Hoekom is hierdie een van die heel belangrikste gesprekke wat ’n ouer met ’n kind moet hê?
“Dis ouers se reg, plig en voorreg om hul kinders oor die seksuele en verhoudings in te lig. ’n Kind moet, ook as dit by die seksuele kom, by sy ouers leer wat reg en verkeerd, normaal en abnormaal, aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. Norme en waardes moet in die ouerhuis aangeleer word. En moenie die fout maak om te dink jy kan net voorsê nie – jy moet ‘voorleef’!
“Seksuele opvoeding is nie die verantwoordelikheid van die staat, skool of kerk nie, hoewel hierdie instellings almal ’n sinvolle en noodsaaklike bydrae kan maak.
“Die verkeerdste plek vir ’n kind om van seks te leer is in die media en deur hul portuurgroep. In die portuurgroep word dit letterlik ’n saak van een blinde wat ’n ander blinde lei! In opvoeding gaan dit juis daarom dat daar vir ’n kind grense gestel word; dat hy of sy weet dat gedrag, in hierdie geval seksuele gedrag, binne ’n spesifieke ruimte en grense geskied.
“Jou seksualiteit is deel van jou wese en moet daarom, in ’n ideale wêreld, gevorm en geplooi word binne die beskermde ruimte van gesonde gesinsverhoudinge.”
Wanneer is die regte tyd vir so ’n gesprek?
“Seksuele opvoeding is meer as net inligting gee. Daar is daarom nie een spesifieke dag of tyd daarvoor nie. Ek dink dit begin by die wieg en eindig by die graf.”
Waar (en wanneer) begin jy hierdie gesprek? Wag jy tot hy of sy dit ophaal, of begin dit jare vroeër?
“Jy begin deur die regte name vir geslagsorgane te gee en dan vir die kind te verduidelik dat dit persoonlik en privaat is, maar beslis dat daar niks vuils en verkeerd daaraan is nie.
“As ’n klein kind sy of haar eie liggaam begin verken en so ook die geslagsorgane ontdek en stimuleer (masturbasie), moet dit korrek hanteer word. Dit sou verkeerd en ongesond wees om vir die kind iets te sê soos ‘as jy dit weer doen, gaan dit afval’ of ‘dis stout/ lelik/vuil of verkeerd’. Sê liewer iets soos ‘dis oukei, maar doen dit as jy alleen is, sonder toeskouers en met jou eie hande. Dis nie iets waarmee iemand jou mag help nie’.
“’n Kind moet ook rondom die seksuele bemagtig word. Hulle moet weet jou geslagsorgane is nét joune, en niemand anders het die reg om daarna te kyk of daaraan te vat nie, tensy mamma of pappa help met bad of toilet toe gaan, of ’n dokter daar moet ondersoek omdat jy dalk iets daar makeer.
“En sê ook dat mamma of pappa moet by wees as iemand soos ’n dokter daar wil kyk. Leer jou kind om dadelik vir julle te kom sê as enigiemand anders (man of vrou, familie of vreemdeling) daaraan wil vat of daarna wil kyk.
“Die grootste probleem met molestering is dat die kind gedreig word dat iets aan die kind of aan een van sy geliefdes gedoen sal word as hy sou uitpraat. Of natuurlik word daar gesê dis ’n spesiale geheim waarvan niemand anders mag weet nie.
“Ouers moet tot elke prys probeer keer dat ’n kind in so ’n situasie beland, maar maak ook doodseker dat jou kinders weet dat hulle met jou mag en moet praat as hulle wel so iets slegs oorkom. Hou die kommunikasiekanale altyd oop.”
Het jy praktiese raad oor die hoe, waar en wanneer van ’n gesprek oor die seksuele? Moet jy byvoorbeeld ’n groot ding daarvan maak as jou dogtertjie begin menstrueer? Of hanteer jy dit soos iets alledaags?
“Ek dink dit moet as iets alledaags hanteer word. Dis te laat vir ‘die gesprek’ ná die eerste maandstonde. ’n Kind moet voorbereid wees op dinge soos eerste maandstondes en nat drome, anders kan dit as ’n skok kom, baie negatief ervaar word en met skuldgevoelens gepaardgaan.
“Daar is niks daarmee verkeerd om die man-word/vrou-word te vier nie, maar dit mag nie vir die kind ’n verleentheid of ongemaklike situasie word nie. Onthou, as kinders puberteit bereik, word hulle vreeslik selfbewus oor hul veranderende liggame, en is hulle baie meer emosioneel as gewoonlik weens al die hormonale veranderinge.
“Daarmee saam worstel hulle om ’n volwasse identiteit en onafhanklikheid te bekom. Dit moet met kalmte, begrip en rustigheid hanteer word. In hierdie tyd raak hulle ook meer krities teenoor hul ouers en bevraagteken baie keer hul gesag. Onthou dus maar die gesegde ‘rules, without relationships, will end in rebellion!’ Dit is soveel beter om van kleintyd af aan hierdie verhouding te bou.”
Goed, nou by ons almal se groot vraag: hoeveel detail is nodig? Wat as jy veel meer detail gee as wat jou kind eintlik verwag het?
“’n Bybelse, maar eintlik ook ’n universele beginsel is: ‘die waarheid maak jou vry’. Feite op die regte tyd en in die regte hoeveelheid het nog nooit skade gedoen nie. Halwe waarhede, menings en mites en ’n gebrek aan feitekennis het al baie skade gedoen. ’n Klein kindjie is soos ’n spons. Alles wat na sy of haar kant kom, word opgeneem tensy daar ’n filter is waardeur dit eers filtreer kan word.
“Daardie filter moet die feitekennis en die houdings, waardes en norme wees wat die kind van sy ouer ontvang het. Dan sal kinders dinge wat oorspoel van die portuurgroep of media, kan vergelyk met wat hulle reeds as basis het en dan sal hulle dit kan aanvaar of verwerp. As hul kennis en waardes en houding in plek is, kan hulle enigiets meer krities evalueer en ook bevraagteken.
“Dis baie belangrik dat die kind se verhouding met die ouer van so ’n aard is dat hy/sy die vrymoedigheid het om enige tyd ’n vraag te kan vra of ’n probleem te kan bespreek.”
Hoe gemaak as ’n ouer skaam is, of nie heeltemal in voeling met sy/haar eie seksualiteit is nie?
“Jy sal maar net jou skaamte op ’n manier moet oorkom en jou verantwoordelikheid begin nakom. Daar is geen verskoning om nie vir jou kind ’n behoorlike seksuele opvoeding te gee nie. Jy kan hulle ook nie in watte toedraai of in ’n glaskas probeer hou nie, want hulle gaan op baie maniere aan die seksuele blootgestel word. Hulle sal daarop voorberei moet word met die korrekte feite en ’n stel waardes en norme.
“Ek het nie spesifieke boeke of video’s wat ek aanbeveel nie, maar daar is baie beskikbaar. Maar ’n ouer mag nooit ’n boek of ’n video beskou as ’n alternatief vir gesprekke nie. Dit is slegs die aanknopingspunt, en het baie meer waarde as dit voor en na die tyd bespreek word.
“Onthou ook dat kinders se persoonlikhede verskil. Een kind kan ’n gesprek onder vier oë hanteer, terwyl ’n ander kind gemakliker sal wees as daar nie oogkontak is nie, soos in ’n motor op pad iewers heen, of langs die viswater. Korrespondensie per brief of e-pos mag vir ander ouers en kinders weer die ys breek en die manier van kommunikeer wees.”