Salma Hayek is asemrowend mooi. Sy het ’n Grace Kelly-mond, gladde karamelkleurige vel, ’n welige bos hare en ’n lyf wat skrik vir niks. ’n Mens kan byna nie ophou om na haar te kyk nie. Maar wanneer sy begin praat, vergeet jy hoe sy lyk. Daar skuil ’n flink brein agter daardie donker oë. En sy is dapper. Sy het eers regtig bekendheid verwerf vir haar rol as Frida Kahlo in Frida (2002). Sy is afgekeur vir die hoofrol, maar “nee” bestaan nie in haar woordeskat nie. Sy het Mexiko toe gevlieg, die regte bekom om Frida se skilderye in die fliek te gebruik en het die Frida toe self vervaardig en daarin gespeel. Sy is met die Franse miljardêr François-Henri Pinault getroud en hulle het ’n dogter, Valentina Paloma.
Jou loopbaan as aktrise het nie so seepglad begin soos kan dink nie. Watter uitdagings sal jy sê het jy in loopbaan en persoonlike lewe oorkom?
Daar is so baie. In die fliek From Dusk ‘til Dawn moes ek met ’n reuse slang om my nek dans. Ek het ’n slang-fobie en nou moes ek met my grootste vrees dans. Ek het ’n bietjie navorsing gedoen en gelees dat ’n slang in sommige kulture as ’n simbool van jou innerlike krag beskou word. Ek het begin werk met die idee dat ek met my innerlike krag gaan dans.
Ek was bang vir ’n klomp dinge in my lewe: bang vir die donker, so bang dat ek met die ligte aan geslaap het; bang om te trou. Ek is eers op 41 getroud. Ek en my man was drie keer verloof … (lag). Ek was bang vir die huwelik, want ek was bang ek misluk. Dit was die grootste vrees wat ek oorkom het.
’n Delikate vragie: Volgens ons rekords is jy in 1968 gebore?
Nee, 1966. Ek moet bieg: Vroeg in my loopbaan het iemand my oortuig om oor my ouderdom te jok. Ek dink ek het in drie onderhoude daaroor gejok. En ek is die slegste leuenaar in die wêreld! Wanneer ek jok, word ek betrap en wanneer ek nie betrap word nie, voel ek skuldig daaroor (lag).
Vanjaar is jy vyftig. Hoe voel jy daaroor?
Ek is baie oukei daarmee. Ek is baie bevoorreg – ek het ’n kind en is met die liefde van my lewe getroud. My hart gaan uit na vroue wat angstig oor die ouderdom voel, want ek het al iets daarvan ervaar. Ek dink dis dees-dae baie moeilik vir ’n enkelvrou of enkelma om vyftig te word.
Volg jy enige spesiale skoonheidsroetine? Hoe kry jy dit reg om so goed te lyk?
Ek gaan na ’n Japanse vrou, Makiko, vir gesigmasserings. Ek weet nie presies wat sy doen nie, maar sy en haar assistent trek en masseer my gesig totdat dit goed lyk. Sy het gister aan my gewerk. Dankie Japan, vir Makiko (lag).
Jou man, François-Henri Pinault, is ryk, invloedryk en Frans. Jy is so kreatiewe, onafhanklike siel. Hoe werk die verhouding?
En sexy (lag)! My man het baie selfvertroue. Hy is ’n feminis en dis vir hom vreeslik lekker wanneer dit met my goed gaan. Hy druk my om my bes te doen. Ek dink daar is twee soorte sterk en invloedryke vroue: dié wat voel hulle moet in alle omstandighede sterk en invloedryk wees, en ander, soos ek, wat voel dat jy sterk moet wees by die werk, maar by die huis is jy net jou man se vrou. Ek wil hê iemand moet na my omsien en die besluite neem. Dis vir my heeltemal genoeg om by die werk al die besluite te moet neem, ek wil dit nie by die huis ook doen nie.
Voel jy en jou man dieselfde oor die huwelik? Hoekom was jy so bang om te trou?
François glo ’n huwelik bestaan uit twee sterk pilare wat ’n tempel vorm. Om dit te laat werk het jy gelykheid nodig. Die een kan nie sterker of groter as die ander een wees nie, want dan sal die tempel ineenstort. Danksy dié filosofie werk ons verhouding. Jy moet jou eie, onafhanklike mens wees met jou eie identiteit, maar julle kan ook belangstellings deel. Ons is baie na aan mekaar, maar elkeen kan op sy eie bene staan.
Hoe voel jy oor ouerskap?
Ek glo jou kinders behoort nie aan jou nie. Hulle is die seuns en dogters van die lewe – ek moet dit soms oor en oor vir myself sê. Ek het al selfs ’n liedjie daarvan gemaak en nou kan ek dit nie uit my kop kry nie (lag). Soms terg ek vir Valentina en sê ek gaan eendag by haar intrek wanneer sy trou. Maar ek weet ek moet haar laat gaan.
Wie is die romantiesste? Jy of jou man?
Hy is baie romanties. Hy stuur vir my blomme wanneer ek dit nie verwag nie, soms wonderlike SMS’e, en ons eet steeds romantiese etes saam.
Is hy ’n goeie pa?
Ja, ’n baie goeie een. Ek is Mexikaans en oorbeskermend. En strenger as hy. Hy is ontspanne en spelerig, so daar is ’n goeie balans.
Het ma-wees jou verander?
Ek weet nie, want ek kan nie onthou hoe ek was voor ek Valentina gehad het nie (lag). Hulle gee jou nie tyd om daaroor te dink nie! Ek was nog altyd ’n ma. Ek was dit net vir ander mense se kinders of vir diere. Ek dink ook dis vanweë my Mexikaanse en Libanese agtergrond, ons word grootgemaak om die familie te versorg. Ek het my ouma tot haar dood versorg. Ek is nie seker nie, maar ek het ook omtrent dertig wegloopdiere by die huis. Hulle bly op ’n plaas, en hul versorging neem baie tyd in beslag. Dis hoekom ek nie meer soveel flieks maak nie (lag).
Wat is jul gunstelingkos?
My dogter is mal oor Mexikaanse kos, maar burgers en macaroni-en-kaas is ook baie gewild. Francois hou baie van Mexikaanse kos, maar hy is Frans, so ons meng maar tradisionele Franse en Mexikaanse kos. Op 4 Julie, Amerika se Onafhanklikheidsdag, dring Valentina op ’n hamburger en tjips aan waar ons ook al in die wêreld is.
Hoe het jy en Francois mekaar ontmoet?
Dis ’n baie lang, baie mooi en baie persoonlike storie. Ons moet wyn drink as ek dit vertel. Al wat ek sal sê, is dat hy my die eerste keer in ’n restaurant gesien het. Maar ek het hom nie gesien nie.
Hoe het hy jou oortuig om met hom te trou?
Hy het my vroeg in die verhouding al gevra om te trou. Maar ek het daarteen geskop, en elke verskoning in die boek uitgedink: Eers was dit “ek wil kinders hê en jy het al so baie”. Toe sê hy, “dis oukei, ons kan kinders hê”. Daarna het ek gesê ek wil nie in Frankryk bly nie, want ek het so hard aan my lewe en loopbaan gewerk en gestel die huwelik vou en ek het alles hier opgegee. “Jy hoef nie Frankryk toe te trek nie, maar trou steeds met my,” was sy antwoord.
Toe skop ek daarteen ook, want ’n mens moet tog saam wees. “Ek weet nie hoe ons dit gaan doen nie, ons sal iets uitwerk. Kom ons vat een dag op ’n slag en onderneem om getrou aan mekaar te bly,” was Francois se oplossing. En toe sê ek ja. En trek byna onmiddellik, nog voor die troue, Frankryk toe! (lag).