Die goeie nuus is dat dié feestreffer nou in fliekteaters landwyd te sien is.
Som van twee vertel die verhaal van Henk Opperman, ’n sielkundige wat op sy vrou Nicolene se begrafnis bieg dat hy destyds die matriekvraestel vir wiskunde uitgelek het. Wanneer die onderwysdepartement dan besluit die hele klas van 1990 moet dié eksamen herskryf, vra Henk sy seun, Renier, om sy tutor te wees, maar dit sukkel. Dié pa-seun-verhouding is immers al hulle hele lewe lank gespanne en plofbaar. Henk se pa, Gert, meng ook kort-kort in, en dis nie lank nie of dinge ruk handuit.
Die rol van Henk word deur Louw Venter gespeel, en James Borthwick is Gert. James het die toekenning vir beste akteur gewen, en Pierre Breytenbach, wat te sien is as Petrus, is as beste manlike byspeler aangewys. Die rol van Renier word deur Adriaan Havenga vertolk. Ook in die rolverdeling is Greteli de Swardt, Righard van Jaarsveld, Reginald Hufkie, Deon Coetzee, Leandie du Randt en Kim Cloete.
Som van twee is Simoné Pretorius se debuut as speelfilmregisseur, en sy het twee Silwerskermtoekennings gewen – een vir beste regisseur en nog een vir die draaiboek. Dries Scholtz se redigering en die klankbaan deur Snoozefest en Hunter Kennedy is ook bekroon.
Filmfinity is die verspreider van die film.
“Dis amper onwerklik om te glo, maar Som van twee is gegrond op ware gebeure,” sê Simoné. “Liani Jansen van Rensburg het op ’n artikel afgekom en my daarvan vertel. ’n Vrou in Nederland, Melissa Kelderhoff, het tydens ’n skoolreünie erken dat sy haar matriekbiologievraestel vooraf gesien het. Die storie het by die minister van onderwys, kultuur en wetenskap uitgekom, en dié het beslis dat die hele land se 1992-matriekgroep hul biologievraestel weer moes skryf.”
Die rolverdeling was vir Simoné die belangrikste aspek van die film. “Ons het akteurs gesoek wat sterk in drama én komedie is, veral vir Louw en James se karakters. Louw het baie kleur na sy karakter gebring. Daardie charisma was nie iets wat ek kon skryf nie – Louw het dit verpersoonlik. En James is seker een van die talentvolste akteurs saam met wie ek al gewerk het. Sy sin vir humor en toewyding is ongelooflik om te aanskou.”
Wat is vir Simoné die belangrikste temas om uit te lig in die film?
“Dat ons ouers nie altyd vir ons kan wees of vir ons kan bied wat ons nodig het nie. Hulle sit maar met hul eie bagasie. En soms, as ons kan erken dat ons ook nie perfek is nie, help dit ons om met hulle te versoen. Ons is immers soms meer soos hulle as wat ons besef.”
Die teaters waar Som van twee te sien sal wees, is:
Nu Metro
- Boardwalk, Port Elizabeth
- Canal Walk, Kaapstad
- Clearwater Mall, Johannesburg
- Galleria, Durban
- Loch Logan, Bloemfontein
- Menlyn Park, Pretoria
- Mountain Mill, Worcester
- The Strip, Welkom
- Woodlands, Pretoria
Ster-Kinekor
- Cape Gate, Kaapstad
- Cresta, Johannesburg
- Garden Route Mall, George
- I’langa Mall, Mbombela
- Irene Mall, Pretoria
- Mall of the North, Polokwane
- Mimosa Mall, Bloemfontein
- Mooi Rivier Mall, Potchefstroom
- Rosebank Nouveau, Johannesburg
- Secunda Mall, Secunda
- Somerset Mall, Somerset-Wes
- The Grove, Pretoria
- Tygervallei, Kaapstad
- Vaal Mall, Vanderbijlpark
- Water Crest, Durban
Onafhanklik
- Atlanta Cinema, Swakopmund
- Epic Northridge, Bloemfontein
- Minimax Cine, Kaapstad
- Road House Cinema, Hermanus
- Movies@Monte, Johannesburg
KYK | Som van Twee se lokprent
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae met Beer Adriaanse oor Niggies en sy intensste rol nóg