Simoné Nortmann: Hou dié talent dop deur Ilse Salzwedel. Foto: Leana Clunies-Ross
Oorweldigend. Dis hoe Simoné Nortmann die ontvangs beskryf wat die trefferfliek Vir die Voëls verlede jaar op oorsese rol-prentfeeste gehad het. Dié fliek het van haar volksbesit gemaak. “Dis wonderlik dat so ’n klein, plaaslike storie universeel so wyd byval gevind het. Dit het my opnuut laat besef ons Suid-Afrikaanse rolprente hoef vir niks of niemand terug te staan nie.”
Ons aktrises ook nie, want by die Tallgrass-rolprentfees in Wichita, Kansas is Simoné as die beste aktrise aangewys vir haar vertolking van Irma Humpel, die vroulike hoofkarakter in Vir die Voëls. Die fliek is ook by twee ander internasionale feeste in Amerika vertoon, en Simoné het die kans gebruik om te gaan kyk hoe die fliek met rolprente wêreldwyd vergelyk.
“Ek het ongelukkig die toekenningsaand by die Tallgrass-fees misgeloop – ek was net daar vir die première en was reeds by die volgende fees toe ’n Whats-App van my ma my een oggend wakker maak met die nuus. Op ’n manier was dit beter om die nuus so alleen te kry eerder as om deur die spanning van ’n toekenningsaand te sit,” vertel sy oor middagete in die Johannesburgse voorstad Melville.
Dit was ’n heerlike ervaring om die rolprentfeeste te kon bywoon. “By die Tacoma-fees het ’n Amerikaanse gesin wat mal was oor die fliek, my herken. Hulle kon nie uitgepraat raak daaroor nie, en het my selfs vir ete geneem.” Dit, giggel sy, het haar ’n bietjie soos Julia Roberts laat voel. Die fliek is net so goed ontvang by die Heartland-rolprentfees in Indianapolis.
Maar ’n nuwe jaar bring nuwe dinge, en sy is slaggereed vir al die nuwe uitdagings. Sy het juis die hele oggend aan haar eenvrou-vertoning Los asseblief ’n Boodskap gerepeteer. Die stuk het verlede jaar op Aardklop in Potchefstroom gedebuteer, en nou is dit Pretoria se beurt om haar op die verhoog in aksie te sien. Hopelik kry feesgangers die kans om dit later vanjaar by nog kunstefeeste te siene te kry. “Dis ’n verrykende, surrealistiese ervaring en ’n groot uitdaging – ek het so baie van myself geleer,” vertel sy oor die stuk waarin sy verskeie karakters vertolk. Die humor verskil van die droë humor waaraan sy gewoond is in die kykNET-komedie Hotel. “Die humor is donkerder, en alles wat ek moet uitbeeld, is in my hande. Daar is niks om die teaterganger te vertel waar presies ek my bevind nie – net my spel. Maar gelukkig is Maude Sandham ’n wonderlike regisseur,” som sy die uitdaging op.
Die verhoog bly haar eerste liefde, erken die aktrise wat TV-kykers vier jaar gelede as die tiener Nadia Croukamp in 7de Laan leer ken het. Haar spel het dadelik aandag getrek en haar twee toekennings besorg: dié van Beste Nuweling by die 2014 Royalty Soapie Awards én ’n Huisgenoot Tempo-benoeming as Gunsteling-nuweling. Sy is ook vroeg in Februarie benoem vir ’n SAFTA vir Beste Aktrise in ’n TV-reeks vir haar spel in Hotel.
“Vir my bly die verhoog die fondament van toneelspeel. Al die ander mediums vloei daaruit voort. Maar op die verhoog kan jy nie wegkom van die worsteling met ’n teks nie. Dis intens, maar baie spesiaal. Ek hou ook van die repetisieproses, want jy leer meer van jouself en jou karakter. Jy word deur jouself gekonfronteer, en die groei wat ’n mens beleef, is rewarding.” Maar, erken sy, sy is hard op haarself. “Maude het juis vanoggend gesê ek moet sagter met myself wees. Maar dis nou maar wat ek doen: ek pak graag projekte aan wat my by die diep kant ingooi.”
Hoekom so? “Ek hou van groei. Ek hou daarvan om my uit my gemaksone te druk. Maar ek doen dit nie bewustelik nie. Dis net dat ek my soms in ’n situasie bevind en dink ja, jy het dit wéér gedoen, soos toe ek op hoërskool as uitruilstudent Duitsland toe is, of die drie maande op Pemba in Mosambiek, waar ek my met ’n sendinguitreik in ’n hut sonder water en ver van alles af bevind het. Dit was moeilik, maar uiters verrykend.”
Alles dui daarop dat 2018 ’n gróót jaar gaan wees vir die fyngeboude 28- jarige Pretorianer wat deesdae in Linden, Johannesburg woon.
Simoné is tans te sien in Wonderlus, wat verlede jaar met drie pryse by die kykNET Silwerskermfees bekroon is. Die verfilming aan Stroomop, die nuwe fliek van Donnalee Roberts en Ivan Botha, begin binnekort.
Wonderlus was vir haar ’n heerlike uitdaging. “Ek speel weer ’n hardkoppige karakter, nes Irma in Vir die Voëls. Lindie is moeilik en nogal regtig katterig.” Simoné erken dat die karakter haar dadelik gefassineer het, hoewel sy aanvanklik nie van haar gehou het nie, en die rol van die hand gewys het. “Wanneer ek ’n rol aanpak, probeer ek eers verstaan waar die karakter vandaan kom – wat laat haar optree soos wat sy doen? Ek soek die weerlose oomblikke in ’n draaiboek – dis die soort dinge wat my in ’n rol laat belang stel. Maar Lindie se pyn was nie vir my voor die
hand liggend nie.”
Sy het uiteindelik die rol aanvaar, maar heeltyd gewonder wat omtrent Lindie sy mis. “Ons was al aan die skiet toe een spesifieke rou, weerlose toneel my laat besef het: Lindie is onseker van haarself. Sy voel effens verwerp, en
hou nie eintlik van haarself nie.”
Die diep gelowige Simoné vertel dit was asof die Here vir haar iets wou sê met die gesukkel om Lindie as karakter te leer verstaan. “Ek moes eers deernis met haar ontwikkel en my in haar skoene sit. Ek dink daar is ’n Lindie in elkeen van ons.”
Empatie met ’n karakter is vir haar as aktrise belangrik, en daarom was haar rol in Wonderlus vir haar ook ’n groot les in toneelspel. “Ek dink empatie is deel van ’n akteur se DNS, maar Lindie het my geleer dat ’n karakter se gedrag nie noodwendig vir jou as aktrise moet sin maak nie. Vertolk haar net, en onthou, elke mens het ’n storie.” Sy dink ook Wonderlus se storie – wat vir Johan Cronjé ’n Silwerskerm-prys vir beste draaiboek besorg het – is een wat eenvoudig vertel móés word. “Dis eg, relevant en nie soetsappig nie.”
Haar karakter in Stroomop is weer ’n perfeksionis, sê sy laggend. “Maar hierdie een is darem nie so hardkoppig nie. Ek speel die rol van Vivian, ’n depressiewe, eensame data-analiseerder wat ’n riviervaart saam met vier ander vroue aanpak. “Ek het dadelik van die karakter gehou, want ’n mens sien regdeur die verhaal hoe haar identiteit ontwikkel. En die kampvegter vir vroue in my jubel oor die storie wat Stroomop vertel. Ek is mal oor stories oor sterk vroue.”
In haar eie lewe het sy ’n goeie voorbeeld van ’n sterk vrou. “My ma, Tinkie, was ’n enkelma en het verskriklik baie vir my opgeoffer sonder om ooit haar vroulikheid in te boet.”
Vir die Voëls se oorsese sukses het haar selfvertroue as aktrise ’n groot hupstoot gegee. “Ek dink daar het ek regtig besef: ek het iets unieks om die toneelwêreld te bied.”
Toneelspel: haar roeping én bediening
Simoné is diep gelowig en so ernstig oor haar geloof dat sy teologie aan Maties gaan studeer het. “Maar toe ek in daardie eerste lesing in die kweekskool sit, het ek dadelik geweet dis nie wat ek wil doen nie.”
Sy wou van kleins af aktrise word, maar het gevoel die Here wil dalk haar gemaklikheid om voor mense te praat in die kerk gebruik. Gelukkig was daar nog plek in die dramakursus. “Dit was soos om huis toe te kom – almal daar was my soort mense.”
Sy beskou drama nie net as haar roeping nie, maar ook as haar bedieningsveld. Want, glo sy, die Bybel sê ons sal aan ons vrugte geken word en nie aan dit wat ons verkondig nie. “As jy jou kollegas liefhet soos God hulle liefhet, gaan hulle agterkom daar is iets anders omtrent jou.”
God se genade en guns – ook oor haar loopbaan – laat haar telkens verstom. En vanjaar het sy die nuwe jaar met ’n nog ligter tred as normaalweg aangepak.
“Ek weet die Here is in beheer.”
“Hy is my mens, my beste vriend”
Daar is ’n baie spesiale man in haar lewe, erken Simoné met blink oë en breë, gelukkige glimlag. Sy en Andries Pretorius, ’n entrepreneur, het mekaar in 2011 deur gemeenskaplike vriende ontmoet, en dadelik gekliek. Hulle het twee jaar uitgegaan voordat hulle ’n ruk lank uitgemaak het. “Maar ek het geweet hy is my mens, my beste vriend. Selfs toe hy Kaapstad toe getrek het, het ek geweet dis nie die einde van die pad vir ons nie.
“Ek het van kleins af gedroom oor ’n man wat my laat lag en met wie ek deurnag kan gesels. Andries het my geken nog voor ek bekend was, en hy behandel my spesiaal omdat ek Simoné is – nie omdat ek bekend is nie. Hy probeer my ook altyd beskerm teen mense met ’n agenda, en ek leer baie by hom. Byvoorbeeld oor bemarking: ek is maar ’n introvert, en dis vir my moeilik om iets soos my dramawerkwinkels te bemark. Hy daag my uit om soos ’n entrepreneur te dink as dit by sulke goed kom.”
Sy beskryf die lang, aantreklike donkerkopman as ’n passievolle mens. “Hy is ’n dromer, ’n visionêr, baie lief vir die Here en een van daardie mense wat met enige iemand oor die weg kom. Hy het die sagste hart wat ek al in ’n man teëgekom het. Andries is huis vir my.”
Kom kuier agter die skerms by ons voorbladfotosessie met Simoné