Deur Martjie Roos
Volgens statistieke wat onlangs deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Psigiaters uitgereik is, is Suid-Afrika die land met die tiende hoogste selfdoodsyfers ter wêreld (23,5 per 100 000). Uit die 13 774 selfdoodgevalle wat in Suid-Afrika aangemeld is, was 10 861 mans en 2 913 vroue.
Ds Fanie Kriel, NG predikant by die Strooidakkerk in die Paarl en ook ’n pastorale sielkundige, sê selfdood in Afrika en Suid-Afrika het die afgelope vyf jaar met sowat 34% toegeneem. “Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is selfdood of depressie die tweede grootste siekte in die wêreld en die vooruitskouing is dat dit teen 2025 die grootste siekte in die wêreld sal wees,” sê hy. “In die makro-konteks ly talle mense ná Covid-19 wêreldwyd aan posttraumatiese stresversteuring. Een van die eienskappe daarvan is uitsigloosheid. Duisende mense het tydens die pandemie gevoel hulle is sosiaal van vriende en geliefdes gedistansieer en dit het meer aanleiding tot depressie gegee,” sê hy.
Jacques Botes, ’n maatskaplike werker wat in psigoterapeutiese werk met individue en gesinne spesialiseer, sê die toename in selfdoodsyfers het tydens 2020 met die uitbreek van die Covid19-pandemie en die grendeltyd opvallend vermeerder, veral onder mans wat nie meer finansieël vir hul gesinne kon sorg nie. Fanie beaam dat mans wat die afgelope twee jaar hul werk verloor het uitsigloos gevoel het. “Talle Suid-Afrikaanse mans het ook hoop vir die toekoms verloor omdat hulle gevoel het hulle kan nie meer leierskaprolle in ons land vervul nie.”
Volgens Fanie is dit dikwels trots en die stigma wat aan geestesgesondheidkwessies kleef wat mans verhoed om sielkundige of professionele hulp te gaan soek. “Hulle skram weg van hulp en behandeling omdat hulle glo hulle moet in beheer wees.”
Gedagtes aan selfdood kan ook uit ekstreme ervaring van hopeloosheid spruit of om met die gedagte te leef dat die lewe geen doel of sin het nie. “Die ervaring dat die lewe betekenisloos is, terwyl die persoon probeer sin van die lewe maak, laat die persoon met ’n oorweldigende gevoel van isolasie, hopeloosheid en eensaamheid,” sê Jacques.
Jacques is betrokke by die gemeenskapsprojek Mon Ami – Trauma Troops in die Tshwane Metro-gebied waar vrywilligers opgelei word om slagofferbystand en -ondersteuning te lewer.
“Die organisasie is sedert 2020 baie meer uitgeroep om gesinne ná ’n selfdood by te staan. Een van die vrywilligers van die organisasie moes in hierdie jaar bystand verleen aan 59 mense wat direk deur selfdood geraak is,” vertel hy.
Jacques sê die wêreld is die afgelope paar jaar tydens die pandemie met angs en die begeerte om te vlug gevul. “Die limbiese stelsel in die oerbrein probeer veg vir die individu se oorlewing, soms is die dood ook ’n manier om van fisieke of emosionele pyn te vlug. Ons het ook ’n toename in middelmisbruik soos alkohol, medikasie, dagga en ander onwettige dwelms gesien. Mense sal poog om sover moontlik van pyn af weg te kom, maar die “selfmedikasie” bring slegs kortstondige verligting van angs en die persoon word toenemend meer depressief en die angs neem toe.”
Wees op die uitkyk na dié waarskuwingstekens
- Die persoon praat humoristies oor selfdood of is obsessief oor die dood.
- Daar is tekens van depressie of angs, hopeloosheid en beperkte toekomsvisie.
- Voorbereiding vir die dood vind plaas – iemand praat van ’n selfdoodplan of begin afskeidsnotas skryf. Hou ook in gedagte dat die boodskappe op WhatsApp, Twitter, Instagram, Facebook of enige ander sosiale-media-platforms geplaas kan word.
- Waardevolle of sentimentele besittings word weggegee of daar is ’n dringendheid om ’n testament vir geen rede op te stel.
- Die mens het ’n lae selfbeeld en noem gereeld dat hy nie van homself hou nie.
- Daar is skielike sosiale onttrekking en onverklaarbare en drastiese veranderinge in persoonlikheid, gemoed en gedrag.
- ’n Drastiese afname in energie en lewenslus, irritasie, rusteloosheid en moeilike besluitneming word waargeneem.
- Skielike en drastiese veranderinge in eet- en slaappatrone kom voor. Iemand kan dalk meer as gewoonlik slaap of sukkel om te slaap. Die persoon mag moontlik meer as gewoonlik eet of geen aptyt ervaar nie.
- Daar is ’n verlies aan genot van aktiwiteite wat voorheen vir die persoon bevrediging gebied het. Iemand kan ook dalk sy gesondheid en voorkoms afskeep.
- Gevaarlike fatalistiese gedrag kom voor waar risiko’s geneem word soos om te drink en te bestuur of selfs riskante seksuele gedrag toon.
- Gevaarlike en patologiese misbruik van middels soos alkohol, dwelms en medikasie.
- Ernstige mediese siektes soos kanker of outo-immuunsiektes mag iemand dalk ook meer geneig maak om selfdood te oorweeg.
As die persoon of geliefdes van ’n persoon hierdie waarskuwingstekens opmerk, moet professionele hulp gesoek word. “Hulle moet besef daar is hulp daarbuite. Die regte medikasie soos anti-depressante is baie belangrik, asook terapie kan aanbeveel word. Oefening soos stap en draf en vitamien B-aanvullings kan ook aanbeveel word,” sê Fanie.
Jacques sê ’n openhartige, eerlike gesprek met ’n persoon wat selfdoodneigings toon, is noodsaaklik. “Skep ’n empatiese omgewing. Dit is nie nodig om die onderwerp van selfdood te vermy nie. Gee jou verskering dat dit jou bedoeling is om te help en vra die persoon reguit of sy of hy gedagtes van selfdood ervaar.”
Lucinda Risseeuw,’n kliniese sielkundige, sê: “Dit kan lewensveranderend vir ’n persoon wees om te hoor: “Ek sien jou raak en ek sien dat jy swaarkry. Dit lyk vir my of jy hulp nodig het. Hoe kan ek help?”
Die begin van daardie gesprek kan ook die weg na moontlike hulp en oplossings baan. Die normalisering van mans as mense met emosionele belewenisse van hul wêreld kan dit moontlik maak vir hom om aan sy vrou, vriend, predikant of werkgewer te sê dat hy swaarkry en hulp nodig het, voeg sy by. “Dit is noodsaaklik dat mans hulself as doeners én voelers herdefinieer.”
Lees ook: 12 tekens wat wys dat jou depressie beter is
Kry hier hulp:
Raadpleeg jou huisdokter, sielkundige of psigiater of bel ’n goeie vertroueling en praat oor jou selfdoodgedagtes of meld by die naaste noodgevalle-eenheid aan. Inligting kan ook by www.sadag.org en www.lifelinesa.co.za bekom word. Die South African Depression and Anxiety Group (SADAG) kan by 0800 121 314, geskakel word of stuur ’n SMS na 32312. Kontak Lifeline by 0861 322 322.
Lees ook: Alzheimersiekte: Kan jy dit keer?