Tussen sub B en standerd een het die ontwerper en skrywer van die suksesvolle Style Bible, Simon Rademan, se lewe ingrypend verander. Dié traumatiese gebeure het bepaal watter soort mens hy vandag is. Dit het sy seksualiteit bepaal, vertel hy ná maande se gewroeg in ’n helingsgesprek. “Ek was nie seker of ek dit wou deel nie en het eers met sielkundiges gepraat. Maar ek is nou gereed om dit uit my gestel te kry. Hopelik word ’n kind hierdeur beskerm.”
Sy verhaal begin by die dikwielfiets wat sy pa vir hom en sy broer gekoop het. Dit was heeltemal te groot vir veral Simon om op te ry.“Ek moes my voet onder die raamwerk indruk om die trap by te kom en het so skuins-skuins gery. Naby ons huis was daar ’n baie steil afdraand en toe ek op ’n dag daar afry, het ek onder ’n motor beland. Ek het sewe weke in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad in traksie gelê voor albei my bene in gips geplaas is.”
Ná sy ontslag moes hy steeds terapie kry, maar omdat Ceres te ver was, moes hy by sy ouma in Kaapstad gaan bly. “Dit is waar my lewe verander het.”
Simon teken ’n vloerplan van ’n skakelhuis, asook die uitleg van die erf en omliggende strate. Die gebeure wat hulle in die omtrek van dié opset afgespeel het, is steeds vir hom traumaties en hy sukkel om sy emosies te beheer.
“As jy by die voordeur inkom, was daar ’n smal strook aan die linkerkant wat met ’n gordyn afgeskort is. Daar kon net ’n bed inpas. Ek moes hier slaap. Daar was drie slaapkamers, ’n sitkamer en klein kombuis. My twee dowe ooms, wat al gewerk het, het in een kamer geslaap. My ouma se kamer was langsaan en daarnaas my tannie se kamer. Aan die agterkant van die huis was ’n badkamertjie. Langs die badkamer was ’n motorhuis. Oorkant die straat was die Tip Top-kafee en langs die kafee ’n smal stegie.“Dit is waar dinge gebeur het wat my lewe, soos ek dit voor die ongeluk geken het, heeltemal verander het.”
Dit het op die bedjie agter die gordyn begin, vertel hy. Hy moes met sy gips daar lê voor hy weer moes leer loop. “Terwyl ek daar gelê het, het die ooms gereeld met my private dele begin speel. Nooit gelyk nie. Altyd een alleen. Ek is op vyf skool toe. Ek was dus so sewe toe dit gebeur het. Ek het lank daaroor skaam gevoel, want my liggaam het op die spel gereageer. Dit het my as seuntjie laat dink ek is aandadig en ek was baie skaam daaroor.”
Wanneer die gesin kuiergaste gekry het, het sy ouma beddens in die sitkamer reggemaak. Dan het daar tot twaalf mense in die huisie geslaap.
“Ek is by sulke geleenthede na die ooms se kamer geskuif. Een nag in die een oom se bed en een nag in die ander een se bed. Ek het geweet wat op my wag.”
Toe hy ná die ongeluk weer kon beweeg, moes hy gereeld in die badkamertjie die een oom se rug gaan was. “My ouma het my beveel om dit te doen, en ek het ook geweet wat in die badkamer sou gebeur. Ek weet nie of sy geweet het wat in die badkamer gebeur nie. Ek dink sy het geweet.”
Die een oom het hom soms in die motorhuis ingeneem. “Ek was nog te klein om by die venster te kon uitkyk. Hy het altyd gesorg dat ek met my rug na die venster staan en hy oor my kop by die venster kon uitkyk. ”Die ander plek wat Simon steeds met afgryse vervul, is die stegie langs die kafee. Die een oom het hom soms vir ’n roomys geneem. “Maar voor ek die roomys kon kry, moes ek by die stegie ingaan.”
Die molestering het aangehou nadat Simon na sy ouerhuis teruggekeer het.
“Elke keer as my ouers by my ouma gaan kuier het, het dit weer gebeur. Op ’n dag kon ek dit nie meer hou nie. Ek het in die kombuis alleen met my ouma gaan praat. Ek het vir haar gesê dit is die laaste keer wat ek saam met my ouers by haar sal kom kuier. Ek het haar vertel wat die ooms met my gedoen het. Die vrou het my deur die gesig geklap en gesê ek moet my mond hou. Ek het na die parkie naby haar huis gehardloop en my hart daar sit en uithuil.”
Simon se pa het in daardie stadium ’n Fiat gery waarvan die deure na agter oopmaak. Die agterste sitplek is geskuif sodat hy en sy boetie met die lang rit van Ceres af tot in Kaapstad kon slaap.
“Ek het daardie middag nie saam my ouers en my ouma middagete geëet nie. Ek het in die parkie gebly. Op pad huis toe het ek en my ouer broer agterin die Fiat gelê. Ek het my moed bymekaargeskraap en my boetie vertel wat altyd by die mense se huis met my gebeur het. My dowe ouers kon nie hoor wat ek vir hom vertel nie. My broer wou my nie glo nie en het my vir ’n moffie uitgeskel. Daarna was ek Simon, die moffie.”
Hy het hom al meer begin afsonder. “Ek het gesorg dat ek elke oggend op die laaste minuut by die skoolhek instap sodat min kinders my kon sien. Ek het geglo almal weet wat met my gebeur.”
Hy is veral gespot oor die manier waarop hy loop en omdat hy graag na die gratis balletklasse op die dorp gegaan het.
Simon het aan “die verkeerde kant van Ceres” grootgeword. “Ons eerste huis was in die laaste ry blanke huise voor jy by die bruin buurt kom. Ek het hoofsaaklik met bruin kinders gespeel.”
Die aardbewing wat Ceres en Tulbagh in 1969 getref het, toe Simon vyf jaar oud was, was ’n gelykmaker. Nie net het dit sy ouerhuis vernietig nie, maar ryk en arm se huise is geraak. “Dit was ’n warm nag toe die aarde om ons gebewe het. My pa het op die kombuistafel aan sy ou Prefect se enjin gewerk. Ek en my boetie het sonder klere op ons bedjies lê en slaap. Ek onthou hoe my pa my boetie gegryp het en my ma vir my.” Buite die dorp by die dennebos het almal geskok staan en kyk hoe die berge om hulle brand. “Ons het lank in ons karre gebly. My oupa het ’n kombi gehad en my pa die Prefect. Daar was geen ander keuse nie. Later is asbeshuise in die dennebos gebou. My pa met sy humorsin het dit ‘Bangbroeklaagte’ genoem omdat ons juis nie bang was om daar te woon nie. Ons het vrede gehad in Bangbroeklaagte. Ek onthou die reuk van dennenaalde en ’n Kersboom versier met papierkettings en regte kerse. Ons het skippies uit boombas gekerf en ’n roomys-stokkie as mas gebruik. Daar het ’n rivier deur die bos gekronkel en ek het ure met die bootjies gespeel.”
Sy pa en broer het saam rugby gaan kyk en dan moes hy en sy ma in die kar wag. “Ek het altyd loop en roomysstokkies optel. My broer was altyd by die mans en Simontjie het ma en ouma in die kombuis gehelp.”
Simon se een groot kinderdroom was om te leer klavier speel. “Ons het nie ’n klavier gehad nie en ek het in my kinderlikheid die klaviernote op ’n lang strook papier geteken en dit op die kombuistafel vasgeplak. So het ek kamma geoefen. Tot die juffrou agtergekom het ek oefen nie op ’n regte klavier nie. Dit was die einde van my musieklesse.”
Die impak van Simon se ouers se doofheid het ’n direkte invloed op hul armoede gehad. Doofheid was vir hom normaal in sy kleintyd, maar op skool het hy agtergekom hoe wreed kinders kan wees as jou ouers arm en doof is.
“Ek en my broer het by my ouma leer praat, want in ons huis was daar net stilte. Ek en my broer het van kleins af gebaretaal leer praat en was ons ouers se tolke.”
’n Vars bries het in Simon se lewe beland toe hy as hoërskool-seun vriende gemaak het met ’n ouer vrou wat die hotel besoek het waar sy pa as nutsman gewerk het. Hy het lank met haar gekorrespondeer. Sy was opwindend en anders. “In standerd nege het sy vir my geld gestuur om by hulle in Pretoria te gaan kuier. Haar oudste dogter het my eerste nuwe klere vir my gekoop en ons het in die spoggerige restaurant by Loftus gaan eet.”
Ná die molesteringvoorvalle het Simon ’n buitestander in sy familie geword. “Ek wou later wegkom uit die situasie en my groot kans het gekom toe die weermag my opgeroep het. Ek het gevra om Pretoria toe te gaan sodat ek naweke by my penvriendin se gesin kon gaan kuier. Ek het net geweet ek moet op daardie trein klim en wegkom.” Hy was 17 en verskrik deur die treinrit na die onbekende van die weermag. “Die gegil en geskree toe ons uitklim, was erg vir ’n kind van ’n klein dorpie. Maar in die weermag het ek gesien hoe ander mense leef as jy nie brandarm is nie – so anders as waaraan ek gewoond was.”
Simon vertel dat die ooms hom ná hy uitgepraat het weer by geleentheid gemolesteer het, maar hoe ouer hy geword het, hoe minder het hulle belang gestel. Die mans is later getroud en het gesinne.
“Ek besef nou dit is hoe ’n pedofiel se kop werk, maar die ironie is dat die gemolesteerde verwerp voel as die molesteerder hom later onttrek.”
Die boodskap wat Simon met sy verhaal wil oordra, is dat armoede en trauma jou nie hoef te pootjie nie. “Jy kan met deursettingsvermoë uitstyg. Ek moes baie hard werk vir wat ek nou het. Dit is vir my geweldig bevredigend om mense mooi aan te trek.”
Hy het as volwassene kans gekry om sy ouma op haar sterfbed te besoek. “Ek moes ’n ver ent saam met die een oom in die kar ry om haar te gaan sien. Dit was moeilik. Dit was asof sy vir my gewag het. Ek kon vir haar sê alles is oukei, sy kan maar laat gaan. Sy is net daarna dood.”
Die molestering van sy kleintyd het Simon ’n eenkantmens gemaak. Hy het verraai gevoel en die gevolg was dat hy ná sy ouers se dood bande met sy familie verbreek het. “Daar is so baie mense wat hierdeur geraak word. Ek wil niemand aan die pen laat ry nie, maar ek voel ek het die reg om nou hieroor te praat. Dit het my lewe diep geraak. Ek het met ’n paar meisies uitgegaan, maar niks ernstigs nie. Die feit is dat ek nooit seksueel gemaklik gevoel het met ’n vrou nie.
“Dink ek die molestering is die oorsaak? Ja, ek glo so. Daardie ooms het my onskuld en ’n deel van my lewe gesteel. Dit het ’n besliste invloed op my selfbeeld en my selfmoordpogings in my jongdae gehad. Ek is ’n introvert en sukkel soms met sosiale situasies.”
Daar is dele van Simon se kinderlewe wat vir hom kosbaar was. Hy weet sy ouers was baie lief vir hom en hy waardeer wat hulle in moeilike omstandighede vir hom gedoen het. Maar daar is ook dele wat hy nou wil afsluit.
“Ek vertel my storie ter wille van ander bang kinders wat vir ’n roomys in stegies ingedwing word.”