Risikofaktore
Elke selfdood-risikogeval is kompleks met ’n eie dinamiek en individualiteit wat dikwels moeilik verklaarbaar is. Die volgende faktore verhoog die risiko, veral as daar meerdere risikofaktore teenwoordig is.
Lees ook: Lig jou kind uit depressie
• ’n Familiegeskiedenis of teenwoordigheid van depressie, angs, stres en psigiatriese toestande, en as iemand in die familie reeds selfdood toegepas het.
• Vorige selfdood-pogings.
• Blootstelling aan ander wat selfdood toegepas het, ook via die media.
• Onlangse ervarings van verlies of trauma.
• ’n Geskiedenis van trauma, misbruik, mishandeling of huislike probleme.
• Die kind sukkel om die eise van sy lewe te hanteer.
• Skolastiese/opvoedkundige probleme.
• Vrees vir mislukking en/of prestasiedruk: hoë eise wat hulle aan hulself stel, of ervaar ander aan hulle stel.
• Sosiale en verhoudingsprobleme, gevoelens van verwerping, sosiale isolasie en alleenheid. Die sosiale media verhoog soms gevoelens van isolasie: Ek het al die “maats” maar nie werklik naby-verhoudings nie. Of hulle vergelyk hulle met ander se glansvoorstellings van hulself.
• Teistering en boelie.
• Gebrek aan ondersteuning.
• Dwelm- en alkoholmisbruik.
• Toegang tot vuurwapens.
• Die onlangse gebruik van antidepressante, of die verkeerde medikasie.
Die gevaar van depressie is groter in die puberteitsjare. Depressiewe kinders verstaan dikwels nie wat met hulle gebeur en hul gevoelens nie. Hulle het dikwels nie die emosionele woordeskat om hul gevoelens, wat nie vir hulle of ander sin maak, te verduidelik nie. Dié onvermoë verhoog gevoelens van magteloosheid. Kinders hou op praat as hulle voel hulle word nie gehoor en verstaan nie. Selfdood is ’n oplossing en uitweg uit die hel van ’n lewe waarvoor hulle nie kans sien nie; ’n lewe wat nie meer die moeite werd voel nie. Dit kan ook ’n impulsiewe daad wees weens ’n angstoestand wat hulle op ’n gegewe oomblik heeltemal oorweldig.
Gevaartekens
• Gevoelens van leegheid, hopeloosheid, hulpeloosheid, uitsigloosheid en skuld.
• Depressiewe gemoedstoestand, hartseer of angstigheid.
• Stel nie meer belang in stokperdjies of sportaktiwiteite nie.
• Min energie en lusteloosheid.
• Onttrek hulle aan familie en vriende.
• Kan nie meer die eise hanteer wat gestel word nie.
• Verandering in slaappatrone of slaapsteurnisse.
• Verandering in eetpatrone: gewigsverlies of -toename.
• Gedagtes aan dood of selfdood, en sê dinge soos: “Die lewe is nie meer die moeite werd nie”, of “Dit sal beter wees as ek dood is”.
• Rusteloosheid, prikkelbaarheid, irritasie of woede.
• Sukkel om te konsentreer, besluite te neem, geheueprobleme, kla oor verveeldheid.
• Skoolwerk gaan agteruit.
• Min aandag aan persoonlike netheid en versorging.
• Kla oor fisieke simptome soos hoofpyn, maagpyn of naarheid sonder ’n mediese oorsaak, of wat nie op behandeling reageer nie.
• Kom disgeoriënteerd voor.
• Rebelse gedrag en loop weg van die huis.
• Hou niks daarvan om geprys te word nie, of wil nie dinge van ander ontvang nie.
• Gee eie besittings weg.
Lees ook: Gevaartekens onder tieners
Gevaartekens is so moeilik om raak te sien omdat veranderinge dikwels amper onmerkbaar en met verloop van tyd ontwikkel. Kinders, veral seuns, se simptome is dikwels gemasker en lyk na rebelsheid, ongemotiveerdheid of luiheid. Hulle is moeilik, negatief, argumenteer oor alles, doen niks en wil nie saamwerk of leer nie. Sommige kinders ontvlug dan via elektroniese media, slaap of ruil dag en nag om omdat hulle nie vir die eise van die dag kans sien nie.
Jonger kinders kla dikwels oor maagpyn, of het ander klagtes sonder ’n mediese oorsaak. Hulle is klouerig, wil nie skool toe gaan nie, of raak vir die geringste dingetjie emosioneel oorspoel. Hulle sukkel om tuis skolasties en sosiaal te funksioneer. Die feit dat hulle wel soms sekere dinge geniet of presteer, mag nie ’n diagnose uitsluit nie.
Ouers moet hul aanvoeling en bekommernisse vertrou.
As ’n kind sukkel of sy gedrag verander, gee dadelik aandag daaraan en soek oplossings. So kan depressie en ’n tragedie voorkom word. Moenie emosies en ervarings ontken en afmaak as oordrywing, manipulering, vermyding van verantwoordelikhede, stoutigheid of “normale” tieneroptrede nie. Dit verhoog gevoelens van hopeloosheid en isolasie.
Betrek die kind by aktiwiteite en help hulle om deel te wees en uit te kom, sonder om te veel eise te stel.