Hooffoto: Facebook/Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI) bied hierdie Maart gratis toegang tot al sy tuine regoor Suid-Afrika.
Hierdie geleentheid bied besoekers gratis toegang tot die land se diverse en asemrowende landskappe en is ter viering van Nasionale Tuineweek, wat van Maandag, 10 Maart tot Sondag, 16 Maart vanjaar sal plaasvind.
Die week is die ideale geleentheid vir gesinne, natuurliefhebbers en welstand-entoesiaste om bewaring te ondersteun en die land se ryk biodiversiteit te waardeer.
Volgens The South African kan besoekers ook interaktiewe aktiwiteite verwag wat ontwerp is om ‘n liefde vir die natuur aan te wakker.
Vanjaar se tema, ‘Grow Your Joy’ moedig mense aan om die positiewe en genesende kragte van die natuur te omhels.
Nontsikelelo Mpulo, Direkteur van Bemarkingskommunikasie en Kommersialisering by SANBI, het gesê besoekers kan uitsien na ‘n reeks aktiwiteite. Dit sluit daaglikse tuintoere, plantverkope by verskeie kwekerye, parkwedrenne, joga-sessies, tuinmaaktegnieke en ‘n Art in the Park-geleentheid in.
“Of jy nou deur een van ons tuine stap of aan een van die vele aktiwiteite deelneem, Nasionale Tuinweek is ‘n kans om jou vreugde te laat groei en die genesende krag van die natuur te omhels,” het sy bygevoeg.

Walter Sisulu Nasionale Botaniese Tuine
Volgens die SANBI sal die volgende tuine gratis oop wees tydens Nasionale Tuineweek:
- Walter Sisulu Nasionale Botaniese Tuin
- Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin
- KwaZulu-Natal Nasionale Botaniese Tuin
- Karoo Woestyn Nasionale Botaniese Tuin
- Pretoria Dieretuin
- Pretoria Nasionale Botaniese Tuin
- Harold Porter Nasionale Botaniese Tuin
- Laeveld Nasionale Botaniese Tuin
- Mokopane Biodiversiteitsbewaringsentrum
- Thohoyandou Nasionale Botaniese Tuin
- Vrystaat Nasionale Botaniese Tuin