Sasha-Lee Laurel Olivier – verdediger van die mensdom deur Zoë Salzwedel. Hooffoto: verskaf
Sasha-Lee Laurel Olivier – verdediger van die mensdom
Die Mej. Suid-Afrika naaswenner, Sasha-Lee Laurel Olivier, is Woensdag (15 Januarie 2020) amptelik as die nuwe Mej. Suid-Afrika gekroon.
Dít volg nadat Zozibini Tunzi in Desember verlede jaar in Atlanta, Georgia, as Mej. Heelal gekroon is. Sasha neem nou amptelik Zozi se pligte as Mej. Suid-Afrika 2019 oor.
Ons het die geleentheid gekry om met Sasha te gesels, en die mens agter die pragtige glimlag en die groot drome beter te leer ken.
Hier is jou nuwe Mej. Suid-Afrika:
1. Wat is jou grootste wens of droom vir Suid-Afrika?
My grootste droom vir ons land is om ‘n stadium te bereik waar niemand ooit weer hoef te sê #MeToo nie. ‘n Tyd waar ons in ‘n samelewing kan woon waarin almal veilig kan wees en voel, en waar elke persoon – hetsy man of vrou, straatveër of sakeman, swart of wit – ‘n gelyke kans staan en gelyk behandel sal word.
2. Wat beteken die Mej. Suid-Afrika-titel en platform vir jou?
Dié platform bied vir my die geleentheid om te bou aan die nalatenskap van die sterk vroue wat voor my die kroon gedra het. En hoewel dié vir my vreeslik baie beteken, dink ek dit beteken soveel meer vir die mense wat ek verteenwoordig. Vir my om hier te kan staan as die nuwe Mej. Suid-Afrika, laat styg my teenwoordigheid uit bo die kwessies van seksuele geweld en die term “plus size”. Ek dink mense kan maklik by my aanklank vind, juis omdat ek veerkragtig is. En ek dink veerkragtigheid is een van die dinge wat ons só nodig het – nie net as land nie, maar ook as mensdom.
3. Wat wil jy graag bereik tydens jou termyn as Mej. Suid-Afrika?
Ek wil baie graag die gesprekke voer wat ons as nasie nalaat om te hê. Veral rondom kwessies van trauma, en meer spesifiek die nagevolge daarvan. Ek dink trauma is een van die grootste werklikhede wat Suid-Afrika tans in die gesig staar, en dis beslis iets waaraan ek baie graag aandag wil gee – nie nét deur daaroor te praat nie, maar ook om oplossings te vind en verdere inisiatiewe te implementeer wat ‘n meetbare verskil in Suid-Afrikaners se lewens kan maak.
4. Wat het jou laat besluit om deel te neem aan Mej. Suid-Afrika?
Wat my elke oggend uit die bed uit kry, is ‘n diep begeerte om die betekenis van my naam uit te leef. Sasha beteken “verdediger van die mensdom”, en ek dink die Mej. SA-platform en organisasie se missie val perfek in lyn met my persoonlike missie. Daarom het ek gevoel dat dit die volgende beste keuse vir my toekomsdroom sou wees.
5. Vertel ons meer oor jou #ItsNotYourFault-veldtog.
My veldtog is om mense wat seksuele gewel oorleef het, te bevry en te vier.
Tans is die hartseer werklikheid in Suid-Afrika dat daar elke 26 sekondes ’n slagoffer van seksuele geweld is. Net soveel soos wat dit ‘n werklikheid in ons land is, is dit ‘n probleem wat grense oorskry. Ek dink daar is heelwat inisiatiewe wat gerig is op die fisiese aard van seksuele aanranding, maar daar is nie baie wat gerig is op die nagevolge van die trauma en die emosionele ondersteuning van slagoffers nie. Ek het gevoel daar is ‘n leemte hier, is, en dis die rede waarom ek my veldtog begin het.
Dis nodig vir slagoffers van seksuele geweld om te hóór dat dit nie hulle skuld is nie. Ons is hier om die kettings van stilte, skaamte en vrees te breek – dis die eerste en belangrikste stap in die genesingsproses vir enigeen wat dié traumatiese beproewing oorleef het.
6. Jy het kragte saamgespan met Penny Stein en die Angel Network om seksuele geweld “hot spots” the identifiseer en troospakkies te verskaf vir die slagoffers van verkragting. Waaruit bestaan dié troospakkies? En op watter maniere kan die gemeenskap of individue bydra tot so ‘n projek?
Die troospakkies dien twee doele. Hoofsaaklik help dit veral om die werk van die individue of professionele persone wat direk met die slagoffers werk, makliker te maak. Dit help die persoon – wat byvoorbeeld die verklaring moet neem of die mediese ondersoek moet doen – in die sin dat dit dié pakkie vir die slagoffer ʼn klein bietjie troos bied. Dit kan ‘n baie traumatiese proses wees vir iemand wie se vertroue en persoonlike grense pas geskend is, om die sekondêre trauma te moet deurmaak, daaroor te praat of die mediese ondersoek deur te gaan. Dit maak die werk dus baie makliker vir hierdie professionele persone.
Tweedens is dit ‘n “waardigheid-pakkie”. Dit voorsien die slagoffer van ‘n bietjie waardigheid en beklemtoon die feit dat dit nié hulle skuld is nié!
Weens die onmenslike, traumatiese ervaring wat hulle pas oorleef het, is daardie bietjie produkte en ‘n skoon stel onderklere ‘n noodsaaklikheid. Maar dit is veel meer as nét ‘n pakkie met ‘n bietjie toiletware!
Mense kan by dié spesifieke veldtog betrokke raak deur R120,00 aan die #ItsNotYourFault-veldtog te skenk.
Onthou altyd: R120 gaan ver wanneer dit gebruik word om vir iemand sy waardigheid terug te gee.
Klik hier om ’n troospakkie te skenk.
7. Jou passie lê in sosiale ontwikkeling. Wat is na jou mening die drie belangrikste pilare om ‘n bewuste samelewing te skep wat gefokus is op die verbetering van Suid-Afrika se sosiale ontwikkeling en opvoeding?
So die eerste (en in my opinie, die belangrikste) is bewustheid – bewustheid oor presies hoe belangrik jou storie is. Ons huidige sosialiseringsproses is juis dit wat die aanvaller teel en die slagoffer stilmaak. En dink deur leiding van ons eie storie (lewe) te neem, verstaan ons juis beter waarom ons optree soos ons optree, en waarom ons sekere gedrag op die samelewing projekteer.
Tweedens, om op ‘n plek te kom waar ons probleme kan identifiseer in die konteks van wat dit is, en nie wat ons dínk dit moet wees nie. Oppervlakkig lyk die kwessies rondom opvoeding dalk na die infrastruktuur of onderwysers wat nie die belangstelling of motivering het om hulle werk te doen nie … Maar die kwessies rondom opvoeding is nie opvoeding op sigself nie, maar ‘n komponent van opvoeding: leer. En leer strek baie wyer as nét ‘n klaskamer. En gegewe ons sosiaal-ekonomiese status, is dit nie bevorderlik vir leer nie. Want die leerders voel nie veilig nie.
Die brein se primêre funksie is oorlewing. Leer kom tweede. So ek voel dat ons as ‘n samelewing daarop moet fokus om ons kinders (ons leerders) veilig te laat voel sodat hulle makliker kan leer.
En laastens: aksie! Dit is een ding om oor die kwessies te praat en bewusmaking te skep, maar dis iets heeltemal anders om dit toe te pas. Ons moet ‘n stadium bereik waar ons (as land) die korrekte beleid en inisiatiewe in plek het om sosiale ontwikkeling te verbeter.
8. Beskryf jouself in drie woorde
Veerkragtig
Optimisties
Empaties
8. Wat is die grootste les wat die lewe jou geleer het?
Ek het geleer dat dit alles gaan oor volharding in die gesig van teleurstelling. Jy gaan nie altyd wen nie, en jy gaan nie die heeltyd gevier word nie … Maar met geduld, ‘n goeie hart en harde werk, sal jy jou doel bereik.
9. Wie is jou grootste rolmodel en hoekom?
Beslis Oprah! Sy’t my geleer “teenspoed kweek sukses” en dat die donkerste oomblikke in jou lewe, lewe kan gee aan groter en beter geleenthede.
10. As jy ‘n tydmasjien kon hê, en die tyd kon terugdraai, wat sou jy vir die 12-jarige Sasha-Lee sê? En hoekom?
Jy sal slegs die waarde van ‘n stelling verstaan as jy die nodige ervaring gehad het – dinge sal sin maak wanneer dit moet.
11. Jy wil die definisie van wat dit beteken om mooi te wees, herdefinieer. Waarom is dit so belangrik vir jou?
Dis belangrik want ons kan nie meer funksioneer in die grense van wat “is” nie. Ons moet opdaag en ons eie parameters skep – own your space! En hoewel sekere markte spesifieke “looks” vier, hoort ons almal hier.
12. Jy praat nog altyd openlik oor die feit dat jy ‘n slagoffer van seksuele mishandeling is. Waar het jy die moed gevind om wel daaroor te praat en vir ander mense van jou traumatiese ervarings te vertel. Op watter oomblik in jou lewe het jy besef dat dit nie jou skuld is nie, en dat jy nie hoef te skaam te voel óf jammer te sê nie?
Ek dink moed is om op te “doen” ten spyte van vrees. Jy sal altyd bang wees, maar in my geval, doen jy (praat jy) ten spyte van bang wees omdat dit verder gaan as net jouself – jy verteenwoordig die mense soos jy. Ek het gevoel dat dit my plig is om die stem te wees vir diegene wat nóg nie hulle eie stem kon vind nie.
In terme van die tweede deel van jou vraag: die oomblik toe ek werklik besef het dat dit nie my skuld is nie. Iets waaraan ek myself steeds voortdurend moet herinner. Deur myself dikwels te herinner (en weer eens te besef) dat dit nie my skuld is nie, is net nog ‘n teken van die konstante proses van genesing.
13. Watter raad sou jy aan iemand gee wat seksueel mishandel word, maar te bang is om daaroor te praat?
Die belangrikste woorde is en bly “Dis nie jou skuld nie!”
Eers wanneer jy die punt bereik waar jy dié woorde werklik besef en glo, sal jy sterk genoeg wees om hulp te vra en daaroor te praat. Dit ís en bly die belangrikste tree tot genesing.
14. En laastens wil ons graag weet, wanneer jy eendag oud is en oor jou lewe terugkyk, hoe moet jou legacy lyk?
In my opinie is ‘n legacy iets wat so verreikend en betekenisvol is dat ons dit nie noodwendig altyd werklik kan begryp of in woorde kan omskryf nie. Ons kan dit nie kwantifiseer nie, want dit is duidelik in almal se lewens wat ons aangeraak het. Dis vir my die heel belangrikste om die idee te skep dat absoluut niks onmoontlik is nie. En ook dat jy altyd moet onthou dat die donkerste tye in jou lewe, lewe kan gee aan van die wonderlikste tye.