1 Sny ’n doppie aan die bokant van die brood af. Hol die brood met jou vingers uit, sit die stukkies brood op ’n bakplaat en droog effens in die oond uit. Verwerk dit tot broodkrummels in ’n voedselverwerker (of sommer met jou hande). Jy het sowat 300 g broodkrummels nodig. Gooi 125 ml warm water oor die droë sampioene en laat staan om sag te word. 2 Braai intussen die spek in ’n groot pan tot bros. Haal uit en hou eenkant. Braai die sampioene in sarsies in dieselfde pan, haal uit en ook hou eenkant. 3 Braai die uie en knoffel tot sag en voeg die sampioene en spek daarby. Verhit die pan weer. Gooi die vloeistof van die droë sampioene by die sampioenmengsel. Sny die wildesampioene effens kleiner voor jy dit by die sampioene in die pan voeg. 4 Voeg die brandewyn, room, soja en tiemie by en kook effens af. 5 Geur met sout, peper en neutmuskaat. Meng die broodkrummels by die sampioenmengsel en proe of daar nie ’n bietjie sout kort nie. 6 Gooi olyfolie in die uitgeholde brood en smeer oor die kante. Vul die brood met die sampioen-en-brood-mengsel. Druk die mengsel plat sodat alles kan inkom en sit die brooddoppie op. 7 Draai die brood in kombuispapier toe en bind styf vas met kombuistou. Sit ’n bord met swaar blikkies oornag op die brood. 8 Sny die brood in dik skywe by die piekniek en skep die warm camembertsous bo-oor. Smul!
Warm camembert-sous
1 Meng die knoffel, mosterd, olyf-olie, asyn en heuning en hou eenkant. 2 Smelt die kaas in die room – sit sommer vir ’n paar sekondes in die mikrogolf. 3 Meng die kaas-en-room-mengsel met die res van die sous en geur na smaak. 4 Hou die sous in ’n warmfles en sit met die muffuletta voor.