Sensitief, sensitiewer, empath deur Mariette Snyman
Een uit elke vyf mense is ’n sogenaamde hoogs sensitiewe persoon wat intenser emosionele reaksies toon, sintuiglike prikkels op ’n dieper vlak verwerk, en ’n chaos en geraas moeiliker hanteer. Onder hulle is daar ’n groep wat nóg fyner gekalibreer is: empate of empaths.
“Dié mense voel letterlik ander se emosionele of fisieke gewaarwordinge aan eie lyf,” sê dr. Judith Orloff, psigiater verbonde aan die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles. “’n Empath ervaar moontlik die maagpyn van die vreemdeling langs hulle in die trein, of hul lewensmaat se wanhoop. Sommige empate ‘deel’ slegs ander se emosies, ander is sterker op fisieke simptome ingestel, en ’n derde groep ervaar albei. Dis dus iets heel anders as om empatie met iemand te hê: in daardie geval dink ons ons bloot in hoe die ander mens moet voel.
Lees ook: Empaths: 16 wenke om jou energie te beskerm en te herstel
“Empate word met ’n hipersensitiewe neurologiese stelsel gebore. Ek vergelyk graag hul belewenis met ’n hand wat ’n voorwerp met vyftig pleks van vyf vingers vashou. Hulle is ewe oop vir heilsame én skadelike energie, maar dis ander se pyn of negatiwiteit wat ’n probleem skep. Stel jou voor hoe dit moet voel om in ’n winkelsentrum elkeen wat by jou verbystap se stres soos ’n spons op te suig. Omdat ek ook ’n empaat is, weet ek jy kom angstig, lighoofdig of doodmoeg tuis. Of met een of ander pyn wat vroeër nie daar was nie.”
Beteken dit empate is lewenslank tot “tweedehandse” lyding gedoem? Glad nie! In haar oudioprogram Essential Tools for Empaths gee dr. Orloff raad vir ’n gelukkige, gebalanseerde bestaan. “Bewustheid, en die besef dat daar nie fout is met jou nie, is die eerste stap. As jy weet jy is vatbaar vir ander se negatiewe belewenisse, kan jy strategieë aanleer om jouself te beskerm en jou ewewig te herstel.
“Empate is bevoorregte mense met besonderse eienskappe. Hulle is daarop ingestel om ander te help en kan met oorgawe liefhê. Hulle het groot begrip vir ander mense, want hulle weet intuïtief wat ander voel en dink. Hulle is in voeling met hul liggaam en emosies – dit maak hulle uiters sensueel. Hulle beleef die skoonheid van die natuur intens. Hulle is kreatief en het ’n byna tasbare sin vir die spirituele.
“Daar is selfs empate met ’n buitengewone aanvoeling vir ’n spesifieke lewensterrein, soos telepatiese, voedsel-, dier-, aard- en plant-empate.”
Dr. Orloff, wat in haar private psigiatriepraktyk op die behandeling van empate en sensitiewe mense fokus, meen die hoofstroommedisyne het nog nie ’n behoorlike greep op die uitdagings waardeur empate in die gesig gestaar word nie. “Hoewel ek as ’n full-blown empath by psigiatriese behandeling baat gevind het toe ek jonk was, kon 14 jaar se mediese opleiding my nie al die antwoorde gee nie. ’n Studie van teorieë oor subtiele energie – dis immers waaruit emosionele en fisieke pyn bestaan – het dié gapings gevul.
Wetenskaplike navorsing is wel besig om in die regte rigting te beweeg. Hier is enkele bevindings wat die empaatverskynsel belig:
1 “Volgens wetenskaplikes stel ons spieëlneuronstelsel, ’n groep selle in die brein, ons in staat om met ander se emosies te resoneer en só in hul vreugde en leed te deel. MRI-skanderings toon dat baie mense dit in hul lyf voel wanneer iemand wat hulle liefhet, seerkry. Empate se mirror neuron system is so gevoelig dat hierdie reaksie nie net geliefdes nie, maar ook onbekende mense en ander lewende wesens insluit. Sosiopate, psigopate en narsiste word beskou as mense met empatiegebrekstoornisse, deels vanweë ’n onderaktiewe spieëlneuronstelsel.
2 “’n EKG toon ’n elektromagneetveld om die hart, en ’n EEG een om die brein. Volgens die Heart Math Institute is die elektromagnetiese stroom wat die hart afgee sestig maal sterker as dié van die brein. Elke mens het ’n subtiele energieveld wat wyer as hul liggaam strek en inligting oor hul emosies en fisieke probleme bevat. Wanneer mense na aan mekaar beweeg, oorvleuel hierdie velde. Empate tel die inligting in ander se velde op sonder om te weet wat dit is of hoe hulle dit moet interpreteer. Hulle sukkel om tussen hul eie en ander se gevoelens of fisieke simptome te onderskei.
3 “Navorsingsresultate dui op die voorkoms van sosiale oordrag. Een huilende baba in ’n hospitaalsaal kan ’n groephuilsessie aktiveer, nes die angstigheid van ’n enkele werknemer na ’n kantoor vol kollegas kan versprei. Die vermoë om jou gemoedstemming met dié van ander te sinchroniseer bevorder interpersoonlike verhoudings, maar by empate kan dit bydra tot emosionele oorlading.
4 “Die neurologiese verskynsel sinestesie behels die afparing van twee sintuie in die brein; iemand sien byvoorbeeld kleure terwyl hulle na musiek luister. Een seldsame variasie hiervan is mirror touch synesthesia of spieël-aanrakingsinestesie. Wanneer Persoon A waarneem hoe iemand aan persoon B se wang raak, beleef A letterlik dieselfde aanraking. Hierdie studies gee geloofwaardigheid aan empate se liggaamsbelewenis van ander se sensasies.”
Oormatige blootstelling aan ander se stres lei tot wat dr. Orloff as emotional hangovers beskryf. Op die lang duur kan dit gesondheidsprobleme veroorsaak.
“Talle empate kom spreek my met ’n angsstoornis, depressie, agorafobie (vrees vir plekke of situasies wat jou paniekerig, hulpeloos of verleë kan laat voel), chroniese moegheidsindroom, uitbranding, of toestande soos fibromialgie en deurlaatbare dermsindroom. Hulle reageer dikwels slegs gedeeltelik op psigoterapie of die medikasie wat normaalweg voorgeskryf word. Baie van hulle dryf medici teen die mure uit, en sommiges word selfs as hipochondries beskryf.
“Mettertyd het ek besef hierdie moeilik behandelbare gevalle is mense met empatiese siektes wat deur empathic overload veroorsaak word. Daar is ’n manier om vas te stel of ons met ’n empatiese siektetoestand te make het: ek lei die kliënt op om kalmerende tegnieke soos meditasie te gebruik, hulself te beskerm deur gesonde grense te stel, en die prosessering van energie te bestuur. Indien dit die probleem oplos, was dit ’n empatiese siekte; andersins nie.”
Verslawings, kos en gewig
Weens al die toksiese stres wat empate absorbeer, ontwikkel hulle soms verslawings in ’n poging om hul hipergevoeligheid te verdoof. “Hulle drink dalk te veel om skares te kan hanteer, of ‘selfmedikeer’ met kos, dwelms, seks, of ’n inkopietog. Natuurlik dra genetika en omgewingsinvloede ook tot verslawings by, maar ’n beduidende aantal van my pasiënte is betrokke by ’n rehabilitasieproses.
“Die gewone diëte werk selde vir empate. Ek beskou kos as medisyne: dit kan jou senustelsel stabiliseer of laat ontspoor. Die regte eetpatroon is die sleutel tot biologiese en emosionele stabiliteit, maar vir empate word eet maklik ’n verslawing. Kos help hulle om emosionele stres te hanteer en die bykomende gewig dien as ’n pantser teen die absorbering van negatiewe energie. Dit laat hulle ook meer grounded voel.
“Baie empate gryp na suiker, stysel of vet om hulle teen ander se woede, depressie of pyn te beskerm. Dis ’n korttermynoplossing wat ander probleme skep. Die volgende riglyne kan help om heilsamer gewoontes te kweek:
• Identifiseer stressors wat jou na kos laat gryp, soos ’n geskil met jou lewensmaat of ’n kollega wat jou knoppies druk. Klaar die energie onmiddellik op deur ’n paar minute lank diep asem te haal. Asem bewustelik die negatiewe energie uit; in ’n krisis is die normale reaksie om jou asem op te hou, wat die toksiese energie vastrapplek gee. As die impuls om te eet jou pak, drink dadelik ’n glas water, of gaan stort as jy kan. Water help om negatiewe energie weg te was.
• Anders as suiker en stysel, anker en stabiliseer proteïen jou. Eet klein proteïenryke maaltye deur die dag; jy sal sterker en veiliger voel. Eet soveel groente as wat jy wil en eet ook volgrane, maar waak teen styselverslawing.
• Suiker sneller ’n drang na stysel en alkohol. ’n Oormaat suiker kan jou emosies op loop jaag. Vermy of beperk dit sodat jou suikervlakke stabiel bly. Moenie etes oorslaan nie.
• Empate is sensitief vir kafeïen. Beperk dit tot die minimum.
• Toets verskillende voedselsoorte uit om vas te stel wat jou standhoudende energie gee. Hoe “voel” die kos in jou lyf Hou by kossoorte wat met jou akkordeer – só voorkom jy verslawing.
• Hou ’n meditasiekussing voor jou yskas. As jy jou met kos wil vertroos of beskerm, mediteer net eers vir drie minute! Fokus op jou hart en haal diep asem. Nou kan jy die yskas oopmaak.
“Wanneer ek moeg, siek, of ontsteld is, verhoog my geneigdheid om ander se energie te absorbeer,” sê dr. Orloff. “Dan maak ek onmiddellik ’n plan. Ek probeer nie net normaalweg voortgaan nie; dit werk nie. Ek pas selfsorg toe deur my aan die wêreld te onttrek – vir ’n uur, ’n dag of langer. Ek herstel tuis of in die natuur, veral langs water. Dit gee my die kans om op my innerlike te konsentreer – geen eise, onderbrekings of veeleisende mense nie. Mettertyd kry ek my stamina en klaarheid terug.
“Sensitiwiteit is ’n gawe wat gekoester en ontwikkel moet word. Met die regte strategieë kan empate met ’n oop hart leef terwyl hulle veerkragtigheid ontwikkel en voel hul bydrae tot die samelewing word waardeer. Egte empatie is die medisyne wat die wêreld nou nodig het!”
Meer inligting by drjudithorloff.com
Is jy of is jy nie?
Beantwoord die volgende vrae om vas te stel of jy ’n empath is:
1 Beskryf mense jou as oorsensitief of uitermate emosioneel? ja / nee
2 As ’n vriendin vertwyfeling beleef, ervaar jy dit weldra ook? ja / nee
3 Put groepe jou emosioneel só uit dat jy alleentyd nodig het om te herstel? ja / nee
4 Knaag lawaai, reuke of ’n eindelose gepraat aan jou senuwees? ja / nee
5 Verkies jy om met jou eie motor na plekke te ry sodat jy enige tyd huis toe kan gaan? ja / nee
6 Ooreet jy om emosionele stres hok te slaan? ja / nee
7 Vrees jy heimlik dat ’n intieme verhouding jou sal versmoor? ja / nee
As jy “ja” antwoord op een tot drie vrae, is jy gedeeltelik ’n empath; meer as drie beteken jy het jou emosionele tipe gevind.
(Voltooi die volledige vraelys gratis by drjudithorloff.com/are-you-an-empath-quiz/)
Romantiese verhoudings
“Empaths is ’n spesie op hul eie. Terwyl baie paartjies op nabyheid gedy, kan intieme verhoudings empate verswelg – veral wanneer hulle ’n leefruimte deel,” sê dr. Judith Orloff. “Hulle is so ‘oop’ dat hulle hul maat se vreugdes en vrese beleef asof dit hul eie is, soms selfs telepaties. Kort voor lank raak hulle oorweldig, angstig en uitgeput. Om ‘lank en gelukkig’ saam te leef moet empate hul behoeftes kan oordra en grense stel wat hul maats sal begryp en respekteer. Dit kan behels dat hulle die samelewing se stereotipes rakende huwelike of romantiese verhoudings moet herdefinieer.”
Hier is enkele van dr. Orloff se wenke:
• Kies ’n maat wat jou behoefte aan alleentyd (hersteltyd) verstaan en jou nie dreineer nie. Iemand wat jou verwyt dat jy oorsensitief is, is nie jou pasmaat nie.
• Identifiseer jou persoonlike grense. Het jy jou eie bed, slaapkamer, badkamer of selfs huis nodig? Afsonderlike kamers wanneer julle reis? Verduidelik dat jy inkomende stimuli moet beperk tot dit wat jy gemaklik kan hanteer, en dat dit nie meen jy het jou maat minder lief nie. Tref kompromieë as jou maat te eensaam raak; slaap byvoorbeeld naweke in dieselfde bed.
• Verduidelik dat verskeie mini-breuke per dag jou herlaai sodat jy jul saamwees kan geniet. Strek, haal asem, mediteer, gaan stap, luister na musiek. Jy én jul verhouding sal daarby baat vind.
• As jy nie langer as drie uur tussen mense kan uithou nie, kom ooreen dat jy sosiale geleenthede vroeër kan verlaat. Dan kan jy dit ten volle geniet. “Verseker jou maat gedurig van jou liefde, en maak dit duidelik dat jy nie grense stel omdat die persoon iets verkeerd gedoen het nie. In my mediese praktyk sien ek dikwels hoe eerlike, liefdevolle kommunikasie en die regte lewensomstandighede empate veilig laat voel sodat die liefde kan blom. Dit kan selfs huwelike red. Een geliefde wat my goed verstaan het, het vir my ’n ‘Geen toegang’-bordjie vir my studeerkamer gegee. Dit het my gelief laat voel.
“Dis verstommend hoeveel van my enkellopende pasiënte ’n langtermynverhouding met ’n geesgenoot begeer, maar net nie die regte persoon raakloop nie. Dis nie dat hulle neuroties is, of dat daar te min beskikbare enkellopers is nie. Intieme verhoudings is ’n uitdaging vir empaths omdat die membraan tussen hulle en die wêreld so dun is. Onbewustelik is hulle bang ’n romantiese verhouding sal hulle versmoor.
“Hierdie innerlike konflik voorkom dat hulle hul aan ’n verhouding oorgee. Hulle vermy intimiteit of swig voor maats wat onbeskikbaar is, soos aanlynverhoudings wat nooit in ’n werklike verbintenis ontwikkel nie.
Die ‘afstand’ kalmeer hul vrees dat hulle hul wese in ’n verhouding sal verloor. Sodra hulle hierdie onderliggende dinamiek verstaan en begryp dat hulle in ’n verhouding oor grense kan onderhandel, het hulle ’n beter kans om die regte maat te kry.”