Sien die genade, en weet: ons gaan okay wees! – Deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: Pexels
“Die genade is mos altyd groter as die moeilikheid,” antwoord ’n rooi rose-kollega verlede week toe ek vra hoe dit gaan. Die woorde lê in my onderbewussyn en broei, en met Maandag se Vryheidsdag wat stilweg gekom en gegaan het, het my gedagtes teruggespring na 27 April 1994, die eerste Vryheidsdag in Suid-Afrika.
https://www.facebook.com/ApartheidMuseumSA/photos/a.176435784627/10158276526424628/?type=3&theater
Dit was ’n waterskeidingsdag, een waaroor baie mense vooraf maar taamlik agterdogtig was. En toe breek dit aan, en duisende mense staan geduldig in kilometerlange toue en wag vir ’n kans om hul kruisie te trek. Terwyl daar gewag word, begin mense met mekaar praat – wit en swart, oud en jonk. Daardie aand se televisienuus het die verstommende stories van regoor die land na ons sitkamers gebring, en gewys: ons kán dit doen. Ja, daar was sedertdien al heelwat hobbels (om van die duisende slaggate nie eers te praat nie) in ons pad, maar daar is oorgenoeg bewyse in Suid-Afrika van hoe ons as nasie kan saamstaan.
Op die 11e September 2001 het ons in absolute verstomming gekyk hoe twee passasiersvliegtuie in die Twin Towers in New York vasvlieg. Ek was 6 maande swanger, en skielik diep bekommerd oor die soort wêreld wat op my ongebore baba wag. Was hierdie die begin van die einde? Maar nee, nie eers lafhartige terroriste wat byna 3 000 onskuldige mense se dood veroorsaak het, kon daarin slaag om die “goodwill” tussen mense en nasies totaal uit te wis nie.
En hier is ons nou in, in April 2020, en ons kon steeds Vryheidsdag vier. Weliswaar sonder die gebruiklike openbare saamtrekke of kuiers om die braaivleisvuur saam met vriende, want ons beleef tans – soos meer as die helfte van die wêreld se bevolking – een of ander vorm van inperking weens Covid-19. ’n Virus wat onsigbaar is vir die blote oog, het al meer as 210 000 mense se dood veroorsaak. En steeds is die einde nie in sig nie.
Hierdie keer gaan die uitval erger wees as na enige ramp wat die wêreld in my en jou leeftyd beleef het. Die lewe soos ons dit geken het, gaan vir baie lank nie dieselfde wees nie. Maar ons gaan hierdeur óók kom, weet ek. En ons gaan okay wees.
Die baba wat ek op 9/11 nog nie eers geken het nie, skryf vanjaar Matriek. Wel, hopelik. Al het hy ses weke laas op die tradisionele manier skoolgegaan, en al weet ons nog nie wanneer skole weer gaan heropen nie. Ons lewens loop steeds – virus of geen virus nie – oor van seëninge. Ons het mekaar, ’n veilige huis wat – al is hy seker volgens moderne standaarde aan die klein kant – steeds groter is as miljoene ander mense se skuilings teen Covid-19. Ons is warm, al is die winter hier en al val daar ’n onverwagse laatherfs-reëntjie oor Johannesburg terwyl ek hier sit en skryf. Ons het meer as genoeg kos en warm klere en komberse vir die winter wat voorlê. Ek het nog ’n inkomste, al word dit ook negatief geraak deur die pandemie. As jy hier lees, het jy toegang tot die internet en ’n slimfoon en heel moontlik ook ’n rekenaar, wat beteken ons het toegang tot vermaak én opvoeding én ons geliefdes wêreldwyd.
Ons gaan okay wees.
Maar wat na Covid-19 met ons gebeur, is totaal in ons hande. Gaan ons hierdie kans gebruik om ’n nuwe normaal te skep? Gaan ons minder jaag en meer lééf? Minder opgaar en mors en meer spaar? Gawer wees teenoor Moeder Aarde en ons (hopelik baie minder) rommel daagliks herwin? Gaan ons met meer liefde teenoor mekaar optree? Meer help, minder haat? Meer deel en minder kla?
Ek het nie antwoorde nie. Maar ek het hoop dat ons ’n nuwe, beter wêreld gaan skep vir die wat na ons kom. En ek weet ons gaan okay wees, want ons het mekaar.