Seekospotjie
Ingredients
- Hierdie seekospotjie is binne ’n halfuur gereed. Skep die seekos dadelik uit die swartpot, want dit kan die sous laat verkleur. Sit voor met krakerige brood en ’n groenslaai.
- 1 kg gemengde skulpvis soos mossels en garnale, skoongemaak
- sout
- 15 ml (1 e) olyfolie
- 15 ml (1 e) botter
- 1 middelslag-prei, gewas en in ringe gesny
- 1 groot ui, in klein blokkies gekap
- 1 knoffelhuisie, gekneus en fyn gekap
- 30 ml (2 e) koekmeel
- 250 ml (1 k) melk
- 250 ml (1 k) room
- 125 ml (½ k) bier (drink die res!)
- bouquet garni: 6 pietersielietakkies, 2 tiemietakkies en ’n lourierblaar, vasgebind met kombuistou
- 500 g baba-aartappels, halfgaar gekook
- ’n knypie neutmuskaat
- 700 g vars vis soos monkvis, koningklip of rooi roman, in filette gesny en grate verwyder
- ’n hand vol gekapte vars pietersielie en dille
Instructions
1 Gooi ’n bietjie water in ’n groot swartpot met ’n deksel. Laat kook die water, geur met sout en sit die mossels en garnale in die kokende water. Bedek en laat die skulpvis vir sowat 5 min. gaar stoom. Die garnale verkleur helder pienk wanneer hulle gaar is.
2 Haal die skulpvis uit maar hou die vloeistof. Gooi die mossels weg wat nie oopgegaan het nie.
3 Verhit die olie en botter in ’n kastrol en soteer die preie, uie en knoffel daarin tot sag. Roer die meel by en soteer vir nog ’n minuut of twee. Gooi die melk, room en bier by.
4 Sit die bouquet garni en halfgaar aartappels by. Geur met sout, peper en neutmuskaat. Bedek en prut tot die aartappels heeltemal gaar is.
5 Pak die visfilette op die aartappellaag, sit die deksel op en stoom vir 5-7 min. tot gaar. Sit die skulpvis weer by, roer deur.
6 Laat die potjie nét opkook en haal van die hitte af. Proe en geur weer. Strooi die vars kruie oor en sit dadelik voor met vars brood.