By gebrek aan blootstelling aan TV-sepies, moes my geslag kleintyd maar ons eie dramas skep. Selfs die boekwurms onder ons het een of ander tyd ons gunstelingboeke kafgedraf en dan droëbek gesit. Om ‘n stimulerende kykie in die menslike psige te kry, het meer geverg as om bloot ’n knoppie te druk.
Fliek in die enigste teater op die dorp was ’n Groot Geleentheid. Ek onthou die afwagting wanneer tonele uit “SA Spieël” in swart en wit op die skerm geflits het; dan was die regte fliek naby. Toe die tieneronsekerhede en hormone begin kop uitsteek, was die drama natuurlik nie meer tot die groot skerm beperk nie.
In ’n sekere sin was die intriges in ons tienerkring interessanter as enige movie. En pynliker. Ek wonder steeds, jare later, hoe sensitiewe siele die tienerfase oorleef. Om deur die eerstespanrugbyspeler met die blou oë misgekyk te word, was ’n veel groter trauma as om van agter jou springmielies te sit en kyk hoe die cowboys & crooks mekaar van die gras af maak.
Kort voor my matriekjaar het Suid-Afrika TV gekry. My pa het ewe kalmpies besluit ’n televisie en ’n matriekkind in een huis is nie ’n goeie kombinasie nie, en ek het dit ewe kalmpies aanvaar. Sedertdien het ek dikwels gewonder hoekom ek nie my pa se kragtige oorredingsvermoë geërf het nie – klaarblyklik het dit ‘n geslag oorgeslaan, maar dis ’n onderwerp vir ’n ander dag.
Wat die sepies betref, is ek steeds ’n oningewyde – selfs sonder ’n TV-stel om aan te skakel as ek wil sien hoe ander die lewe in volkleur takel. Dalk is dit hoekom ek ure lank in ‘n restaurant of in ’n tou na mense kan sit/staan en kyk. Ek wonder oor hul verhoudings, verlangens en vooruitsigte, en of die lewe vir hulle lekker is.
Die voordeel is dat ek hulle kan dophou, my verbeelding vrye teuels gee, en my eie afleidings maak.
Nou weet ek: my vermyding van sepies is net ‘n verdedigingsmeganisme. Dis ‘n poging om die ware drama van die menslike toestand te ontduik.