Samara: Sielsafari deur Mariette Snyman. Foto’s verskaf tensy anders aangedui. Hooffoto David Swanepoel
Suid-Afrika bied ’n oorvloed eiesoortige ervarings van natuurskoon en wild, maar ’n onlangse uitnodiging om die Samara Private Game Reserve naby Graaff-Reinet te besoek het ’n nuwe wêreld voor my laat oopgaan.
Elke aspek van ons ervaring, van die verblyf tot die aktiwiteite, vloei organies voort uit ’n goedontwikkelde visie om die Groot-Karoo se fauna en flora tot hul oorspronklike glorie te herstel. Dié grootse ideaal verg liefde, respek en toewyding – waardes wat ons in aksie gesien het van ons aankoms tot met ons teësinnige vertrek.
Die droom
Op www.samara.co.za lees jy hoe die stigters, Mark en Sarah Tompkins, aangegryp is deur verhale van die migrasie van letterlik miljoene springbokke, wildebeeste, elande en (nou uitgestorwe) kwaggas op die vlaktes van die Kamdeboo voor dit deur landbou ingeneem is. Stel jou die heel grotes, soos olifante en renosters, en roofdiere soos leeus, hiënas en jagluiperds in verbysterende getalle voor.
Sedert 1997 het die Tompkins-familie elf plase opgekoop, die land laat rus, uitheemse plantegroei onder beheer gekry, inheemse plantegroei begin hervestig en stelselmatig diere eie aan die gebied terugverwelkom, onder meer die eerste jagluiperd in die gebied in 125 jaar.
Om sosiale betekenis aan hul projek te verleen, het hulle twee lodges daargestel wat saam ’n maksimum van 26 gaste huisves. In die skadu van die platorand, op ’n uitgestrekte gebied omring deur berge, wag stylvolle verblyf:
- Karoo Lodge, voorheen die oorspronklike plaashuis, is luuks op ’n subtiele, onopdringerige manier. Jy voel eenvoudig tuis. Dieselfde geld die diens – hier het ons die bedagsaamste optrede ervaar, dikwels sonder dat jy eens agterkom iemand sien na jou om.
- Die eietydse vyfster Manor House is ’n villa met vier dubbelsuites wat ook eksklusief bespreek kan word.
Al is die verblyf hóé aangenaam (smaaklike maaltye en versnaperinge, veral die gebak wat smiddae bedien word, laat jou eet tot jy nie meer kan nie) bied die lodges die wegspringplek vir die eintlike pret: twee wildsritte of staptogte per dag.
Tydens ons twee dae by Samara is ons aan wildbewaarder en -kenner Benedict Phepheng en spoorsnyer Jason Williams toegewys. Dis sinvol om elke keer saam met dieselfde span die veld in te ry, want jy bou ’n vertrouensverhouding wat jou ervaring van die wildernis kleur. Jy leer gou jy kan ontspan, watter diere ookal naby die oop safarivoertuig mag wees of hoe steil die klipperige opdraand of afdraand ookal raak!
Die twee manne se passie vir die veld, respek vir die diere – van heel klein tot heel groot – en kennis het ons ritte oneindig verryk. Ben het elke enkele vraag beantwoord, en die mooiste was sy vertelling oor die shepherd’s tree of witgatboom eie aan hierdie droë gebied. Die San het vroeër glo die elande gevolg en onder meer van hulle melk gebruik. As elandherders kon hulle onder hierdie uitsonderlike bome rus, waarvan die oudste een al 800 jaar op sy plek staan.
In jagluiperdhemel
Voor ons besoek het ons gelees “tracking cheetahs on foot” is ’n tipiese Samara-belewenis is, maar ons het nooit verwag dat die voorreg óns te beurt sou val nie. Van die jagluiperds dra elektroniese nekbande, en een middag het die safarivoertuig stilgehou aan die voet van ’n koppie waarop ses pare jagluiperdoortjies te siene was: Chilly, die ma, en haar vyf welpies (sowat 18 maande oud en meer tiener as enigiets anders, het dit vir ons gelyk).
Ons is te voet na die groepie, in enkelgelid sodat hulle kon sien wie en wat nader kom. My keel het van angs toegetrek, maar aan Ben en Jason se rustige optrede kon ek sien alles is in orde. Die jagluiperds jag self en verbind mense nie met kos nie. Hulle is van kleins af gewoond aan die teenwoordigheid van mense, maar is nie mak nie; elke spesie hou sy afstand. Hierdie ervaring van wedersydse aanvaarding en respek tussen mens en dier het my aan die hart gegryp.
Ons het twee uur lank agter en soms tussen die ses roofdiere gestap. Hulle spin soos katte(!), is speels, en praat met voëlgeluidjies met mekaar. In ’n stadium het Chilly koers gekies en toe ons weer sien, is sy aan die voet van die koppie besig om ’n verloopte waterbokkalf te bekruip. Daar was egter te min plantegroei om agter te skuil. Die welpies het hul eie rigting ingeslaan en ons het by hulle probeer byhou. Dit was fassinerend om hul liggaamstaal te sien toe ’n trotse koedoebul skielik naby hulle verbyloop. Hulle ma leer hulle nog om te jag, het Ben verduidelik, en hulle sou eers later vir hulself begin sorg. Na ’n lang ruk het Chilly moed opgegee met die waterbokkalf en haar welpies geroep.
Hierdie ervaring bly lank in jou lê. Vir my, wat van kleins af ’n heilige vrees vir wilde diere het, was dit ’n ongekende ervaring om saam met drie ander mense in die wildernis te stap, met niks by ons nie behalwe ’n selfoon. Ek het volkome veilig gevoel, nie net omdat ons begeleiers die veld ken en ’n goeie idee het van die wild in die reservaat se bewegings nie, maar omdat die respek wat in Samara heers byna tasbaar is.
Twee ander baie spesiale wildsritbelewenisse was om ’n bosvark vlugtig te sien – hulle is baie sku – en Samara se leeumannetjie uitgestrek langs die heining met die naburige wildsreservaat. Anderkant die heining het die leeumannetjie se spieëlbeeld gelê. Die twee mannetjies kom van dieselfde wildsplaas en daar word bespiegel dat hulle broers is. Dit was ’n emosionele ervaring om die twee kraagmannetjies dop te hou: as een sy groot lyf omdraai en in ’n ander rigting kyk, volg die ander een kort voor lank sy voorbeeld. Op die oog af tevrede in mekaar se geselskap, en tog deur ’n onoorkombare skans geskei.
Kinders welkom!
Samara neem die kweek van bewaringsbewustheid onder die volgende geslag ernstig op. Hoewel kinders onder agt nie op gewone wildsritte toegelaat word nie (tensy spesiale reëlings getref word) is daar gratis ouderdomsgepaste aktiwiteite en kindervriendelike ritte beskikbaar. Tieners het hul eie bewaringsprogram. Een nuutjie is die Clan Adventure-pakket, vyf dae se sorgvuldig beplande bewaringsaktiwiteite vir ’n groep, wat dikwels ’n paar generasies insluit. Vir ouers wat rus broodnodig het, is daar ’n baba-oppasdiens.
Ander besonderse ervarings wat gaste kan aanvra, is ’n romantiese middagete in (ja, in!) die rivier, ’n wildernispiekniek of masserings. ’n Paartjie kan ook in die veld oornag – stel jou voor, net jy en jou geliefde in ’n hemelbed onder die wye sterrekoepel. Daar is natuurlik geen ander plek waar jy die melkweg só helder sien nie.
Interessant
- Die gebied sluit vier plantbiome in, onder meer bedreigde grasland. Die diversiteit van die landskap slaan jou asem weg.
- Samara vorm vennootskappe met niewinsgewende organisasies, universeite, regerings, maatskappye en individue wat hul visie deel.
- Samara is die tuiste van die Tracker Academy, ’n afdeling van die SA Kollege vir Toerisme en geborg deur die Rupert Familietrust. Dis die eerste in sy soort in Suid-Afrika en elke jaar kwalifiseer 16 spoorsnyers sodat die kuns van spoorsny nie verlore raak nie.
Besoekers aan Samara kan gerus wees dat elke Rand teruggeploeg word in die oorkoepelende bewaringsvisie: om saam met ander belanghebbendes ’n selfonderhoudende ekosisteem van 1.3 miljoen acre te skep, die derde grootste bewaringsgebied in Suid-Afrika – ons eie Global Biodiversity Hotspot.
Meer inligting by 031 262 0324, [email protected] of www.samara.co.za – let op spesiale aanbiedings. Samara is 40 minute per motor van Graaff-Reinet en net onder 3 uur van Port Elizabeth.
Lees ook: Samara, die warm hart van die Karoo