleenthede is in oorvloed, publieke vervoer uitstekend, en die man op die sypaadjie wat daagliks sy kluitjie-stalletjie opslaan maak genoeg wins om na sy gesin om te sien. Hier is genoeg voete en Chinese hou van koop én eet. Daaraan is geen twyfel nie.
Vanuit ’n buitelander se perspektief is Sjanghai ’n fantastiese inleiding tot China. Hier is soveel om te doen dat mens ’n jaar hier kan woon en steeds voel of jy nog byna niks gesien het nie. Hier is beslis nie ’n tekort aan eetplekkies, tuine, stalletjies, liggies, uitsigte, ongelooflike argitektuur en internasionale kuns en -konserte nie. Chinese kos is nie soos wat ons dit ken nie. Ek het sommer gou tot die wete gekom dat ’n chop suey en chow mein hier heelwat anders klink én proe. Elke Chinese stad en streek het hul eie spesialiteitskosse en-geure. Dis voorwaar enige foody se droom!
Húntun (kluitjiesop)
En die taal – o weë! Elke lettergreep het byna vier stemtone wat elkeen verskillende betekenisse dra. Toe my Easy Peasy Chinese CD al doodgeluister is en ek nog steeds net “hallo”, “koebaai” en “waar kom jy vandaan?” kon sê, het ek met durf en daad besluit om mandarynse lesse te neem. Nou kan ek immers al noedels en gestoomde rolletjies bestel sonder dat die plaaslike Chinees dink ek vra na ’n perd of selfoon.
Darem is hulle nice. Lag as ek my woordeboek oopmaak en wys wat ek nou eintlik bedoel het. Soos ek wegstap pomp die een Chinees die ander in die sy, skud haar kop, sug hard en sê: “Laowài!”
Ai, tog. Die buitelanders darem.
’n Chinees op pad om karton te herwin