Erg niks gewoond en steeds syfersku sedert nie eens my hárt in Matriek Rekeningkunde HG-vraestelle wou klop nie, watwou my balansstaat, wonder ek tog soms wat my eerste sommetjies sal wees as daar skielik ses nulle mét ’n een vooraan in my bankrekening verskyn.
Inderwaarheid kort net die syfer 1, want die nulle is reeds daar.
In die dae toe Lucas Maree so lekker gesing het van wat hý sou doen met ’n miljoen, was ’n miljoen nog ’n plaas se geld. Deesdae is dit eintlik maar meer ’n doodgewone drieslaapkamerhuisie in ’n doodgewone buurt.
Máár, mens kyk darem ook nou nie ’n miljoenrandperd in die bek nie en só ’n perd kan maar beslis in my kampie kom wei.
Soos dit ’n volbloed, dog Calvinistiese kredietkaartaankoper betaam, sal ek eerstens die verstandige ding doen en al my skuld afbetaal. Ek vermoed Absa sal daarna ’n halwe dag lank wankelrig op die effektebeurs vertoon, maar vir ’n slag sal banksaldobekommernisse nie mýne wees nie.
Daarna is die ene met die huppelbene deur die reisagent se deur, moi! “Kaartjies vir vier na die Stad langs die Seine, asseblief!”
As ons dae lank na hartelus deur die Stad van Liefde se strate ge-Bonjour! het en my negejarige se droom om self die Eiffeltoring te beklouter en presies te sien hoeveel boute in die struktuur is, bewaarheid is, en my sewejarige meisiekind kon poseer dat ’n Montmartre-skilder neffens die Sacré-Cœur haar gesiggie in ’n potloodskets verewig, kan ons op ’n binnelandse Franse vlug spring en kuier-kuier deur Provençe toer.
Sou die ondenkbare gebeur en ons moeg raak vir die Franse, is ons op die volgende vlug na Rome… Venesië… die Amalfi-kus… Ons beleef die autobahn in Duur Duitse Motors, kyk opera in Wene, ry kabelkar teen sneeubedekte Alpe op in Lucerne… En gaan hou tweede wittebrood deur Griekeland, Spanje en Portugal met die klein tasdraertjies op sleeptou.
Om hulle gesiggies te sien as nuwe kulture en tale en kos en gebruike lewendig raak uit die boeke wat hulle só graag lees, sal ’n belewenis wees waaraan geen prys geheg kan word nie. (Ek hoop van harte die reisagent en toerleiers voel ook só en bied ons ’n Europese avontuur teen sakpas Suid-Afrikaanse gatsaktariewe aan).
Die volgende uitstappie sal die nuwe boekwinkel op ons dorp wees. Waar ek gewoonlik bedeesd en met ontsag die rye en rye nuwe boeke beloer, sal ek nou baldadig die een na die ander in die inkopiemandjie laai. Minstens dertig van hulle waarop ek my oog al ’n geruime tyd het. Die kinders sal ook elkeen hande vol nuwe boeke kry. Ons sal weke lank ’n leesfees hou.
Na die boekbonanza en vóór ons oorsese reis sal ek by my getroue haarkappervriendin indraf. Waar ek my in die verlede al verspreek het en gesê het dat ’n “Brazilian wax” al is wat my hormonale haarstyl sal red, sal ek nou weet om te vra vir ’n “Brazilian blowdry” – daardie duur affêre wat sorg dat jou hare sonder warmtange, peperduur produkte en ure in die haarsalon, soggens in ’n japtrap syglad en gestilleer lyk. Dit sal my ure spaar. En, ek sal ’n slag saam met die kinders in die reën kan dans sonder om te worry dat my hare mince.
So gepraat van tyd spaar. Ek sal die vrek duur, maar vrek doeltreffende dieet (VDMVDD) wat my TV-aanbiedervriend 10 kg in ’n skamele 30 dae laat verloor het, ook kan bekostig. Dus kan ek voortaan soggens die tyd wat ek gewoonlik bestee om te besluit watter fat pants dit vir die dag sal wees, benut om te kies waarin ons die rit skool toe aanpak: Die nuwe middernagblou fôrbaaifôr met draaitafel vir tien (nuwe) CDs, of die ou swart ma-se-wa met sy parkeerareaskraapmerke wat ek weens sentimentele redes gehou het.
Nadat die kinders by die skool afgelaai is, sal ek steeds saam met my vriendin op ons oggendstappie gaan. Maar, omdat ek nou slank is danksy die VDMVDD, sal ek ’n purperpers ontwerperoefenpakkie dra soos die gimnasiumhasies in die tiewie-advertensies. En ook sommer ’n onpaar paar tekkies waarvan die regtervoet se tekkie ’n nommer groter is sodat dit gerieflik rondom die draadwerk in my eens gebreekte voet sal pas.
As die tekkie jou pas, trek dit aan! Lees meer hier.
Ek sal elke oggend na ons stappie weglê aan brosgebraaide spek en kiwivrug vir brekfis.
Daarna sal ek voor die rekenaar inskuif en na hartelus die nuusbladsye lees, loer wat op sosiale media aangaan en vryskutwerk doen soveel ek kan én wil.
Ek sal nie meer persoonlike rekords met die stofsuier en FloorWizz hoef op te stel omdat ’n oggend te min ure het nie, want nou sal ek ’n feëtjie kan bekostig om dit vir my te doen – dis nou die stofsuig en die vloere was, sy kan maar self besluit of sy rekords wil breek.
Ek sal my vriendinne nooi vir koffie en ure in teetuine spandeer terwyl ons die wêreld se probleme en die lastige skooltake oplos.
Smiddae na skool sal dit nie meer ’n toustanery wees voor die rekenaar as almal op een slag inligting vir ’n skooltaak of mondeling moet Google nie, want sien, ek het reeds vir elke kind sy eie skootrekenaar gekoop. ’n Belegging in hulle tegnologiese toekoms – en my rus en vrede.
Saans sal my man begroet word met die heerlikste geure as hy by die kombuisdeur instap na ’n lang werksdag. Ek sal onverskrokke eksperimenteer met nuwe resepte en nie meer die kosmakery eerder aan hom oorlaat omdat ek té bang is om weer die duur bestanddele op te foeter of die lamsboud wat ook ’n arm en ’n been gekos het, tot houtskool te verbrand nie.
Na gelang van die seisoen, sal ek my saans met ’n glasie Châteauneuf-du-Pape in die hand óf voor die kaggel óf onder die lugversorger op die bank neervly en die een na die ander nuwe fliek en reeks op die afshow skottelkanaal kyk.
Voor slaaptyd sal ek eksotiese seewier met ’n sprinkel meermin glitter en ’n duur Franse naam wat herinner aan seevakansies, aan my wange tik, een van my splinternuwe boeke nadertrek en myself aan die slaap lees.
En, heerlik droom van my volgende miljoen. Mens raak mos gewoond hieraan.