Gaas
As jy nie ’n groot aanhanger is van kort oefenbroekies nie, maak gaas jou beste vriend – dit het die multifunksionaliteit van styl en gemak. Gaas-insetsels is ’n baie gewilde gier in oefendrag, veral omdat dié materiaal steeds die vroulike silhoeët van die spanbroek behou, maar jou lyf laat “asem skep” en koeler hou.
Interessante patrone
Patrone is een van die grootste trends hierdie jaar en in sportdrag geld dit ook. Hoe bonter, hoe beter. Tropiese motiewe van blare, blomme en diere is gunstelinge, maar geometriese patrone is net so gewild. Breek ’n eenvormige figuur met 3D-patrone van verskillende kleure wat jou ’n sagte voorkoms sal gee.
Kleurvolle tekkies
Hou partytjie met jou tekkies. Kleurvolle tekkies loop die afgelope tyd die strate plat. Jy kan jou tekkies beklemtoon deur dit saam met ’n klassieke eenkleuruitrusting te dra, of jou hele voorkoms bont en besonders te hou – kies en keur waarin jý gemaklik voel.
Kyk uit vir …
Ons kan nie genoeg kry van die nuwe reeks deur MOVEPRETTY en Hi-Tec nie. Prettyhitec bestaan uit ontwerpe wat vroue gemaklik laat voel terwyl hulle oefen. Hierdie reeks bewys dat skoonheid en gemak hand-aan-hand kan gaan – of jy nou bergklim, spinklas bywoon of bloot jou daaglikse inkopies doen. Die kombinasie tussen Hi-Tec se sportiewe tekkies en MOVEPRETTY se stylvolle klere is geïnspireer deur die natuurlike vrou en verseker selfvertroue.