Dit is ’n vraag wat daagliks op duisende speelgronde en ook in kantoorgeboue en op sosiale netwerke gevra word – net op verskillende wyses.
Want, soos ’n mens ouer word, vereis die samelewing mos dat mens meer ongeërg en minder “asseblief” raak oor vriendskappe en verhoudings.
Ek het onlangs weer die voorreg gehad om met vriendinne te kuier met wie ek al ’n lang paadjie loop.
Die een vriendin woon tans in Kanada en ons sien mekaar bitter min. Maar, as ons die slag oor ’n koppie koffie by mekaar uitkom, is dit asof ons weer die blinkoog studente is wat vakansietye sakgeld in ’n boekwinkel verdien en tussen die rakke die lewe met ’n giggel, en soms ’n traan, probeer uitpluis.
Dit is eenvoudig een van daardie verhoudings wat met lojaliteit en lag en saamhuil en omgee en wedersydse vertroue ’n pad oopgetrap het deur bykans twee dekades.
Nog só ’n vriendin kom ook van universiteitsdae af en ons het in daardie selfde boekwinkel ook meer as klasmaats geraak. Na ons studentejare het ons in verskillende rigtings gegaan.
Nietemin het ons vriendskap deur die jare bly staan en soos die Voorsienigheid dit beskik het, het ons albei op Worcester beland. En, al veroorsaak werk en skool en gesinslewe dat ons nie daagliks mekaar se drempels deurtrap nie, weet ons dat ons daar is vir mekaar. Wanneer ons die slag om ’n koffietafel of met ’n glas wyn sit en kuier, Suster, kan hoor en sien maar vergaan!
Deur die jare het daar verskeie sulke vriende my pad gekruis. Daar is byvoorbeeld ’n pêl wat ten spyte van sy besige program, altyd tyd sal maak om ’n lukrake teksboodskap te antwoord – soms met ’n regte platjie-antwoord wat mens laat skater, dikwels met die nodige insig om mens weer op koers te kry.
Daardie pêlle by wie ’n halwe woord begrip kweek en wat nie sommer iets wat jy kwytraak teen jou sal hou nie, is goud en ’n hele maand se selfoondata werd.
Anders as familie, is vriende ’n keuse. Mens kies met wie jy vriende wil wees – en jou tyd, geselsies en hartsake mee wil deel. Spreuke 18 vers 24 sê: “Maats kan jou breek, maar daar kan ook ’n vriend wees wat nader is as ’n broer.”
’n Lojale vriend of vriendin wat jy volkome in jou vertroue kan neem, is van onskatbare waarde.
In ’n wêreld waar dit meestal van mens vereis word om reg op te tree en perfek te wees – weliswaar en ironies sonder om aanstoot te gee met jou onkreukbare reputasie en perfekte maniertjies – is dit ’n groot verligting as mens ’n vriendevangnet het wat, as jy dit die meeste nodig het, vir jou sê: “Dis oukei, jy is nét ’n mens. Ons is nietemin lief vir jou.”
Want, die meeste van ons is nié perfek nie. Ons knor soms. Ons skinner soms. Ons knor en skinner soms vir en met en oor ons vriende. En, dan wil ons hê daardie einste vriende moet steeds dink ons is “oukei”. Uit ervaring weet ek dit is nou maar eenmaal die knorriges wat juis vriende op daardie tydstip die nodigste het.
Ek gesels onlangs met ’n vriendin wie se lewe ’n ander geloofskoers ingeslaan het as myne. Terwyl ons verduidelik en debatteer en sommer net saamstem om te verskil, tref dit my weereens: Nie almal hoef soos jy te dink en te wees en op te tree, om jou vriend te wees nie. Solank daar die kernelement van vriendskap is: Respek. Respek vir jou vriend of vriendin se sienswyse, se optrede, se lewe en, seker die belangrikste van alles: respek vir sy of haar keuses.
Geeneen van ons stap presies dieselfde paadjie as ’n ander nie. Maar, as jy iemand die ruimte gun om bloot hom- of haarself te wees in die vriendskap, dan kan julle albei groei. Indien nie, is dit beter om die vriendskap te beëindig. Die lewe is eenvoudig net té kort vir wrokke en wrewelrigheid en konstante konflik.
My kinders vra my dikwels hoe dit was om “in die ou tyd te lewe”. Dan krap ek so bietjie my ou gryse kop en verduidelik aan hulle dat vriendskappe dwarsdeur jou lewe kom en gaan en jou kan vorm tot die mens wat jy is.
As jy op laerskool is en ’n maatjie skuif jou opsetlik uit die groepie, is dit netso seer as wanneer dit gebeur as jy ’n grootmens is.
As jou beste maatjie skielik besluit om eerder met die maatjie met die pienkhaar Barbie te speel en jou en jou gewone Barbies opsyskuif, is dit nié lekker nie. Al troos wieookal jou hóé.
Maar, soos die tyd aanstap, leer mens ook dat die lewe aangaan en dat daar sekere mense is met wie jy paaie gekruis het, wie se paaie in ’n stadium ’n ander koers inslaan as joune. En dis oukei.
Die predikant T. D. Jakes som dit mooi op: “People leave you because they are not joined to you. And, if they are not joined to you, you can’t make them stay. Let them go. And it doesn’t mean that they are a bad person, it just means that their part in the story is over. And you’ve got to know when people’s part in your story is over so that you don’t keep trying to raise the dead.”
Nou ja, wat betref die nie “a bad person” nie, kan mens seker ’n paar uitsonderings verwag… Soms is dit wel ’n geval van “Skoert, skynheilige!”
Die lewe is nie ’n gewildheidskompetisie om te kyk hoeveel vriende mens kan versamel nie. ’n Handvol lojale hartsvriende is meer as genoeg – solank jy die basis van vriendskap onthou en uitleef: Respek vir jouself en respek vir jou vriend se manier van dink, doen en lewe.
’n Laaste gedagte voor jy daardie vriend of vriendin wat jy koester en die laaste tyd afgeskeep het, oornooi vir koffie: “As iemand deel wil wees van jou lewe, sal hy of sy bewustelik moeite doen om deel te wees.”