Sitrus-amandel-en-lemoenbloeiselkoek met mascarpone deur Vickie de Beer, bygestaan deur Martjie Malan en Marida Steyn van Paradiso Flowers. Foto: Lee Schwagele.
Sitrus-amandel-en-lemoenbloeiselkoek met mascarpone
Ingredients
- Genoeg vir 1 middelslagkoek met 2 lae Ek het die koek verdubbel en uiteindelik net 3 lae gebruik vir die foto.
- • 8 eiers
- • 200 g (1 k) strooisuiker
- • 15 ml (1 e) lemoenbloeiselwater (te kry by bakwinkels)
- • 300 g (2 k) bruismeel
- • 240 g (2 k) amandelmeel
- • 5 ml (1 t) sout
- • gerasperde skil van 1 suurlemoen, 1 lemoen en 1 nartjie
- • 6-8 takkies tiemie, die blaartjies van die harde takkies afgestroop
- • 200 g botter, gesmelt
- Heuningstroop
- • 125 ml (½ k) lemoenbloeiselheuning (te kry by Woolworths)
- • uitgedrukte sap van 1 suurlemoen
- Mascarpone-versiersel
- • 500 g mascarpone
- • 250 ml room
- • 45 ml (3 e) lemoenbloeiselheuning
Instructions
1 Verhit die oond tot 160 ˚C en spuit twee 20 cm-koekpanne met kleefwerende kossproei, of smeer goed met botter.
2 Gebruik ’n elektriese staanmenger met die ballonklitser aan-geheg. Klits die eiers, strooisuiker en lemoenbloeiselwater vir 15-18 min. of tot lig en donsig. Stop die masjien elke nou en dan en skraap die kante met ’n spatel af.
3 Meng die bruismeel, amandelmeel, sout, sitrusskil en tiemie in ’n middelslagmengbak. Vou die meel en die botter in sarsies deur die eiermengsel tot dit goed ingemeng is.
4 Verdeel die deeg tussen die twee koekpanne en bak vir 40 min. tot goudkleurig en gaar, of tot ’n toetspen skoon uitkom. Haal die koeke uit en laat effens afkoel in die panne voor jy dit op ’n draadrakkie uitkeer.
Heuningstroop
5 Verhit die heuning en suurlemoensap in ’n klein kastrol, maar moenie laat kook nie. Smeer die helfte van die stroop met ’n kwassie oor die warm koeke en laat heeltemal afkoel.
Mascarpone-versiersel
6 Gebruik ’n elektriese staanmenger met die ballonklitser aangeheg. Meng die mascarpone, room en heuning met ’n lae spoed tot alles ingemeng en is en stel die spoed dan hoër. Hou maar fyn dop, want die mascarpone kan vinnig in botter verander. Klits vir 2-3 min. op hoë spoed of tot dit lekker volume gekry het.
7 Sny die 2 koeke horisontaal deur sodat jy 4 lae het. Smeer die mascarpone-versiersel tussen die lae en eindig met mascarpone bo-op. Sprinkel die res van die heuningstroop oor die koek, tooi met lenteblomme en smul!