– Deur Catherine Schenck. Foto’s deur Chanél van der Merwe
Die veelsydige aktrise, Simoné Nortmann, se eenvrouvertoning genaamd Los Asseblief ’n Boodskap, wys hierdie week by die Atterbury-teater in Pretoria. Dié gewilde stuk het verlede jaar by die Aardklop Nasionale Kunstefees gedebuteer en groot sukses behaal.
Ons het met Simoné oor die opwindende nuwe produksie gesels.
Waaroor handel Los Asseblief ’n Boodskap?
Die stuk gaan oor gewese platsak popster, Nina van Zyl, wat in die laat 90s ’n oproep ontvang van haar eks-kêrel in Kaapstad, Dirk, met nuus van sy kankerdiagnose. Nina probeer ’n paar shows reël deur die land om betyds by hom uit te kom om afskeid te neem – en miskien haar terugkeer te maak na die poptoneel.
Vertel ons meer van jou karakter, Nina. Is daar ooreenkomstes tussen julle twee?
Daar is min ooreenkomstes tussen my en Nina, behalwe miskien vir die alter-ego popster binne my wat by haar aanklank vind. As klein dogtertjie het ek Britney Spears se liedjies met ’n borsel voor my spieël uitbasuin en al die dansbewegings uit haar repetoire geleer, want miskien wou ons almal toe ons klein was soos Britney wees – tot sy haar hare afgeskeer het … As aktrise neem ek Nina se lewe waar en ek besef dat roem nie jou identiteit kan bepaal nie. As dit jou maak, kan dit jou ook breek.
Al is hierdie ’n eenvrouvertoning, is dit nie net een vrou wat Los Asseblief ’n Boodskap op die planke gebring het nie?
Maude Sandham is my uiters bekwame regisseur en Louis Roux het die teks geskryf en dien as vervaardiger. Stefan Benade het ons fabelagtige kitsch stelontwerp behartig en Marius van Wyk is verantwoordelik vir Nina se album. Hy het ongelooflike verwerkings gedoen sodat die liedjies wat Nina “steel”, ons nie in die moeilikheid sal laat beland nie. Ilana Cilliers het ook die stemwerk gedoen van Nina se bestuurder, Angie, wat vir groot vermaak sorg.
Dit lyk asof julle groot pret het met die kostuums en dekor. Wat is die konsep daaragter?
Die hordes tinsel wat opgehang word, asook die ballonne wat Nina se naam uitspel, dink ek verteenwoordig Nina se hoë dink van haarself. Sy lewe in ’n popwêreld-bubble waar alles net oor haar moet gaan en alles glitsy and glamourous is. Die dekor is redelik minimalisties omdat Nina van dorp tot dorp reis en die tafel en stoel moet gebruik as onder andere ’n kar, ’n toonbank, ’n brug ens.
Wat is die item wat jy die graagste sal wil hou na die produksie?
Ek sal definitief Nina se life-sized karton cut-out wil hou, en miskien een of twee van haar tapes.
Watter boodskap hoop jy bereik die gehoor deur hierdie stuk?
Ek hoop om vir mense te wys hoe ’n gewonde popster se maskers lyk. As mense uit die teater stap en meegevoel kan hê met Nina, dan het ek in my vertolking geslaag. ’n Groot boodskap is natuurlik ook dat roem en rykdom en vreemdelinge se liefde nie jou identiteit kan bepaal nie. Nina verloor baie as gevolg van haar “ambisies,” en sit later met groot spyt. Daar is groot lewenslesse wat kop uitsteek in hierdie stuk.
Vertel ons van iets snaaks wat “agter die skerms” gebeur het.
Ek het tydens Aardklop ’n tien-minuut segment by die ATKV-musiekverhoog gekry waartydens ek mense kon vermaak en besig hou voordat die volgende kunstenaar opgekom het. Ek was van plan om as Nina op te gaan, maar het halfpad deur weer myself geraak en eintlik nie ’n idee gehad wat ek doen nie. Daar was seker so 100 mense in die gehoor en toe ek vir hulle die lirieke wou leer van Nina se debuuttreffer, “Net Nog Een (Dans)” het ek skoon die lirieke vergeet. My vervaardiger het die hele ding op kamera vasgevang en hulle spot my nog steeds …
Wat is jou gunsteling-oomblik in die stuk?
Ek sukkel om een uit te sonder, maar ek hou veral van die toneel in die Saambou-bank in Verkeerdevlei waar Dawid Potgieter, amateur nutsman en vuurwapen-entoesias, ’n klomp mense gyselaar hou met die voorvereiste dat hy hulle sal laat gaan mits hy sewe four-seasons pizzas en ’n privaatvertoning deur Nina van Zyl kan kry.
Kyk hier na die video van Simoné as Nina, met Nina se debuuttreffer, Net Nog Een (Dans):
Jy het ’n geskiedenis in kabaret-werk. Hoe is dit om te kan sing vir ’n produksie?
Dit was aanvanklik intimiderend. Ek is baie lief vir sing, maar van al my vaardighede voel ek altyd dís die een wat meeste slypwerk nodig het. Die recording-sessie het egter suksesvol verloop en siende dat Nina net eintlik lip-sync in haar optredes (en soms vergeet om te sing) kan ek regtig fokus op die “performance-value” en “Britney-bewegings.”
Waar het jy leer sing?
Ek dink my ma-hulle het besef ek is lief vir sing toe ek eendag op die kerkbankie regop gestaan en uit volle bors uit die gesangeboekie begin sing het. Ek wou nie Sondagskool toe gaan nie, want dan kon ek nie saam met die grootmense sing nie. Ek het ook blykbaar gereeld die volkslied op KFC se toonbanke gesing vir ’n ekstra sappie.
Hoekom hou jy van kabaret-werk?
Kabaret-werk is ’n groot liefde vir my omdat dit sing, skryf en vertolking behels. Ek is lief vir die politiese invloed van kabaret, hoe jy deur middel van parodiëe, komedie en sketse ’n belangrike boodskap kan oordra. My kabaretsketse en karakters op universiteit was meermale gegrond op ons politici.
Jy vertolk die rol van Jony in die mockumentary reeks Hotel. Wat is die beste ding daarvan om in hierdie innoverende plaaslike komedie te speel?
Die ensemble en die goeie skryfwerk maak dit die moeite werd!
Waarom, volgens jou, is dit so gewild?
Ek dink dis so gewild omdat ons jonger generasie aanklank vind by droë humor en begin wegbeweeg van slapstick komedies. Die karakters is kompleks, dog ietwat absurd en dis natuurlik uiters vermaaklik.
Jy het ook die hoofrol in Vir Die Voëls vertolk. Hoe was dit om jou eerste groot hoofrol te kon speel?
Vir Die Voëls was ’n ongelooflike toetrede tot die filmbedryf: ’n droom bewaarheid vir my. Ek het so baie daaruit geleer. Ek was (en is steeds) verstom deur die ontvangs daarvan, beide plaaslik en internasionaal. Mense vind aanklank by Irma se pyn en soms halstarrigheid. Dis liefde en leed, bitter en soet, tragies en komies en elke element van die regie, kostuums, musiek, spel en kamerawerk het saamgewerk om ’n baie sterk storie te vertel.
Jy het jou debuut op 7de Laan gemaak as die moeilike tiener Nadia Croukamp. Hoe was jou ervaring op so ’n bekende sepie? Is daar steeds mense wat jou herken as Nadia?
Sepie-werk is harde werk. Jy is ure lank op stel, dra omtrent altyd ’n teks saam met jou, en moet in baie min tyd hoë gehalte spel lewer. Dit was direk na my gradeplegtigheid, so 7de Laan was ook ’n groot vuurdoop vir my. Ek sal altyd dankbaar wees vir my drie jaar saam met hulle. Daar is nog mense wat my herken as Nadia, maar darem raas hulle nie meer met my nie.
Jy speel ook in die opkomende film Wonderlus. Wat was jou ervaring op stel? Waarom dink jy is dit belangrik om so ’n fliek te maak wat handel oor die kompleksiteit van liefde?
Dit was eerstens ’n massiewe voorreg om saam met so ’n talentvolle groep jong akteurs te kon werk. Dit was ’n sterk ensemble. Elkeen op stel het ook ingekoop op die boodskap van die film, asof daar ’n kollektiewe behoefte was vir ’n egte, rou, geen-tierlantyntjies romantiese drama. Die boodskap is baie relevant vir ’n jong gehoor wat met ernstige vrae worstel in terme van liefde wat deesdae baie emosioneel-gedrewe is.
Wat is die lekkerste ding wat jy nog moes doen in ’n verhoogstuk of voor die kamera?
Daar is groot lekkerte in alles, maar ek dink Nina se eskapades in Los Asseblief ’n Boodskap is my gunsteling – wie wil nie met ’n fake mikrofoon op ’n tafel staan en dans asof jy in ’n bank vir ’n klomp gyselaars sing nie? Dis groot pret!
Die komedie volg die verhaal van ’n gewese popster in die 90s, Nina van Zyl. Dit gaan nie goed met haar nie; haar popster-loopbaan het albei voete in die graf, sy het al vir ses jaar lank writer’s block en nou het haar eks die vermetelheid om kanker te kry. Classic Dirk … Sy vat die langpad van Johannesburg na Kaapstad, dorp tot dorp. Miskien kan sy vir Dirk een laaste keer sien. En miskien kry sy ’n paar gigs. In elke dorp van haar toer beland Nina in situasies wat haar vooropgestelde idees oor haarself oopkraak. Die karakters wat sy ontmoet, nuut en oud, help haar om te laat gaan van haar verlede van vernederings en selfsugtigheid. In elke dorp word daar iets van haar afgesloof – haar narisisme, haar vrees, en haar spyt. Aan die einde maak sy dit deur die vagevuur van plattelandse Suid-Afrika as ’n beter persoon. Wel, soort van.
Jy kan die vertoning van Los Asseblief ’n Boodskap op 6 en 7 Februarie 2018 sien by die Atterbury-teater in Pretoria. Die vertoning begin om 20h00 en eindig om 21h00 en kaartjies kos tussen R140 en R160. Jy kan kaartjies bespreek deur Computicket en jy kan die Atterbury-teater bel vir verdere navrae by 012 471 1700.