Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts
Shiraz SA, die oorkoepelende organisasie wat dié kultivar bevorder, het onlangs geskiedenis gemaak by hul jaarlikse tegniese werkswinkel wat op Allée Bleue buite Franschhoek gehou is: ‘n Shiraz aromawiel is bekend gestel en ‘n video wynproe is met produsente van Australië gehou. Daar was 130 deelnemers aan die Suid-Afrikaanse kant en agt Australiërs wat deelgeneem het aan die proe.
Altesaam 10 Australiese Shiraz-wyne en die top 12 Shiraz-wenners van vanjaar se jaarlikse Shiraz SA-kompetisie (lees meer daaroor hier) is 08:00 Suid-Afrikaanse tyd en 17:00 Australiese tyd via Zoom geproe en bespreek.
Wyne van MacLarlen Vale en Barossa in Australië en wyne van al die Shiraz-produserende streke in Suid-Afrika is geproe. Zandvliet het vanjaar twee Top 12 wyne gehad en uit die gehoor is vertel dat die plaas in die 1990’s aan wynliefhebbers die geleentheid gegee het om dieselfde wyn wat in twee verskillende soorte vate verouder is, te bestel, om te sien watter effek eikehoutvate van Amerika en Frankyk op wyn het.
Die gemiddelde ouderdom van die wingerde waaruit die Australiese wyne afkomstig is, is 50 jaar. Die plaaslike wingerde is heelwat jonger: 10-29 jaar.
Die proe is aan die Suid-Afrikaanse kant gelei deur Heidi Kritzinger van Kanonkop wynlandgoed, Francois Haasbroek van Blackwater Wines en Nic van Aarde van Oldenburg Vineyards.
Medeprofessor Susan Bastian van die Universiteit van Adelaide, het ‘n kort voorlegging oor die geskiedenis van Australiese Shiraz gelewer. Die tema van haar praatjie was “From hermitage to heritage: Australian Shiraz history, quality and regionality.”
Sy het vertel dat die Australiese wynbedryf net meer as 200 jaar oud is en begin het met die aankoms van die Britte in 1788, wat onderweg by Rio de Janeiro en Kaapstad aangedoen het en Portugese- en Suid-Afrikaanse druifvariëte saamgebring het. In 1816 hetJohn McArthur en sy seuns na Frankryk gereis om stokkies te gaan haal en in 1820 het Spaanse- en Franse kultivars in Australië arriveer.
Dit was egter in 1831 wat James Busby na Europa gereis het om meer inligting oor wingerdbou in te win en meer as 650 wingerdstokkies versamel het. Rekords toon dat 362 gesond en lewendig arriveer het.
Vandag is Australië die wêreld se sewe grootste wynproduserende land (met Suid-Afrika in sesde plek) en die vyfde grootste wyn-uitvoerder met 150 000 hektaar onder wingerd. Altesaam 100 druifkultivars word oor 65 wynstreke produseer. Vier uit vyf wynplase groei Shiraz en dit verteenwoordig amper die helfte van alle rooidruiwe in die land.
Die algemene reël wat in Suid-Afrika gevolg word oor die gebruik van Shiraz en Syrah – dieselfde druif, maar verskillende wynmaaktegnieke, word ook in Australië gebruik.
Hier in Suid-Afrika kry mens beide op wyn-etikette en daar is geen reël vir die gebruik nie, maar baie kelders gee vir hul vlagskip-wyne (die meer ernstige wyne wat in die Ou Wêreld-styl gemaak word) die naam Syrah. Klassieke wyne is tipies laer in alkohol, minder houtagtig, minder vrugte vorentoe.
Aan die ander kant van die spektrum onder die Shiraz-etiket kry jy vrugbaarder, ryper, meer hout, meer alkohol en word gesien as behoort aan die meer moderne skool van Shiraz-wynmaak. Dis juis hoekom Shiraz SA se slagspreuk: “I say Syrah, you say Shiraz” is.
Edmund Terblanche, voorsitter van Shiraz SA het voorheen vertel dis nie bekend hoe Shiraz Suid-Afrika bereik het nie. “Dis dalk in dieselfde tyd toe James Busby in 1831 plantmateriaal na Australië geneem het. Hy het blykbaar op pad by Kaapstad aangedoen. Die eerste bevestiging dat dit geplant is, was aan die einde van die 1890’s in die wingerde van Groot Constantia in Kaapstad. Dit was egter Australiese-entings.”
Met elke wyn wat geproe is, was daar geleentheid vir besprekings oor prys, styl, hoe oud die wingerde is en hoe die wyn gemaak is. Wynmakers van beide lande kon hul insae gee oor hoe Shiraz die afgelope 30 jaar in hul kelders verander het en hoe wyndrinkers se voorkeure ook aangepas het.
Charles Hopkins, keldermeester by De Grendel het genoem dat daar in die vroeë 2000s ‘n stylverandering in Shiraz-produksie gekom het: minder oor-ekstraksie en meer drinkersvriendelike wyne wat nie lank hoef te verouder nie. Hy het genoem dat meeste van die Australiese wyne wat die oggend geproe is, baie aromaties, gebalanseerd en plek-spesifiek was.
Ander interessanthede wat geopper is, is dat ons ook wegbeweeg het van die rustieke aanslag en baie meer ligter alkoholwyne produseer. Dis nie meer moontlik om een enkele karaktereienskap aan Suid-Afrikaanse wyne toe te skryf nie. Die mentaliteit was oor die algemeen dat plaaslike wynmakers aangepas en verander het.
Francois het genoem dat baie oorsese wynliefhebbers Suid-Afrikaanse Shiraz beskryf dat dit dikwels soos Ou Wêreldwyne voel, maar soos Nuwe Wêreld proe. “Ons is tans in limbo oor ons stylistiese uitdrukking.”
Die Australiese wyne se pryse het gewissel tussen 45 Australiese dollar (sowat R520) tot 120 AD (sowat R1400), terwyl die SA Shiraz gewissel het tussen R95 en R488.
Die Australiërs was baie beïndruk met die kwaliteit wat hulle geproe het, maar amper verbysterd toe hulle die pryse hoor! Prof. Bastian het gegrap en gesê sy wil sommer die hele gros oor verskeep.
Dit was opvallend dat selfs die duurste Australiese Shiraze almal onder skroefdop is en die span het bevestig dat skroefdop altyd hul eerste keuse is. Die land het in die vroeë 2000s baie gekurkte wyne gehad en dit was ‘n natuurlike oorgang na skroefdop toe. Hoewel Europa, China en Amerika steeds kurk verkies, word die wyne vir die Australiese mark met skroefdop verpak.
In Suid-Afrika is skroefdop nie baie algemeen onder rooiwyn nie en van die 12 Shiraz SA-wenners wat geproe is, was slegs een skroefdop.
Wat baie interessant was, was om die Oliver’s Taranga Vineyards JHJ Shiraz 2021 te proe en toe te hoor dat die druiwe moontlik van Suid-Afrikaanse onderstokke wat in 1839 geplant is, afkomstig kan wees.
Die bespreking het afgesluit met die gevolgtrekking dat die toekoms van Suid-Afrikaanse Shiraz blink is, veral omdat daar soveel verskillende style in soveel verskillende pryspunte is.
Die bekendstelling van die Shiraz aromawiel – ‘n gesamentlike projek van die Universiteit van Stellenbosch, South Africa Wine en Shiraz SA – was ook ‘n hoogtepunt op die Shiraz-kalender. Die bekendstelling deur Dr. Jeanne Brand van die universiteit het interessanthede verklap:
Die Shiraz aroma wiel is saamgestel oor ‘n vier jaar periode wat in 2021 afgeskop het. Meer as 200 wyne, verteenwoordigend van al die wynproduserende streke in Suid-Afrika, is deur meer as 100 wynmakers en bedryfskenners geproe.
Die kernwoorde wat tydens hierdie proesessies gebruik is om Shiraz/Syrah wyne te beskryf, is gebruik om die aromawiel te ontwikkel.
Die aromawiel is geskep om professionele mense in die wynbedryf, studente en verbruikers te help om die kultivar te verstaan en wyne beter te beskryf gedurende proesessies. Dit is ‘n belangrike hulpmiddel wat wynmakers kan gebruik om met verbruikers te kommunikeer. Die aromawiel kan gebruik word om die aromas wat verband hou met sekere style uit te lig, asook wat van ‘n spesifieke wyn verwag kan word en sodoende die Shiraz wynstyle meer toeganklik te maak vir verbruikers.
Dit is die eerste keer wat so ‘n groot paneel van bedryfskenners as sensoriese paneel gebruik is vir sensoriese navorsing in Suid-Afrika.
Ná die bekendstelling, is voorleggings oor onder meer hoe om rolblaar-virus met kunsmatige inteligensie te beheer en watter impak die toediening van suurstof tot Shiraz gedurende die gistingsproses het, deur Prof. Gerhard Pietersen van Patho Solutions, Xander Roets en Lizel Mostert, albei van die Universiteit van Stellenbosch gelewer. Riaan Möller van Shiraz SA het ‘n proe en bespreking van die goue medaljewenners van die Nasionale Jongwynskou 2024 aangebied.